TIENDEMAAND GELOOFSOFFER
Klik op die volgende skakel om die brief af te laai: Tiendede-Maand-2023_24-kommunikasie-Finaal-1
Liewe broer en suster in die Here,
Ons is dankbaar dat ons op 4 September 2023 die 36ste verjaardag van NG Gemeente The Reeds kon vier. As mens terugkyk, was hierdie 36 jaar deurdrenk met God se genade, voorsiening en versorging, te midde van ongelooflike veranderinge wat in ons land en ons gemeenskap plaasgevind het en steeds plaasvind. Nie net was ons gemeente ‘n baken van hoop in hierdie tyd nie, maar ook ‘n ruimte waar mense kon tuiskom, kon behoort, geloofsgemeenskap kon beleef en bemagtig kon word. Die Here is steeds besig om ons verder op hierdie pad te begelei om so Sy koninkryk in, met en deur die NG Gemeente The Reeds uit te brei.
Hiermee net ‘n opregte woord van dank vir jou inskakeling en positiewe deelname in die gemeente. Mag hierdie gemeente vir jou steeds ‘n geestelike tuiste, ‘n bron van inspirasie, toerusting en geestelike groei wees. Mag God ons steeds in sy koninkryk gebruik.
Soos jy seker bewus is, is ons gemeente tans besig met ’n onderskeidingsproses (Ons het opnuut gevra: Wie is ons? en Waarheen is die Here met ons op pad?). Hierin het ons besef dat God ons wil gebruik as ‘n veilige hawe vir nuwe hoop. Ons vra tans vir wie moet ons ‘n veilige hawe wees? Weens ‘n gebrek aan ‘n spesifieke benaming van ‘n behoefte of nood, noem ons die persone vir wie ons ‘n veilige hawe vir nuwe hoop wil wees ‘geknakte Riete’. Ons het in ons proses agtergekom dat ons sterkpunt tans ons eredienste, fasiliteite en kleingroepe is. Ons het vier fokusareas vir die erediens geÏdentifiseer (Gebed, getuienis, gasvryheid, geloofsgemeenskap), waarin ons praktiese doelwitte geformuleer het hoe ons gestalte kan gee aan ‘n veilige hawe vir nuwe hoop in en deur ons eredienste. Daar sal sekerlik in die toekoms nog fokusareas hierby gevoeg word om prakties gestalte te gee aan dit wat ons glo die Here op ons hart gelê het om ‘n veilige hawe vir nuwe hoop te wees. Ons nooi jou uit om met entoesiasme hierdie inisiatiewe te ondersteun en daaraan deel te neem as deel van God se betrokkenheid en heling in, met en deur The Reeds gemeente in ons gemeenskap.
Hierdie onderskeidingsproses vind plaas teen die agtergrond van een van die mees uitdagendste tye in die land se geskiedenis op ekonomiese, maatskaplike, politieke en godsdienstige gebied. Om hierdie rede sal ons moet saamstaan soos nooit tevore nie en moet ons besef dat hierdie uitdagings die gemeente tans in ‘n bestaanskrisis gedompel het.
Binne hierdie omstandighede is dit daarom vir ons hartseer om te sê dat dit die vorige 2 finansiële jare (2021/22 en 2022/23) op finansiële gebied nie goed gegaan het met die gemeente se finansies nie. Ons het 2021/22 finansiele jaar afgesluit met ‘n tekort van R 68 032.00, ons is tans in die prosess om 2022/23 se state te finaliseer en dit blyk dat ons weer met ‘n noemenswaardige tekort van meer as R 30 000 afsluit het. Die vorige goeie jare (2020/21) se buffer is nou uitgeput. Ons was ook die afgelope boekjaar genoodsaak om ‘n lening ter waarde van R90 000.00 aan te gaan by die Sinode (om ons hoofsaaklik deur die voortslepende SARS despuut te dra), wat ons genadiglik tegemoet gekom het, en vir ons ‘n rentevrye lening gegee het waarvan ons 50% oor 2 jaar moet terug betaal, en dan kwalifiseer om die res vir ons te skenk. Ons is ook in die proses om ‘n ooreenkoms met SARS aan te gaan om die uitstaande R 79 612.72 af te los. In die huidige finansiële jaar het ons jaar tot op datum (tot einde Augustus 2023) vir hierdie finansiële jaar reeds ‘n tekort van R46 578.00. Dit was die afgelope aantal jare tradisioneel wel so dat dit tydens die eerste deel van ons finansiële jaar swakker gaan as tydens die tweede deel, maar ons besef dat al ons lidmate tans onder finominale druk in ‘n verswakkende ekonomiese klimaat verkeer en dat dit ‘n ekstras poging van ons almal sal vra om die wa deur die drif te trek. Ons het deernis met elke persoon wat in hierdie tyd met ongelooflike uitdagings in hierdie verband moet worstel.
Die Algemene Bestuur het reeds ekstra maatreëls getref en projekte geloods om die finansiële druk op die lidmate te verlig, maar die maandelikse dankoffer het egter ook afgeneem en byna die ekstra pogings uitgekanselleer. Ons stel tans die onderhoud en opknapping van ons geboue uit om die druk verder te verlig. Verskeie persone binne en buite die gemeente het egter na vore getree en op hierdie manier kon baie van die noodsaaklike onderhoud gedoen word.
Die Algemene bestuur vertrou dat die gemeente saam dankbaar is, dat die Here voorsien het ten spyte van die ongelooflike finansiële druk. In hierdie gesindheid van dankbaarheid wil ons nou ‘n oproep doen op een en elk van ons lidmate: Elke klein bietjie maak saam ‘n groot verskil, daarom vra ons jou begrip, hulp en ondersteuning. Ons wil jou vra om deel te neem aan ons 10de maand geloofsofferprojek.
Die afskopdatum van hierdie jaar se 10de maand geloofsoffer was 3 September 2023. Dit beteken dat ons lidmate 6 maande tyd gee om hulle geloofsoffer (‘n addisionele bedrag bo en behalwe die maandelikse dankoffer) te gee. Indien almal bydra, hoe gering die bydrae ookal mag voel, sal die teikenbedrag van R 175 000 wel bereik kan word.
Hierdie gelde word as volg aangewend:
- Sinodale verantwoordelikheid o.a. Kinderhuise, Bejaardesorg
- Om ons finansiële verantwoordelikheid na te kom by die CMR Valhalla, by die Bejaardesorg in Centurion en ons sendingbydraes.
- Die ekonomiese klimaat in die land maak dit ook noodsaaklik dat ons gelde beskikbaar moet hê vir lidmate in nood.
- Ons lening paaiement tot Februarie 2024
- ‘n Deel word aangewend om ons eie fondse aan te vul om ons begrotingstekort te probeer uitwis.
Ons gee deurlopend terugvoer in ons afkondigings van ons finansiële situasie, met die oog op beplanning van die pad vorentoe. Verskriklik dankie dat u deur die jare hierdie gemeente met lojaliteit en besorgdheid ondersteun en finansieel dra.
Groete
Ds. Johan & die finansiële span
My Geloofsoffer 2023
My… beteken dis myne – ek is persoonlik verantwoordelik daarvoor. Dit is ‘n intieme saak tussen God en myself. Ek maak die onderneming aan God, nie aan ‘n persoon of ‘n bediening nie.
Geloofs… beteken dat ek biddend in die geloof gee, omdat ek weet dat ek van God se voorsiening afhanklik is. Ek vertrou Hom om Sy beloftes gestand te doen. Ek plaas my geloofsvertroue op God om dit vir my moontlik te maak om my belofte na te kom.
…offer is ‘n spesiale bydrae. Dit is nie deel van my gewone maandelikse bydrae aan die gemeente nie.
Dankoffers is ‘n saak van geloof en dankbaarheid. Paulus skryf daaroor in 2 Korintiërs 9:7-8: “Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin en dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.”
My dankoffer is my dankbare antwoord op wat God in Sy goedheid vir my gee en ’n erkenning dat ek nie net my geld, maar ook my gawes en tyd tot Sy beskikking stel in die wêreld.
Oorweeg die saak biddend en vra God se leiding oor die bedrag waarvoor jy Hom moet vertrou.
U kan u Geloofsoffers op een van die volgende maniere gee:
- Elektroniese oorplasing (verwysing : “Van, geloofsoffer”) NG Gemeente The Reeds, ABSA 2890 590 406, takkode 630 445
- Kontant in ‘n koevert in Sondae se kollektesak of by die kerkkantoor ingehandig. (Merk die koevert : “Van, geloofsoffer”)
- Debiet order of verhoog u bestaande debietorder vir 6 maande