Week 16 – Sondag-14-Julie-2019

                                           3-Kruis Huiskonneksie                                                                                                                         Sondag 14 Julie 2019

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae. Ek moedig julle aan om gebruik te maak van die Faith5-metode: 1. Deel hoogte- en laagtepunte; 2. Lees stukkie in die Bybel; 3. Kyk of daar ’n verband is tussen ons hoogte- en laagtepunte en die teks (hier kan ook vragies wat weekliks gegee word, bespreek of oordink word); 4. Bid vir hoogte en laagtepunte (Hier kan die riglyn by die laaste vraag telkens gebruik word); 5. Seën of bemoedig mekaar.

Teksgedeelte: Lees  Psalm 137

Die Psalm bundel is vol gedigte/ liede. Musiek en gedigte het mos die vermoeë om ons op ‘n dieper manier aan te spreek, omdat dit ons emosies aanraak. Liede help ons dikwels om ons gemoedstoetsand (emosies) te verander. So gebeur dit ook met die Psalms. In die Psalms is dit nie soseer die Here wat met sy mense/kinders praat nie, maar sy mense/kinders wat met Hom praat. Daar is baie vrolike Psalms en hartseer (klag of klaag) Psalms. In die vrolike Psalms word die Here geloof en geprys, daar word vertroue, dankbaarheid teenoor die Hom uitgespreek en sommige wil ‘n klompie wyshede deel. In die hartseer Psalms kom sit die skrywer of die volk hulle hartseer en selgte emosies voor die Here neer.  Psalm 137 is ‘n klaagpsalm. In so Psalm deel die bidder gewoonlik diep negatiewe emosies wat hulle beleef agv omstandighede met die Here.

In Psalm 137 roep die skrywer die ervaring van sy volk op toe hulle in ballingskap in Babilonië was. Die Psalm kan in drie duidelike dele verdeel word.  Vergelyk onderstaande indeling. In die eerste 4 verse gaan dit oor die slegte ervaring of belewenis in Babel toe die volk by die riviere gesit het (miskien was hulle daar vir ‘n reinigingsritueel of ‘n fees of dalk op ‘n Sabbat). Hierdie keer het die hartseer hulle in so mate oorval dat hulle nie ‘n lied van Sion (Jerusalem) / ‘n lied van die Here kon sing nie. Miskien is die hartseer versterk deur die Babiloniërs wat hulle gevra/spot het om vir hulle ‘n Sionslied te sing. Hulle het geoordeel as hulle so lied sou sing, sou hulle die Here verloon. Dan dink hulle terug aan die goeie ou dae in Jerusalem, toe hulle gereeld gaan offer het, op ‘n Sabbat na die tempel kon gaan en  tydens feeste met gevulde harte na Jerusalem gestap het en liede gesing het. Hierdie terugdink versterk hule gedagtes om nie nou ‘n lied van die Here te sing nie. Hierdie heimwee maak hulle egter kwaad. Hulle emosies beweeg van woede na bitterheid en wraak. Die Psalm eindig baie stomp met wraakgedagtes. Tog is ‘n klaagpsalm ironies genoeg ‘n smagting na profetiese hoop en daarom ‘n gebed dat die Here dinge sal verander.

Boney M het van hierdie Psalm ‘n trefferliedjie By the rivers of Babilon) gemaak. Kyk daarna op die volgende skakel: https://m.youtube.com/watch?v=vYK9iCRb7S4. In die tweede deel van Nabucco, die slawe koor, verwys Verdi in een van sy Operas ook na hierdie Psalm. In daardie lied gee hy ‘n ander perspektief aan die hele Psalm. Ons kan sy woorde soos volg vry vertaal: “O harpe van die profete, hoekom hang julle stil aan die wilgerboom se takke?” Sy interpretasie is dat die profete nie hulle harpe in die bome moes opgehang het nie, want as hulle ‘n lied sou sing, sou dit hulle met profetiese hoop gevul het. Kyk ook onder aan hierdie stuk vir Anelise Wiid se lied Profeet se woorde, wat dieselfde lyn as Verdi volg.

  1. Babel verteenwoordig in hierdie Psalm ’n tyd, plek en omstandighede waarin dit baie sleg gegaan het. Het jy al sulke tye beleef? Watter emosies het jy beleef in daardie tyd? Watter lied het vir jou baie beteken in hierdie tyd, indien enige en hoekom? Wat is die gevolg van so tyd in mens se lewe? (Laat elkeen hul eie gedagtes hieroor deel. Die punt is almal beleef sulke tye. Laat almal die emosies opnoem wat hulle beleef het en watter liedjie vir hulle baie beteken het in daardie tyd, indien enige en hoekom? Die gevolg van so slegte tyd is dat mens dikwels a.g.v. diep negatiewe emosies net lam gemaak word, depressief is en jouself begin onttrek van ander. Die gevolg van ’n Babel in ons lewens is dat jy veral afgesny voel van God. Jy voel beslis nie om ’n lied te sing in so tyd nie)
  2. Jerusalem verteenwoordig in hierdie Psalm God se teenwoordigheid en heerskappy. Vertel vir die ander van ’n tyd toe jy baie naby aan die Here gevoel het en hoekom jy so sê? Watter emosies het jy toe beleef? Watter lied het in hierdie tyd vir jou baie beteken en hoekom? Wat is die gevolg van so ervaring? (Laat almal eie gedagtes deel. Die punt dat ons almal êrens in ons verlede tog tye beleef het waar ons naby aan die Here gevoel het. Laat almal die emosies opnoem wat hulle beleef het en watter liedjie vir hulle baie beteken het in daardie tyd, indien enige en hoekom? Wanneer mens ‘’n ervaring gehad het van die Here se teenwoordigheid, bring dit ’n stuk vrede, geborgenheid en hoop.)
  3. Hierdie Psalm eindig met ’n vloekspreuk: Wat dink jy is die rede hoekom klaagliedere in die algemeen en hierdie vloekspreuk in die besonder in die Psalm-boek opgeneem is en watter waarde het dit om selfs jou wraakgedagtes (soos in hierdie Psalm) met die Here te deel? (As mens net oor die mooi en positiewe dinge met die Here sou praat, is dit mos nie eg en eerlik nie. Met die vloekspreuk gebruik die skrywer ’n hiperbool om die intense emosie wat hy beleef mee te beskryf. Agter hierdie hiperbool is ’n gebed dat die Here tog die gang van die geskiedenis sal verander. Die Psalm-skrywer wil ons aanmoedig om oor alles met God te kommunikeer. ’n Mens wil amper nie hê daar moet sulke slegte wense in die Bybel staan nie, maar dit kan ons vandag help. Wanneer ons sulke slegte dinge vir ander mense in ons gedagtes voel, dan troos dit ons om te weet iemand wie se psalm in die Bybel staan, het ook so gevoel. Daar is ook iets goeds wat gebeur wanneer ons vir die Here vertel hoe ons voel, want Hy luister na ons en Hy begin dan met ons werk. Hy laat ons dink oor wat ons gesê en gevra het. Dit is asof Hy sê: “Ek hoor hoe jy voel. Los dit nou maar by My. Moenie self, terwyl jy so kwaad is, iets daaraan probeer doen nie.”)
  4. Tog wil hierdie Psalm ons oproep om “nie ons liere in die boom op te hang nie, maar ’n lied van die Here te sing (hoop te bring) op vreemde grond”. Kom ons raak prakties: Hoe lyk die “vreemde grond” waarop onsself en mense rondom ons dikwels ’n draai maak en dikwels voel hulle is vasgekeer? Hoe kan my lied/optrede myself en iemand anders help wat vasgekeer voel op vreemde grond? Watter lied (hier gaan dit nie net oor ’n liedjie nie, maar dinge wat ons kan doen) kan ons sing vir ander mense wat op “vreemde grond” vasgekeer is? (Laat die groep hulle gedagtes deel oor bogenoemde vrae.)
  5. Sluit julle gesprek rondom die Bybel met gebed af. Moedig almal aan om die Here te vra om hulle te help om eerlik hulle gevoelens met Hom te deel. Moedig hulle ook aan om die Here te vra om hulle oog oop te maak vir mense wat hulle pad kruis en op die oomblik “op vreemde grond” is. Vra die Here om jou ook te wys wat jy kan doen binne daardie omstandighede.

Profeet van Anneliese Wiid

This image has an empty alt attribute; its file name is Profeet.jpg

Week 15 –  Sondag 9 Junie 2019 – http://www.ngthereeds.co.za/wp-content/uploads/2019/06/Sondag-9-Junie-2019.docx

3-Kruis Huiskonneksie

Sondag 9 Junie 2019

Teksgedeelte: Lees 1 Johannes 4:13-15; 5:1-13 (Deel dalk die teks op in vier dele – 4:13-15, 5:1-5, 5:6-12 en dan net vers 13)

Johannes is besig om in hierdie brief ‘n verdeelde gemeente te help om nie net die oorsaak van hulle verdeeldheid raak te sien nie, maar veral hoe die boodskap van die evangelie daarop gerig is om heelheid te bring in ‘n verdeelde gemeente, maar ook bydra tot die motivering en uitleef van die nuwe lewe wat deur Jesus moontlik gemaak is.  Die dwaalleer wat die verdeeltheid veroorsaak het, het verkondig dat Jesus nie regtig God was nie of miskien moet ons dit anders stel: God het in Jesus kom bly by sy doop en voor sy kruisiging het God Jesus se liggaam weer verlaat. Die manier waarop God met gelowiges praat was deur spesiale geheime influistering in hulle ore en maak die boodskap van Jesus se kruis en opstanding ongedaan. So ‘n siening stroop die evangelie boodskap van sy betekenis. Dit is die rede hoekom Johannes sy brief begin het (1 Joh. 1:1-4) met die woorde dat die gemeente sy getuienis moet aanvaar, want hy het Jesus gesien, gehoor en ervaar en hy wil hê die gemeente moet ook in die gemeenskap met God deel waarin hy deel. Twee van die kern gedagtes van die dwaalleer wat Johannes reeds hanteer het, is dat ‘n gelowige geen sonde meer kan doen nie en dat dit nie nodig is om geloof in die praktyk uit te leef in dade van liefde nie. Hierteenoor het Johannes duidelik aangetoon dat gelowiges nog in hierdie wêreld leef en wel sonde doen, maar wanneer jy in verhouding met Jesus (wat die lig vir die wêreld is) leef, jy met vrymoedigheid na Hom kan gaan en dat Hy jou sal vergewe. Hy het verder ook vir hulle daaraan herinner dat die kern van hulle geloof gebou is op God se liefde vir mense (God is liefde). Dit het Hy in Jesus se liefde vir gelowiges bewys en dat hierdie liefde oorvloei in gelowiges se lewens en dat dit eintlik die bewys is van hulle geloofsverhouding met God.

In ons teksgedeelte gaan hy dan verder met sy gedagtegang dat die Gees nie net in sekere gelowiges bly en dan met ‘n geheime influistering boodskappe vir hulle stuur nie (so het mense wat die dwaalleer geglo het, verhinder dat mense hulle teengaan, want hulle praat met goddelike gesag). Waarvan is Johannes getuie? “…dat die Vader die seun as redder na die wêreld toe gestuur het. Wie bely dat Jesus die seun van God isGod bly in hom en hy in God.” (1 Joh. 4:13-15). Die feit dat die gemeente gelowiges is, is die bewys dat die Gees van God in hulle almal bly (1 Joh. 4:13).  As die gemeentelede wat aan die dwaalling vashou dan nie Johannes se getuienis oor Jesus (God se Seun – 5:9) wil aanvaar nie, pleit hy dat hulle dan God se getuienis sal aanvaar. Hierdie getuienis is waar, want dit word deur drie getuies bevestig (dit was die regsreël wat ogv Deutronomium 19:15 gegeld het). Die res van hierdie studie gaan dan nou oor wie hierdie drie getuies is, wat die inhoud van hulle getuienis is en wat die effek van hierdie getuienis behels.

 

  1. Watter drie getuies getuig van Jesus en wat is die inhoud van hulle getuienis? (1Joh. 5:8 verwys na die Gees, die water en die bloed. i) Die Gees wil nie geheime boodskappe fluister nie, maar ons kom herinner aan die waarheid wat Christus kom doen het. ii) Die water verwys na Jesus se doop. God het self met ‘n stem aangekondig dat Jesus se geliefde seun is in wie Hy ‘n welbehae het. Jesus se doop wys daarop dat Hy in ons sonde in gedoop is. Hy het in ons skoene kom staan, in ons sondige wêreld Hom volledig met ons mense kom vereenselwig. iii.) Die boed van sy dood verwys na sy kruisiging en opstanding, waardeur Jesus ons kom skoon was het van ons sondes en heling gebring het vir ons gebroke lewens en dit vir gelowiges moontlik gemaak het om as nuwe mense op te staan. Sommige verklaarders dui aan dat hierdie ook ‘n verwysing na die doop en nagmaal is en dat hierdie drie getuies vandag nog vir ons wil verseker van dit wat Jesus vir ons gedoen het en steeds besig is om te doen.)
  2. Wat is die effek van hierdie getuienis? (Dit het die nuwe lewe of lewe saam met God of Ewige lewe, soos ons Afrikaanse teks dit vertaal het, vir die kinders van God moontlik gemaak. God skenk dit vir sy kinders. Wie is kinders van God? Die wat glo dat Jesus die Christus is (1Joh. 5:1). Ewige lewe beteken hier nie net dat ons eendag saam met God in die hemel gaan wees as ons doodgaan nie. Ewige lewe beteken hier dat ons nou reeds ‘n kwaliteit van lewe kan leef wat net vir Jesus moontik was [Hy is mos nou in ons en ons in Hom] en dat hierdie lewe vir ewig sal aanhou, selfs tot na ons dood.. Hierdie kwaliteit van lewe word dan met die woord liefde omskryf. In 1 Joh. 5:2 omskryf Johannes hierdie iefde verder: dit is om God lief te hê en om sy gebooie te gehoorsaam. Wie glo dat Jesus die Seun van God is en dat Hy ons Verlosser [Christus] is, het die ewige lewe – die vermoë om deur Jesus se oë [bril] na die lewe te kyk en om God lief te hê en God se gebooie uit te leef.)
  3. Hoe help hierdie teksgedeelte ons vandag om seker te wees van ons geloof? (In die ou dae is geloofsekerheid beskryf as die sekerheid wat ‘n mens het dat jy ‘n kind van God is en dat jy die ewige lewe sal erf as jy doodgaan – dan is 1 Joh. 5:13 aangehaal. Hierdie gedagte word nie verwerp nie, maar binne die konteks van die teks beteken dit veel meer as net dit. Hier dui dit op ‘n besef wat ‘n gelowige aktiveer, soos ‘n getroude paar geaktiveer word as hulle hoor die swangerskaptoets is positief of soos ‘n speler geaktiveer word as hy/sy gehoor het hulle is vir die span gekies. Hierdie sekerheid word ‘n dryf – nie om te probeer om swanger te word of om die span te haal nie, maar om voor te berei vir die koms en deel te neem om die wedstrydplan te ken en uit te oefen. Hierdie sekerheid aktiveer gelowiges om met oortuiging liefde uit te leef en so die ‘saad’ van die lewe [ewige lewe] te saai.)
  4. Leef dit – Hoe kan hierdie drie getuies ons vandag steeds prakties elke dag in ons lewens help? (Soos reeds gesê is, help hierdie gedeelte ons vandag steeds as ons die drie getuies [Gees, doop en nagmaal] wat oor God getuig vandag steeds hoor en glo. Prakties beteken dit dat wanneer ek in die lewe by doodloopstrate kom of gebrokenheid ervaar of sien, ek kan hoor dat die HG my steeds herinner aan Jesus wat in my skoene kom klim het en meelewing met my het, en my in Hom ingetrek het – vir sy span gekies het; die Gees herinner my ook dat ek nagmaal gebruik het waar ek opnuut beleef het dat my sondes skoongewas is en my wonde genees is en dat Jesus deur sy Gees my laat opstaan as nuwe mens. Ek kan dus beleef hoe Jesus my kom genees van my eie gebrokenheid en so geaktiveer word om op te staan. Te midde van al die onsekerheid en gebrokenheid in hierdie wêreld is daar wel hierdie sekerheid waaraan die HG my en jou elke dag wil herinner. Wanneer ons dus in die toekoms by moeilike en uitdagende tye op ons geloofspad kom, aanvaar die getuienis van God deur mekaar te herinner daaraan dat ons gedoop is en wat dit beteken en dat ons die nagmaal saam gebruik het en wat dit beteken. Dit wil ons dan opnuut aktiveer om te lewe want ons is kinders van God en ons het die ewige lewe. Kom ons bemoedig en motiveer ook ander op ons pad met hierdie getuienis en saai so die lewe [ewige lewe].)
  5. Sluit julle gesprek rondom die Bybel met gebed af. Bid dat die Here julle oog sal oopmaak om raak te sien waar julle Hom die afgelope dag sien werk het. Bid dat die Here julle deur sy Gees gereeld aan sy getuienis (Gees, water en boed) sal herinner en dat dit julle ook sal aktiveer om voluit te lewe.

Week 14 – http://www.ngthereeds.co.za/wp-content/uploads/2019/06/Sondag-2-Junie-2019-10.docx 

3-Kruis Huiskonneksie
Sondag 2 Junie 2019

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae. Ek moedig julle aan om gebruik te maak van die Faith5-metode: 1. Deel hoogte- en laagtepunte; 2. Lees stukkie in die Bybel; 3. Kyk of daar ’n verband is tussen ons hoogte- en laagtepunte en die teks (hier kan ook vragies wat weekliks gegee word, bespreek of oordink word); 4. Bid vir hoogte en laagtepunte (Hier kan die riglyn by die laaste vraag telkens gebruik word); 5. Seën of bemoedig mekaar.

Teksgedeelte: Lees 1 Johannes 3:11-18; 4:7-12

1 Johannes is ʼn brief wat die apostel Johannes skryf aan gemeentes in Klein-Asië aan die einde van die eerste eeu nC (waarskynlik so rondom 95 nC). Dit is belangrik om dit in ag te neem wanneer ons 1 Johannes interpreteer. Die brief is bedoel vir tweede-geslag Christene. Johannes was nog ʼn ooggetuie van Jesus se werk (1 Joh 1:1-4). Sy brief word egter gerig aan mense wat Jesus nie self gesien het nie, maar wat opgeroep word om die werk van die opgestande Christus as sy liggaam, sy kerk, in ʼn ontaarde wêreld voort te sit, te laat realiseer, sigbaar en tasbaar te maak. Die sigbaarheid en tasbaarheid van die Christelike boodskap word gekoppel aan twee beelde: God is lig (1:5) en God is liefde (4:8). Lig en liefde hang ten nouste met mekaar saam (2:9-11). Waar daar liefde is, is daar lig; waar daar lig is, is daar liefde. Dis ʼn noodwendigheid – die een kan nie sonder die ander nie.

Ons moet 1 Johannes 3:11-18 en 4:7-12 teen hierdie agtergrond lees. Die twee tekste is baie nou aan mekaar verwant en handel oor die essensie van die Christelike boodskap: Dit is immers die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê (3:11). Die rede daarvoor lê in die wesenskenmerk van God: God is liefde (4:8). Die twee tekste beklemtoon dan drie dinge. Eerstens sê die tekste dat God se liefde tasbaar en sigbaar is. Daarvoor verwys Johannes die gemeente(s) na die lewe en werk van Christus. Christus het God se liefde vir sondaars sigbaar geïllustreer toe Hy sy lewe vir ons afgelê het (3:16). Voorts het Hy dit tasbaar gemaak deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes (4:10). Tweedens dui die tekste aan dat liefde die wesenskenmerk van God se kinders word en dus ʼn skeiding bring tussen mense. Daar is Kaïn-mense wie se lewe deur haat gekenmerk word (3:15) en God-mense wie se lewe deur liefde gekenmerk word (4:7-11). Uiteindelik is naasteliefde die toets vir die groep waaraan ons behoort! Derdens herinner Johannes ons daaraan dat ook ons liefde tasbaar en sigbaar moet wees. Die sleutelverse hier is 3:17 en 18 en 4:12. As ek ʼn kind van God is, gee ek noodwendig om vir ander mense (3:17), want liefde is nie ʼn gevoel nie, maar ʼn daad (3:18). En dit wat ek doen, maak God uiteindelik sigbaar in ʼn gebroke en ontaarde wêreld (4:12). Die vraag waarmee die tekste elkeen van ons konfronteer is: Is naasteliefde ʼn wesenskenmerk van my optrede? Maak ek deur dit wat ek sê en doen God sigbaar in ʼn gebroke en ontaarde wêreld?

1. Wat dink julle beteken dit dat God liefde is vir ons as gelowiges in die werklikhede waarmee ons elke dag te doen het? (Liefde is God se wesenskenmerk. Daardie liefde kry prakties gestalte in Jesus wat aan ʼn kruis sterf vir ons sonde. Daardie liefde vra ʼn antwoord – vgl 4:7, 11.)
2. Johannes beklemtoon dat liefde nie ʼn emosie is nie, maar ʼn daad wat sigbaar en tasbaar gestalte moet kry in ons lewe. Hoe het God sy liefde vir sondaars sigbaar en tasbaar bewys en hoe moet ons daarop antwoord? (Die hele Jesus-gebeure wat ons tydens Paasfees, Hemelvaart en Pinksterfees herleef is ʼn herinnering aan God se sigbare en tasbare liefde vir sondaars. Soek die tekens daarvan in die twee paragrawe wat ons hierdie week behandel! Kyk ook hoe Johannes ons oproep om daarop te reageer).
3. Kom ons raak prakties. Hoe kan ons vandag in ons persoonlike lewe en in ons gesin prakties en sigbaar liefde leef? (Ons lewe word bepaal deur God se liefde vir ons en die liefde wat ons moet uitdeel aan ʼn honger wêreld. Niemand kan die werklikheid van ons omstandighede ontken nie. Johannes se gemeente kon dit ook nie doen nie! Hulle is immers vervolg en doodgemaak juis omdat hulle glo! Maar my verbondenheid aan Christus laat my lewe anders lyk en laat my anders dink en anders optree. Dit bring ʼn nuwe, diep, positiewe dimensie in my lewe in. Dit laat my liefde lewe!)
4. Leef dit – Kom ons beoordeel bietjie ons eie lewens. Dink bietjie saam oor ’n tipiese week en dag in jou (julle) lewe. Probeer bietjie van buite af na jou lewe kyk. Jubel jy? Getuig jou lewe daarvan dat alles wat jy is en dink en doen gerig word deur liefde? Begin vandag om ʼn pad met die Here te stap wat jou uit gister en uit more in jou werklikheid ontmoet. Begin leef!
5. Sluit julle gesprek rondom die Bybel met gebed af. Bid dat die Here julle oog sal oopmaak om raak te sien waar julle Hom die afgelope dag sien werk het. Bid dat die Here julle sal help om gewoontes en praktyke in julle

 

Week 13 – Sondag 26 Mei 2019

                                             3-Kruis Huiskonneksie                                                                Sondag 26 Mei 2019 

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae. Ek moedig julle aan om gebruik te maak van die Faith5-metode: 1. Deel hoogte- en laagtepunte; 2. Lees stukkie in die Bybel; 3. Kyk of daar ’n verband is tussen ons hoogte- en laagtepunte en die teks (hier kan die vragies wat weekliks gegee word, bespreek of oordink word); 4. Bid vir hoogte en laagtepunte (Hier kan die riglyn by die laaste vraag telkens gebruik word); 5. Seën of bemoedig mekaar. Volgende week gaan ons die 7 dag Paasfeesuitdaging in die 3-Kruis huiskonneksie doen. Meer inligting sal volg.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 2:1-13

Hierdie brief word gerig aan ‘n jong gemeente wat deur Paulus gestig is in Tessalonika, die hoofstad van die Romeinse provinsie Masedonië. Nadat Paulus ‘n goeie verslag oor die gemeentes van Timoteus ontvang het, skryf Paulus om God te dank vir die standvastigheid vaan die gemeente in geloof, liefde en hoop. Die gemeente het baie vrae gehad oor die wederkoms van Jesus, omdat hulle dit vinnig verwag het en nou beleef het dat dit langer neem as wat hulle verwag het.  Paulus se boodskap aan die gemeente is dat God  hulle lewens verander het deur die evangelie (goeie nuus van Christus) en dat hulle nou moet meewerk om die evangelie, met dieselfde gesindheid waarmee Paulus hulle bedien het (soos ‘n baba, ma en pa), teenoor mekaar en ander uit te leef. God verwag ook dat hulle  ondertussen hulle werk met blydskap moet doen.

In ons teksgedeelte praat Paulus spesifiek daaroor dat God sy evangelie aan hom toevertrou het en dat dit hom moed gegee het om ten spyte van felle teenkanting, te kon aangaan met die verkondiging by hulle. Hulle het die evangelie  ontvang en aangeneem as die boodskap van God en hulle het beleef hoe hierdie evangelie ‘n kragtige uitwerking in hulle lewens gehad het. Paulus roep daarom die gemeente op “om in sy (God se) koninkryk in te gaan en so aan sy heerlikheid deel te hê” (12).  Die grootste deel van die teks (3-12) is ‘n verduideliking hoe God deur Paulus na hulle toe gekom en hulle oortuig het (vergelyk skyfies hieronder). Die laaste skyfie hieronder wys hoedat Paulus drie eienskappe van God gedemonstreer het in sy evangelieverkondiging en dat dit die manier was waarop hulle tot oortuiging gekom het om die woorde van God te ontvang en aangeneem het. Wanneer hulle deelneem aan die uitleef en verkondiging van die evangelie, moet dié eienskappe ook deel wees van hulle lewens.  

  1. Paulus praat in hierdie gedeelte oor sy uitleef van die evangelie teenoor die gemeente en roep daarmee die gemeente op om die evangelie ook so teenoor mekaar uit te leef. Watter negatiewe maniere wys hy in hierdie gedeelte af? (Vleitaal [verleiding en misleiding], Hebsug [selfbevoordeling, wat is in dit vir my] en soeke na mense eer [eie eer, bybedoelings]. Hiermee is Paulus besig om die negatiewe gevolg van enige negatiewe, valse en onopregte lewenshouding teenoor mekaar en mense buite die gemeente uit te wys. Wanneer ons so optree is God nie daarin nie en sal die evangelie geen krag tot verandering in mense se lewens hê nie.)
  2. Wat is die positiewe eienskappe wat hy wil aanmoedig? (Paulus gebruik die voorbeelde van hoe hy na die gemeente gekom het: soos ‘n baba, ‘n ma en ‘n pa. Die rede vir hierdie voorbeelde is om daarmee die positiewe eienskappe van die drie voorbeelde mee te beklemtoon. ‘n Baba kan nog nie voorgee nie en is daarom net opreg, eerlik met ‘n stuk openheid. So moet gelowiges teenoor mekaar en die mense buite die gemeente optree; ‘n Goeie ma se sagte liefde en sorgende hart het ‘n enorme uitwerking op haar kinders. Sy sal ook haarself opoffer of tekort doen om haar kiders se onthalwe. So sê Pauls  moet gelowiges teenoor mekaar optree en veral teenoor mense buite die kerk; ‘n Goeie pa tree positief opbouend teenoor hulle kinders op en sal hulle daarom bemoedig en aanspoor. So moet gelowiges teenoor mekaar en mense buite die gemeente optree.)
  3. God kom veral na kinders deur hulle ouers in hulle grootword jare. Dit is die eerste en primêre manier hoe ‘n kind in aanraking kom met die evangelie (die goeie nuus van Jesus). God kom ook deur gelowiges na mekaar. Watter implikasie het Paulus se boodskap aan die gemeente in Tessalonika vir ouers en gelowiges se optrede teenoor mekaar? (God het ‘n saak met ons optrede teenoor mekaar. Hy wil hê dat ons die negatiewe maniere (dikwels gewoontes) waarop ons dikwels teenoor mekaar optree aktief moet afleer, want dit het die gevolg dat mense die evangelie en ook vir God afwys. Dit het ook die gevolg dat dit verhoudings breek of vernietig. In die plek daarvan wil hy hê ons moet aktief daaraan werk om op ‘n positiewe manier teenoor ons kinders, die kinders van ons gemeente en teenoor ons medegelowiges en die mense buite die gemeente op te tree. God is daarin wanneer ons so optree en dan het die evangelie nie net ‘n positiewe uitwerking in ons eie lewe gehad nie, maar kan dit ‘n positiewe uitwerking op ons kinders en medegelowiges ook hê. Dit sal ook maak dat verhoudings opgebou sal word.)
  4. Leef dit – Hoe kan ons mekaar help om die negatiewe maniere en gewoontes wat ons het teenoor mekaar af te leer en in die plek daarvan positiewe maniere en gewoontes aan te leer? (Kom ons maak saam praktiese planne om mekaar hierin by te staan. Julle kan selfs iets in die huis opsit om julle te herinner daaraan. Ouers moenie dink dat dit hulle gesag gaan aantas as ons miskien saam besluit om mekaar gereeld te herinner dat ons positief moet optree teenoor mekaar. Dit sal dalk makliker wees as ons saam een keer per dag of per week reflekteer/ terugkyk en vir mekaar uitwys en saam besluit om daaraan te werk. Wanneer ‘n kind dan aan ons iets uitwys, mag ons dan ook nie negatief of selfregverdigend reageer of dit afwys nie. Juis in die aanvaarding en verskoning vra, lê’n baie groot leermoment vir almal en dit bou eerder verhoudings as wat dit verhoudings verswak. Dit kan ook baie spesiaal wees as die gesin of huismense saam vir hulle ‘n visie of droom opstel en mekaar gereeld aanmoedig om die droom waar te maak. Tessalonisense 2: 4 kan miskien help om so ‘n droom of visie te verwoord.)
  5. Sluit julle gesprek rondom die Bybel af met gebed. Bid dat die Here julle oog sal oopmaak om raak te sien waar julle Hom die afgelope dag lewend gesien werk het. Bid ook dat die Here julle sal help om regtig elke dag die negatiewe maniere hoe julle teenoor mekaar en mense buite die kerk optree, raak te sien en af te leer en ‘n positiewe manier aan te leer.

Week 12 – Sondag 19 Mei 2019

                                             3-Kruis Huiskonneksie                                                 

Sondag 19 Mei 2019

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae. Ek moedig julle aan om gebruik te maak van die Faith5-metode: 1. Deel hoogte- en laagtepunte; 2. Lees stukkie in die Bybel; 3. Kyk of daar ’n verband is tussen ons hoogte- en laagtepunte en die teks (hier kan die vragies wat weekliks gegee word, bespreek of oordink word); 4. Bid vir hoogte en laagtepunte (Hier kan die riglyn by die laaste vraag telkens gebruik word); 5. Seën of bemoedig mekaar. Volgende week gaan ons die 7 dag Paasfeesuitdaging in die 3-Kruis huiskonneksie doen. Meer inligting sal volg.

Teksgedeelte: 1 Johannes 1:5-2:6

Johannes skryf hierdie brief waarskynlik vir die gemeente in Efese. Daar is in die gemeente mense wat begin glo het (waarskynlik agv dwaalleraars) dat Jesus nie regtig mens geword het nie en dat Jesus daarom nie die Christus was nie. Dit het meegebring dat hierdie gelowiges ‘n lewe begin leef het wat nie geklop het met die boodskap van die evangelie nie en dat sommige hulleself hoër as ander beskou het en ‘n selfregverdiggende lewenshouding begin inneem het. Johannes se skrywe het dus ten doel om die verkeerde denke aan te spreek, maar ook om te wys hoe  die leefstyl van die gemeente die kragtigste stuk getuienis is dat Jesus wel God is en teenwoordig is in en deur die gemeente. Miskien het ons nie vandag dieselfde denke as wat die dwaalleer van daardie tyd nie, maar dit is we waar dat ons vandag al te maklik leef asof ons geloof en ons lewe niks met mekaar te doen ehet nie en dikwels ook baie selfregverdigend optree in ons naaste verhoudings en dit eintlik niks anders is as ‘n stuk selfverheffing nie.

In ons teks gebruik Johannes dan ‘n eenvoudige beeld van lig  en donkerte om te beskryf hoe Jesus se koms na die aarde met lig vergelyk kan word: “God is Lig, en daar is geen duisternis in Hom nie”. Waar bv. die son skyn, verdwyn die duisternis. Die son gee lig, lewe en groei – net so het Jesus lig, lewe en groei gebring na mense op die aarde.  Johannes is dus besig om in ons teks (en die hele brief) te skryf oor die implikasie van Jesus se koms na die mens. Die teks net voor ons teksgedeelte het juis gehandel oor Johannes wat sy gemeente wil oortuig daarvan dat Jesus wel mens was, want hulle (die dissipels) het Hom gesien, Hom gehoor en aan Hom gevat. Die doel van sy ‘verkondiging’ het Johannes daar beskryf, is: ”sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê” (1 Joh.1:3).  Wat gebeur dan in ‘n mens se lewe wanneer jy ‘aan Jesus se gemeenskap deel het’ (in verhouding met Hom lewe)?

Ons teks handel spesifiek oor die tema van sonde in jou lewe. Die eerste gedeelte van ons teks is opgebou uit drie pare sinne. Elke paar word ingelei met: “As ons beweer…” (6,8,10) en vorm dan ‘n teenstelling met die tweede tweede sin van elke paar, wat ingelei word met: “Maar (en) as ons…” (7,9,2:1). Die eerste sin van elke paar beskryf dan die bewerings van die verkeerde denke (dwaalleer) en die tweede sin van eke paar beskryf hoe iemand wat werklik in gemeenskap (in verhouding) met Jesus lewe se lewe behoort te wees (vergelyk onderstaande skyfie om alles wat hierbo geskryf is te sien. Die twee sirkels sal in die vrae hieronder verduidelik word.

 

  1. Volgens die eerste van die pare sinne (6-7) – wat word teenoor mekaar gestel? Hoe lyk iemand se lewe dus wat in ‘n verhouding met God lewe? (In die brief van Johannes beskryf hy die lewe van iemand wat in die lig lewe en iemand wat in die duidternis lewe op so manier dat ons dit met twee sirkels kan vergelyk wat mekaar uitsluit. Jy kan nie sê dat jy in die lig lewe maar dade doen van die duisternis nie. Miskien skrik jy ook nou, want jy besef dat jy tog nog sonde doen. Ons sal in die volgende punt sien dat Johannes dit weet, maar tog duidelik wil maak dat jou lewe nie totaal en al in die duister kan wees nie. Dade van die duisternis word gekenmerk deur leuns, vrees, sonde en haat. Al hierdie goed vat iets weg van iemand anders of sluit iets toe. Wie in die lig lewe het eienskappe van die lig dit is eienskappe soos waarheid, regverdigheis, Liefde, lewe en hoop. Hierdie eienskappe sluit iets oop vir mense of gee lewe en hoop. Wie in die lig lewe leef soos Hy (Jesus) in die lig is [vers 7 &2:6]. Skeinheiligheid word dus teenoor integriteit en egtheid en gehoorsaamheid aan die woord gestel.)
  2. Volgens die tweede van die pare sinne (8-9) – wat word teenoor mekaar gestel? Hoe lyk iemand se lewe dus wat in ‘n verhouding met God lewe? (Wie in die lig lewe kan ook nie sê dat hy geen sonde het nie. Met die eerste oogopslag lyk dit of Johannes die teenoorgestelde sê as wat in die vorige twee verse gesê is. Hier gaan dit oor ‘n selfregverdigende houding [altyd ‘n rede hoekom jy gedoen het wat jy gedoen het, sonder om ooit jammer te sê] wat op so manier praat en redeneer asof hulle nooit iets verkeerd kan doen nie wat teenoor ‘n eerlike en opregte verhouding met God gestel. Die punt wat Johannes wil maak – as ons dit met ‘n huweliksverhouding vergelyk – wanneer jy jou maat seer maak, besef jy dat jy verkeerd optree en vra vergifnis. Jou ‘seermaak’ maak nie dat jy nou skielik in die donker sirkel is nie, maar dat jy insig het en vrymoedigheid het om vergifnis te vra. ‘n Kind van God het vrymoedigheid omdat hulle weet Christus se kruis en opstanding – sy lig – beheer nou ons lewens.  )
  3. Volgens die derde van die pare sinne (10-2:1) – Hoe lyk iemand se lewe dus wat in ‘n verhouding met God lewe? (In ‘n sekere sin wil hierdie verse presies dieselfde as die vorige paar sê, maar amper uitwys dat die een lei na die volgende: van skynheiligheid tot selfregverdiging en dan na ‘n lewenshouding dat jy heiliger as ander is. Hier roep Johannes sy gemeente op om eerder ‘n lewenshouding van nederigheid aan te leer. Al drie hierdie pare sinne wil duidelik maak dat jy nie kan sê dat jy  kind van God is en nie omgee hoe jy leef nie. Al drie wil ook sê kinders van God maak erns om die sonde en verkeerde dinge in hul lewe te beeindig en neem deel aan die heelmaak van Jesus en nie aan die stukkend maak van die samelewing nie. Al drie wil ook reageer oor die vrymoedigheid wat ‘n kind van God het om na God toe te gaan, want Jesus is ons voorspraak by ‘n Vader en nie voor ‘n regter nie. Wanneer ‘n kind in opregtheid na ‘n goeie ouer kom  en vergifnis vra, sal ‘n ouer mos nie anders kan as om te vergewe nie, daarom kan ons mos met groot vrymoedigheid voor od lewe.)
  4. Leef dit Dink bietjie prakties hoe ons as gesin mekaar kan help om van kleins af aan te leer hoe om i.) nie skynheilig te wees nie (om te sê jy is ‘n kind van God, maar dinge te doen wat nie pas by ‘n kind van God nie), maar ‘n egte deursigtige verhouding met die Here te hê; ii.) nie ‘n selfregverdigende lewenshouding te hê, so asof ons nooit foute maak nie, maar eerder ‘n eerlike en opregte verhouding teenoor mense en die Here te hê; iii.) Nie ‘n lewenshouding te hê dat ek Heiliger as ander is nie, maar eerder ‘n lewenshouding van nederigheid te handhaaf. ‘n Belydenis dat ek ‘n kind van God is, sonder ‘n konkrete stryd teen die sonde en daadwerklike beoefening van liefde teenoor ander gelowiges is abstrak, niksseggend en lewensgevaarlik!
  5. Sluit julle gesprek rondom die Bybel af met gebed. Bid dat die Here julle oog sal oopmaak om raak te sien waar julle Hom die afgelope dag lewed gesien werk het. Bid dat die Here julle sal help om regtig elke dag te leef in ‘n egte, eerlike en nederige verhouding met Hom.

Week 11 –  Sondag 28 April 2019

3-Kruis Huiskonneksie

Sondag 7 April 2019

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae. Ek moedig julle aan om gebruik te maak van die Faith5-metode: 1. Deel hoogte- en laagtepunte; 2. Lees stukkie in die Bybel; 3. Kyk of daar ’n verband is tussen ons hoogte- en laagtepunte en die teks (hier kan die vragies wat weekliks gegee word, bespreek of oordink word); 4. Bid vir hoogte en laagtepunte (Hier kan die riglyn by die laaste vraag telkens gebruik word); 5. Seën of bemoedig mekaar. Volgende week gaan ons die 7 dag Paasfeesuitdaging in die 3-Kruis huiskonneksie doen. Meer inligting sal volg.

Teksgedeelte: Johannes 21:1-22

Johannes 21 gaan nie net oor die historiese feite en vertelling van Jesus wat aan sy dissipels en spesifiek aan Peterus verskyn het en die groot visvangs by die see van Tiberias nie. Dit gaan veral ook oor die roeping van die kerk en waarmee die kerk haarself moet besig hou na Jesus se kruis en opstanding. Dit wil spesifiek help hoe die kerk moet leef wanneer Christus nie meer lewend en sigbaar teenwoordig is nie. Die teks begin waar die dissipels terug is in die werkikheid. Hulle vang nie net sommer weer vis vir die lekker nie. Die manier waarop Johannes dit beskryf, wil hy vir ons duidelik maak dat hulle na drie jaar saam met Jesus en nou na sy dood en opstanding – ten spyte van al Jesus se opdragte, weer moet aangaan met hulle lewens. Die leegheid, onsekerheid oor hulle  toekoms en wanhoop word in vers 3 en 4 met woorde soos nag, niks en nee bekemtoon. Hulle is so opgeneem deur hul wanhoop, dat hulle Jesus glad nie herken het nie. Alhoewel Jesus se opdrag om die nette aan die regterkant uit te gooi hulle waarskynlik ontstel het, gooi hulle die nette weer uit, want miskien sien die man iets van die kant af wat hulle nie sien nie. Wanneer hulle die groot klomp vis vang gaan hulle oë oop. Nou maak die leegheid plek vir oorvloed,  opgewondenheid en hoop in vers 6. Die net is vol! Skielik sien hulle nie net die baie vis in die net nie, maar besef dat die vreemdeling Jesus is en onthou hulle skielik ‘n vorige geleentheid (Lukas 5:1-11): i) waar hulle niks vis gevang het nie en Jesus ‘n soortgelyke opdrag gegee het en hulle baie vis gevang het en ii) waar Jesus hulle geroep het drie jaar tevore en vir hulle gesê het dat hulle nie meer vis sal vang nie, maar as hulle Hom volg, vissers van mense gaan wees. Dan nooi Jesus hulle om saam te kom eet. Van die ete val ‘n paar goed op: i) Ahoewel die vreemdeing/ Jesus vra dat die dissipels vis moet bring, is daar reeds vis op die kole en ook brood; Hy voorsien en versorg sy dissipels. ii) Iets van die ete is vir die dissipels bekend – dit herinner aan die wonderwerk van die vyf brode en twee vissies; iii) Niemand waag dit om Hom om sy identiteit te vra nie, want almal weet dat dit Jesus is. Iv) Hierdie ete herinner hulle ook baie aan die nagmaal. Daar vind ‘n stuk geoofsgemeenskap plaas tydens hierdie ete. Dan volg die merkwaardige gesprek tussen Jesus en Petrus waarin Jesus Petrus se roeping herbevestig in die 3 x vra of Petrus Hom liefhet en antwoord en dan telkens die opdrag om sy herdersrol weer op te neem. Daarna is daar ‘n profetiese woord oor Petrus  oor hoe hy sal sterwe en dan roep Jesus hom om Hom te volg. Natuurlik is dit wat met die dissipels gebeur in hierdie teks, presies dit waartoe Johannes sy gemeente en ons wil oproep.

  1. Onsekerheid en wanhoop oor die toekoms maak dikwels dat dit vir ons voel die lewe is nie meer die moeite werd nie. Hoe help Jesus se opdrag in vers 6Gooi die nette aan die regterkant van die skuit uitons wanneer ons so vasgevang is deur ons omstandighede?  (Mens kan dikwels in die lewe vasgedraai word dat mens nie agter kom dat jy oor en oor op diesefde manier dink of op die selfde manier kyk na omstandighede nie. Jesus se opdrag het alles daarmee te doen om die saak van ‘n ander kant af te benader, vanuit ‘n ander perspektief na die saak te kyk. In hierdie teks wil Johannes sy gemeente en ons verder ook leer dat wanneer ons die afwesigheid van God [die opgestane Jesus] beleef, mag dit ons lewens ook vul met wanhoop en leegheid. In sulke tye roep Hy ons ook op om nie so op die toekoms of op die verlede te fokus nie, maar roep Hy ons na die hede [die opdrag in die teks is in die hede tyd geskryf] toe. Verder leer hy ons om die vreemdelinge op ons pad raak te sien en te hoor wat hulle vir ons sê/vra.)
  2. Wat gebeur alles in die teenwoordigheid van die vreemdeling (Jesus)?(In ons teks sien ons dat, deur sy [die vreemdeling se] opdrag uit te voer, die dissipels se oog oopgaan in die teenwoodigheid van die vreemdeling. Dit maak hulle geloogsoë oop om Jesus te herken en bring hulle [veral Petrus] in beweging [verander hulle lewens tot vissers van mense]. Verder beleef die dissipels die versorging van Jesus as Hy vir hulle vis en brood gee om te eet. Ons sien verder ook ‘n stuk geloofsgemeenskap wat hulle beleef. Hiermee help Johannes sy lesers en ons om nie eers te wag dat ons Jesus lewend sien, voordat ons vir Hom lewe nie, maar dat ons sy opdragte uitvoer, dan sal ons Hom lewend sien [nie sien is glo nie, maar glo is sien]. Die kerk is nou Jesus se liggaam. Juis in die optrede van die kerk teenoor die vreemdeling wat ons pad kruis, maak Jesus lewend in ons wêreld. Uit die vis wat Jesus van sy dissipels vra, wil Johannes ons leer dat ons dit wat ons het [gawes, talente en middele] in God se hand moet sit om so mekaar as liggaam van Chistus te versorg en saam geloofsgemeenskap te beleef.)
  3. Wat maak Jesus se optrede teenoor Petrus so merkwaardig? (Die feit dat Jesus Petrus drie maal vra of hy Hom liefhet, gryp terug na die drie keer wat Petrus Jesus verloën het. Jesus kom nie met verwyte nie, maar besef dat Petrus met ‘n groot stuk selfverwyt lewe, daarom herstel Jesus Petrus deur sy vrae en opdragte. Petrus se slegte verlede word uitgewis en God herbevestig sy roeping om as herder vir God se skape op te tree. Wanneer Jesus direk na hierdie gesprek Petrus oproep met die woorde: “Volg My!” Is Hy juis besig om sy aanvanklike roeping hiermee te herbevestig. Jesus doen egter nog meer – Hy sê vir Petrus dat Hy voor hom sal uitgaan. Jesus stuur Petrus en vir ons nie na mense en plekke waar Hy nie reeds is nie. Jesus U gaan voor, ons sal in U spoor ….)
  4. Leef dit – Miskien kan julle die gedagte wat Sondag in die kindermoment gedeel is, bietjie verder bespreek. Ons het gepraat van die nuwe kunsvorm van ‘n “beautiful oops”. Dit is wanneer jy met jou kunswerk ‘n “oops” [flop, fout] gemaak het en iemand anders dan kom en iets heeltemal anders van die “oops”maak deur bv. die buitelyne van ‘n gesig en ogies, ‘n neus en hare te teken of bv. wiele en die buitelyne van ‘n karretjie ens. God het van Petrus se oops ‘n “beautiful oops” gemaak. Praat bietjie met mekaar hoe die Here “oopse” in julle lewens wil verander in “beautiful oopse”.
  5. Sluit julle gesprek rondom die Bybel af met gebed. Bid dat die Here julle oog sal oopmaak om raak te sien waar julle Hom die afgelope dag lewed gesien werk het. Bid dat die Here julle sal help om raak te sien hoe Hy julle “oopse” wil verander in “beautiul oopse”.

Week 10 – Hierdie week skakel ons in by die 7 Dag Paasfees Uitdaging. Klik op die skakels van elke dag en jy sal daardie dag se uitdaging kry. Geniet dit.

Dag 1: https://www.coaching4enrichment.co.za/7-dag-paasfees-uitdaging/dag-1-die-gaan-woestyn-toe-uitdaging/

Dag 2: https://www.coaching4enrichment.co.za/7-dag-paasfees-uitdaging/dag-3-die-swaai-n-palmtak-uitdaging/

Dag 3: https://www.coaching4enrichment.co.za/7-dag-paasfees-uitdaging/dag-3-die-dek-n-tafel-uitdaging/

Dag4: https://www.coaching4enrichment.co.za/7-dag-paasfees-uitdaging/dag-4-die-wakker-bly-uitdaging/

Dag 5: https://www.coaching4enrichment.co.za/7-dag-paasfees-uitdaging/dag-5-die-gebreekte-eier-uitdaging/

Dag 6: https://www.coaching4enrichment.co.za/7-dag-paasfees-uitdaging/dag-6-die-maak-alles-donker-uitdaging/

Dag 7: https://www.coaching4enrichment.co.za/7-dag-paasfees-uitdaging/dag-7-die-wat-n-verrassing-uitdaging/

Week 9 – 2019 – Sondag 7 April 2019

                                                       3-Kruis Huiskonneksie                                                       Sondag 7 April 2019

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae. Ek moedig julle aan om gebruik te maak van die Faith5-metode: 1. Deel hoogte- en laagtepunte; 2. Lees stukkie in die Bybel; 3. Kyk of daar ’n verband is tussen ons hoogte- en laagtepunte en die teks (hier kan die vragies wat weekliks gegee word, bespreek of oordink word); 4. Bid vir hoogte en laagtepunte (Hier kan die riglyn by die laaste vraag telkens gebruik word); 5. Seën of bemoedig mekaar. Volgende week gaan ons die 7 dag Paasfeesuitdaging in die 3-Kruis huiskonneksie doen. Meer inligting sal volg.

Teksgedeelte: 1Petrus 2:11 – 25 (Lees dit miskien in twee dele naamlik 2:11-17 en dan 2:18- 25)

Die hoofdoel van die brief van Petrus is om gelowiges wat verspreid gewoon het in die noordelike streke van Klein-Asië en wat ter wille van hulle geloof vervolg en onderdruk word, te bemoedig. As ‘n klein, onbeduidende en nou bedreigde groepie begin hulle die druk ervaar om hulle geloof en gepaardgaande leefstyl prys te gee en die lyding sodoende te probeer oorkom. Dit is heerteen dat Petrus hulle ernstig waarsku. Hy pleit dat hulle mekaar sal ondersteun, dat hulle sal volhard met goeie dade en met hulle getuienis na buite en, bo alles, dat hulle die lyding wat hulle aangedoen word, in ‘n ander lig sal beskou, sodat hulle aan die wonderbare hoop kan bly vashou.

Ons kan die boek in twee groot dele verdeel. Die eerste deel – hoofstuk 1 – 2:10 (1:1-2 inleiding; 1:3-12 oor geloof, hoop en liefde; 1:13 -2:10 ‘n oproep om heilig te lewe;), wat meer gaan oor waar die geloof vandaan kom en hoe dit werk en die tweede deel – hoofstuk 2:11 – 5:15 (2:11-4:19 oor die gelowige se gedrag, veral in lyding; 5:1-11 oor opregte diens in die gemeente en 5:12-14 die groete boodskap), wat handel oor die praktiese implikasie hoe geloof geleef moet word. Ons teksgedeelte val in die tweede deel en vorm ‘n baie belangrike deel van die oproep van Petrus. Ons het afgelope Sondag uit hierdie teks saam gedink oor die vraag: Hoe oorleef ons die verkiesing en daarna? Alhoewel Petrus se lesers nie in ‘n land geleef het waar hulle demokraties kon deelneem aan ‘n verkiesing nie (hulle het geen verkiesings gehad nie) en alhoewel hulle in ‘n land geleef het waar daar nie godsdiensvryheid was nie, is daar tog baie belangrike riglyne wat ons in die eerste brief van Petrus hoor wat vir ons kan geld in Suid-Afrika rondom en na die verkiesing.

Ons het Sondag aangesluit by een van my predikant kollegas, Ds Immanuel van Tonder, se oggendoordenking op RSG. Hy het die volgende beeld gebruik: As iemand ‘n groot vel wit papier vir jou wys wat ‘n rooi kol op het, en vir jou vra: “Wat sien jy?” Dan dink ek die meeste van ons sal antwoord: “Ek sien ‘n rooi kol.” Maar is jy seker dit is al wat jy sien? Is dit nie meer korrek om te sê: “Ek sien ‘n groot wit bladsy met ‘n rooi kol op nie”. Daar is ‘n interssante studieveld in die sielkunde en neurologie wat genoem  word negatiwiteitsvoorkeur. Dit beteken dat ons eintlik natuurlik geneig is om meer gewig te gee aan die negatiewe as aan die positiewe aspekte. Dink net as iemand vir jou beledig, hoe mens vir lank daarna daaroor dink en daaroor top, maar laat iemand nou net ‘n positiewe opmerking maak, dan vergeet ons dit maar al te maklik. Die nuus is ook ‘n goeie voorbeeld daarvan, dat as duisende dokters vandag goeie werk doen, gaan dit nie voorblad nuus wees nie, maar laat een nou net ‘n misstap begaan, dan is dit voorblad nuus. Hierdie manier van leef, negatiwiteitsvoorkeur, het ‘n groot impak op ons lewens.  Ek wil hierdie beeld nou gebruik om ons te help sien hoe die lewe en omstandighede in bv. ons land, veral rondom die verkiesing, en ander omstandighede, ons lewens beïnvloed en hoe Petrus ons oproep om daarop te reageer.

Wanneer ek so aangetrek word na die negatiewe goed,  is daar dus ‘n stroom van negatiewe goed wat in ons brein invloei. Dit neem alles later oor en ons brein sien later net die groot rooi kol. Dit maak dat ons heeltyd op gereedheidsbasis is om te reageer. Die mens se oerbrein neem dan oor en in ons oerbrein is ons geprogrameer om op een van drie maniere te reageer: veg, vlug of vries (ontrek). Wanneer ons dus met ‘n brein leef wat gevul is met al die negatiewe dinge van bv. ons land, dan skop hierdie natuurlike oerbrein-reaksies onmiddelik in werking. Dit is dan dat ons oorreageer op die taxi wat voor my inry, die persoon agter die toonbank van die e-tol of poskantoor of selfs my kollega, my vrou/man, kinders en al die mense wat die naaste aan my is. Ek sien heeltyd net die rooi kol en die kol word so groot dat ek die groot wit bladsy glad nie meer kan raaksien nie. Wanneer Petrus vir sy lesers en my en jou skryf, dan neem hy deeglik kennis van die rooi kol, maar hy wys ook op die groot wit bladsy. Hy help ons om, tmv die rooi kol in ons samelewing, te leef met ‘n groter bewustheid van die groot wit bladsy.

  1. Petrus begin hierdie gedeelte met ‘n sin (2:11a) waarin jy sy sorgsame hart hoor, maar ook sy meelewing met die gemeente oor die uitdagings waarmee hulle elke dag te doen het. Wat was die rooi kol (uitdagings) van hierdie gemeente? Wat was die groot wit papier (die sorgsaamheid) waarvan hy hulle wil bewus maak? (Die rooi kol [nav bo genoemde voorbeeld] of uitdagings was dat hulle gevoel het soos vreemdelinge en bywoners in hulle eie land. Hulle het dus gevoel soos mense wat slegs tydelike verblyfreg gehad het, wat die omgewing as baie vyandig beleef het [zenofobia]. Hulle het elke dag beleef wat minagting, verwerping en diskriminasie beteken. Hulle het elke dag onwelkom gevoel waar hulle ook al gegaan het. Hulle het dus gevoel soos mense sonder regte. Wat was die groot wit papier: Vir hierdie mense spreek Petrus aan as geliefdes. God het hulle uitgekies, skoongewas (2:24) end eel van sy gemeente gemaak [1:3-2:10). By God en by hulle medegelowiges word hulle met opregte agting hanteer – as mense wat volledig aanvaar word – mense met waarde. Hulle is dus mense wat erken en waardeer word en Petrus wil reg aan die begin van die praktiese implikasie van sy brief dit benadruk.)
  2. Binne hierdie omstandighede gee Petrus ‘n dubbele vermaning, eers negatief en dan positief. Wat was die twee vermanings en wat is die rede vir elkeen?(Moenie aan sinlike begeertes toegee nie en gedra julle altyd goed onder die heidene. Wanneer jy net op die rooi kol in jou lewe fokus, dan word dit nie net groter nie, maar jy voel oorweldig. Dan skop jou veg, vlug of vries [ontrek of konformeer] reaksie in. Dit is ‘n mens se natuurlike reaksie op trauma. Christus het ons van ons sinlike begeertes verlos en deelgemaak van sy kerk op aarde wat Hom nou op aarde verteenwoordig. Ek is nie meer die slagoffer van daardie ingebore gewoontes nie, maar in die plek daarvan het die Here vir my ‘n keuse gegee om te fokus op die groot wit papier en daarom die goeie lewenshouding. Sy doel daarmee is dat mense die voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik, nie noodwendig dadelik nie, maar eendag. Daar is nog ‘n rede: om die siklus van kwaad te deurbreek [15].  Wanneer iemand, soos almal gewoond is, aan hulle sinlike begeertes of natuurlike mens oorgee, dan beteken dit dat daar weer ‘n teenreaksie gaan wees. Deur goed te doen beeindig dit hierdie negatiewe siklus.)
  3. Hier rondom Paastyd dink ons aan Jesus, wat deur sy aardse lewe, die kruis en opstanding ‘n voorbeeld gestel het, sodat ons in sy voetspore kan volg (2:21). Jesus se fokus het Hom laat weggedraai van sy omstandighede en wat met Hom gebeur, na sy Vader se wil. Dit het Hom gehelp om ook sy gedrag te verander tot by die kruis. Hiermee het Jesus vir ons die negatiewe siklus van geweld, haat en vernietiging gebreek en ‘n nuwe moontlikheid oopgenreek.  Hoe sou jy uit hierdie gedeelte ‘n gedragskode vir ons sosiale en politieke lewe [ons elke dag se lewe binne ons konteks], op grond van Jesus se voorbeeld formuleer? (Vers 15 verwoord eintlik so ‘n gedragskode: “Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, ‘n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat”. Hierdie vers moet saam met verse 21-24 gelees word. ‘n Gedragskode sal dan iets wees soos: Dit is die wil van God om, in die voetspore van Jesus, deur goed te doen ‘n einde te maak aan die kwaad in die wêreld.)
  4. Leef dit – Dink bietjie hoe jy/julle as gesin hierdie gedrgskode deel van julle eie lewens/ gesinslewe kan maak. Dink veral hoe julle julleself in die hitte van die oomblik gaan laat herinner om hierdie gedragskode te onthou en waar te maak in jou/ julle gedrag.
  5. Sluit julle gesprek rondom die Bybel af met gebed. Bid dat die Here julle oog sal oopmaak om raak te sien waar julle Hom die afgelope dag sien werk het. Bid dat die Here julle sal help om hierdie gedragskode deel van julle lewe te maak.

Week 8 – 2019 – Sondag 10 Maart 2019

3-Kruis Huiskonneksie

Sondag 10 Maart 2019

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae. Ek moedig julle aan om gebruik te maak van die Faith5-metode: 1. Deel hoogte- en laagtepunte; 2. Lees stukkie in die Bybel; 3. Kyk of daar ’n verband is tussen ons hoogte- en laagtepunte en die teks (hier kan ook vragies wat weekliks gegee word, bespreek of oordink word); 4. Bid vir hoogte en laagtepunte (Hier kan die riglyn by die laaste vraag telkens gebruik word); 5. Seën of bemoedig mekaar.

Teksgedeelte: Lees Johannes 18-19:16 (Lees die teks oor 7 dae – 18:1-11; 28-32; 33-38; 39-19:3; 4-7;  8-10 en 11-16. Hanteer miskien net een van onderstaande vrae per dag.)

Johannes 18-19 beskryf die aanloop en verhoor van Jesus voor sy kruisiging. Ons het tot hiertoe stilgestaan by Jesus se 7 “Ek-is”-uitsprake. Deur hierdie uitsprake het ons gehoor Jesus kom wys vir ons wie God is en hoe Hy is. Hy wys hiermee ook dat Jesus God self is. Die laaste hoofstukke van Johannes beskryf die hofsaak waarin Jesus verhoor word en Pilatus Hom vra of Hy die koning van die Jode is. Jesus verduidelik dat Hy wel ’n Koning is, maar dat sy koninkryk nie soos ander aardse koninkryke is nie. Ons sluit dus hierdie reeks en kwartaal af met Jesus se verduideliking oor wie Hy is. Dít word al duideliker soos Pilatus rondskarrel. Pilatus het wel mag en gesag in Jerusalem, maar God is in beheer en Jesus is die Koning.

Die drie keer wat Johannes die woorde: “Dit is ek” (“Ek is” in Grieks) tydens die inhegtenisneming gebruik, trek onmiddelik aandag en sê vir ons hier is iets anders besig om te gebeur. Jesus tree geensins soos ‘n slagoffer op nie, maar as iemand met Goddelike gesag. Dit is presies hoe Johannes oor Jesus praat tydens sy hele verhoor. Die verhoor word op so manier beskryf dat dit eintlik net een groot ironie is. Terwyl Jesus in die beskuldigings bank staan en verhoor word, is die mense om Jesus eintlik die skuldiges. Die rede hoekom Johannes die verhoor op die manier beskryf is om die gemeente vir wie hy skryf te bemoedig. Hulle het onreg, komplotte teen hulle, valse beskuldigings, verdraaing van die reg elke dag beleef. Vir hierdie mense wil hy hoop gee! Vir hulle wil Johannes help om die vraag te beantwoord: Hoe maak Jesus ’n verskil in ons wêreld?

Die Jode wou nie in Pilatus se ampswoning ingaan nie omdat hulle dan onrein sou word en nie aan die paasmaaltyd sou kon deelneem nie. Daarom is dit Pilatus wat heen en weer beweeg – dan binne by Jesus, dan buite by die aanklaers.

In die verhaal “hardloop” Pilatus heen en weer en sukkel om uit sy moeilike situasie te kom. Hy moet reg laat geskied, maar sy eie ambisie en vrees dryf hom. Hy wil nie in onguns by die Jode of die oppergesag in Rome kom nie. Op die ou end bevind hy Jesus onskuldig, maar gee hom tog oor aan die Jode sodat hulle Hom kan kruisig. In hierdie verhaal staan die aardse regbank (die staat) en die godsdienstige leiers in kontras met Jesus, die hemelse Koning – die Een wat die waarheid openbaar en wys wat dit beteken om in gehoorsaamheid aan God te doen wat die liefde vra.

  1. In die verhoor sien ons dat die Joodse leier ooglopend besig is met ‘n vooraf bekookte bedrogspul. Wat in hulle gedrag staan uit? En hoekom dink jy lê Johannes soveel klem daarop? (Die Joodse leier se gedrag word deur haat gedryf. 1.Hul verloor hulle eie sin vir oordeel [28] – wil seremonieel rein wees om aan Paasmaal deel te neem, maar vra ‘n imorele besluit om Jesus onskuldig te laat kruisig; 2. Hulle verdraai die aanklag drie keer [18:30 – misdadiger,19:7 – Hy sê Hy is die Seun van God, 12 – hoogverraad dus in verset teen die gesag van keiser; 3. Hulle verkrag elke beginsel waarvoor die Joodse geloof staan [19:15] as hulle sê hulle het nie ‘n koning nie, net die keiser, want hulle glo God is Israel se enigste koning. Johannes lê klem hierop omdat hy sy gemeente ook wil waarsku: Jy kan so gefikseer wees op jou waarheid en perspektief, dat jy God se waarheid miskyk. Daarom sy uitdaging aan hulle en ons: Sien jy nog Jesus raak vir wie Hy is?)
  2. Die magtige Pilatus (hy regeer namens die Romeinse keiser) word in hierdie verhaal as magteloos geteken. Waarin is sy magteloosheid sigbaar in hierdie teks en hoekom dink jy vind hy Jesus 3 keer onskuldig, maar lewer hom tog oor om gekruisig te word? Wat wil Johannes hierdeur vir sy gemeente sê?   (Dit is so ironies dat hierdie magtige man die een is wat rondhardloop tussen binne en buite sy huis. Dit is eintlik ’n sigbare teken van sy onbeholpenheid. Hy probeer ook heeltyd loskom van hierdie saak: probeer sy verantwoordelikheid skuif [31], Probeer dit ontduik [39], Probeer kompromieë aangaan [19:1], Hoop simpatie verander Joodse leiers se houding [19:4-5], dan, teen sy beterwete,  laat Hy Jesus kruisig! [19:16]. Amptelik vind hy Jesus drie keer onskuldig [18:38,19:4, 19:6] Hy het nie die durf om sy voet neer te sit nie, want hy word deur Jode afgepers! In vers 12 wys alles daarop dat as hy nie aan die Jode se versoek gaan toegee nie, dan gaan hulle hom by Rome verklaar en hy weet, dan gaan hy sy werk en sy posisie verloor as gevolg van twee vorige insidente en ‘n waarskuwing. Johannes skryf hierdie detail op so manier om sy gemeente te waarsku: moenie jou hoop bou op magstrukture, politieke sisteme of die regstelsel nie. Sit jou hoop op God en Hom alleen.).
  3. In ons teks is Jesus net drie keer aan die woord, maar duidelik die sentale figuur in die verhaal. In elk van die drie kere gaan dit oor ‘n stuk selfopenbaring. Hoe wil die drie momente van Jesus se selfopenbaring ons help om sien watter verskil Jesus in ons wêreld kom maak het en hoe vul dit ons lewens met hoop? (Die eerste van die drie geleentheide [18:5-11] is Jesus se selfopenbaring ‘n erkenning van sy armsalige afkoms [Ek is Jesus van Nasaret], maar dat Hy optree met Goddelike gesag [Hy deins nie terug nie, maar staan regop en tree op met koninlike gesag; Die tweede en derde kere is binne die verhoor eintlik twee ironiese optredes: Jesus word aangekla dat Hy sê dat Hy die koning van die Jode [19:14-15] is – maar Hy is dit, tree met gesag op en Hy verduidelik wat dit beteken [18:36-37]. Hy word aangekla dat Hy die Seun van God is [19:7] – maar sy optrede en sy verduideliking bevestig dat Hy die seun van God is [19:8 & 11]. Jesus help ons om regop te staan wanneer ons slagoffers is; Jesus wil ons die dimensie van sy koninkryk duidelik voor oë laat hou in tye van onreg en swaarkry en ons bewus maak dat Hy ons koning is en dat sy ryk nie met mag en vrees in bedwang gehou word nie, maar met liefde; Daarmee sit Jesus sy hele verhoor en ons lewens in die groter prentjie van God se beheer en groter plan. Jesus se verhoor is veronderstel om ‘n vernietiger van hoop te word, maar Jesus draai dit om in ‘n troonbestyging en ‘n pad van hoop. Die lam word nou gereed gemaak vir die offer, sodat die Paasmaaltyd kan begin. Vanuit die kruis en die opstanding, weet ons dat God juis hierdie gebeurtenis gebruik het om die mag van die mag te breek. )
  4. Leef dit – Kom ons beoordeel bietjie ons eie lewens. Dink bietjie saam oor ’n tipiese week en dag in jou lewe. Probeer bietjie van buite af na jou lewe kyk. Staan jy regop as jy die slagoffer van slegte goed is? Hou jy die koninkryksdimensie in gedagte en dat Jesus jou koning is wat met liefde wil regeer wanneer die lewe onregverdig is en jy valslik beskuldig word? Hou jy rekening met die gedagte dat God agter alle menslike verhale alle mag in die hemel en die aarde beskik? Hoe kan ons hierdie goed prakties uitleef elke dag? Hoe kan ons mekaar gereeld hieraan herinner?)
  5. Sluit julle gesprek rondom die Bybel met gebed af. Bid dat die Here julle oog sal oopmaak om raak te sien waar julle Hom die afgelope dag sien werk het. Bid dat die Here julle sal help om gewoontes en praktyke in julle lewe in te bou wat julle lewens vorm tot sy eer.

Week 7 – 2019 – Sondag 3 Maart 2019

3-Kruis Huiskonneksie

Sondag 3 Maart 2019

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae. Ek moedig julle aan om gebruik te maak van die Faith5-metode: 1. Deel hoogte- en laagtepunte; 2. Lees stukkie in die Bybel; 3. Kyk of daar ’n verband is tussen ons hoogte- en laagtepunte en die teks (hier kan ook vragies wat weekliks gegee word, bespreek of oordink word); 4. Bid vir hoogte en laagtepunte (Hier kan die riglyn by die laaste vraag telkens gebruik word); 5. Seën of bemoedig mekaar.

Teksgedeelte: Lees Johannes 15:1-17

Johannes 15:1-17 kom voor in die tweede hoofdeel van die evangelie (Joh 12-21) wat beklemtoon dat Christus sy lewe aflê ter wille van die verlossing van sy volgelinge. Dit plaas dan ʼn besondere verantwoordelikheid op sy volgelinge om in sy voetspore te loop as mense wat verlos is. Johannes 15 beklemtoon dat Christus die werk van sy Vader kom doen het. Hy is die wingerdstok wat deur sy dood en opstanding ʼn betekenisvolle lewe vir sy volgelinge verseker. Die Vader is die boer, Christus is die wingerdstok. Maar nou kom die interessante! Die vrugte word nie aan die wingerdstok gedra nie, maar aan die lote. En Jesus se volgelinge is die lote wat die vrug van sy aardse bediening (veral sy sterwe en opstanding) moet oplewer en met die wêreld moet deel.

Johannes 15:1-17 bestaan uit twee duidelike dele wat ten nouste met mekaar verband hou. Die eerste deel (15:1-8) gebruik ʼn metafoor om aan te dui dat Jesus se volgelinge net betekenisvol kan leef as hulle in ʼn ware verhouding met Hom leef. Christus is die ware wingerdstok, die Vader is die boer, maar Jesus se volgelinge is die lote wat vrug moet dra. Die temawoorde van hierdie paragraaf is wingerdstok – loot – vrugte – woorde (soek die woorde en dink na oor elkeen se betekenis!) Vrugte kan net ontwikkel as die loot ingebed is in die wingerdstok en as dit nie net ʼn waterloot is nie. Die snoeiskêr wat die lote snoei sodat hulle vrug kan dra, is Jesus se woorde. Dit beteken dat almal wat gehoorsaam is aan wat Hy leer, vrugbare lote word. Die wat ongehoorsaam is, is waterlote wat afgesny en verbrand word. Daar is dus ʼn noodwendigheid. Wie na Christus se woorde luister, word daardeur reg gesnoei, sodat hulle vrugte kan dra.

Die tweede deel (15:9-17) is ʼn verduideliking of toepassing van die metafoor op Jesus se volgelinge (dit is die kerk!). Die temawoorde in hierdie paragraaf is opdrag/bevel – liefde (soek hierdie woorde en dink na oor wat dit beteken!) Die paragraaf verduidelik wat die vrugte is wat gelowiges moet dra, en dis eintlik eenvoudig: die vrugte is liefde. Hoe weet die wêreld dat ek ʼn kind van God is? Ek straal liefde uit! Hoe lyk daardie liefde? Dis totaal onselfsugtig. Dit is om in Jesus se voetspore te loop en bereid te wees om alles vir medegelowiges op te offer! Dit is wat Jesus ons beveel. Dit is die kenmerk van ʼn Christen. Om dit nou in moderne taal te stel – dit is ons “brand.” Dit is in hierdie konteks wat Jesus twee keer sê (vs 7, 16) dat die Vader ons sal gee wat ons vra. Dit beteken nie ek kan maar bid dat die Here my ʼn rooi Mercedes met ʼn afslaankap moet gee nie! Dit is ʼn selfsugtige gebed wat nie die koninkryk van God voorop stel nie! Maar as ek begin bid in ooreenstemming met God se wil, as my wil God se wil word, as ek die Vader se hartklop begin hoor, dan vra ek wat tot sy eer strek (15:8), dan leer ek om my wil deur sy wil te laat buig, dan word ek ʼn loot wat vrugte dra.

Dis ʼn belangrike tema. Johannes 15 staan in ʼn konteks waar Jesus sy dissipels voorberei op sy “weggaan” (14:1-14) en waar Hy inderdaad op die punt is om die kruisweg te stap (18:1-20:31). Wanneer Hy terugkeer na sy hemelse woning, laat Hy egter nie sy kerk alleen nie. Hy stuur sy Gees (14:15-31) om by sy kerk teenwoordig te wees. Maar dan moet sy kerk Hom in ʼn wrede en vyandige wêreld, waar haat hoogty vier (15:18-16:4) verteenwoordig. Hoe? Deur lief te hê! Paulus verwoord in Galasiërs 5:22-23 mooi wat Johannes in gedagte het: “Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Dis ʼn kind van God se brand. Is dit hoe jy lyk? Want net as jy so lyk, kan jy ʼn loot wees wat vrugte dra!

  1. Wat dink julle beteken dit dat Jesus die ware wingerdstok is vir ons as gelowiges in die werklikhede waarmee ons elke dag te doen het? (Ons is geneig om ons blind te staar teen die baie negatiewe goed wat ons lewe beïnvloed. Johannes wil hê ons moet ʼn groter werklikheid kan raaksien – die werklikheid dat God in ons lewe teenwoordig is, wat ons ook al beleef. Die implikasie van Jesus as wingerdstok is dat sy volgelinge die lote is wat vrugte moet dra. Die vrugte word in een woord saamgevat: liefde! Is dit jou brand, die kenmerk waaraan mense kan sien jy is ʼn kind van God?)
  2. Vir Johannes is verbondenheid aan en gehoorsaamheid aan Christus die absolute noodsaaklike voorwaarde vir ʼn lewe wat vrugte oplewer – dit is betekenisvol leef. Lees wee Johannes 15:1-17 en kyk hoeveel keer die temawoorde wingerdstok – loot – vrugte – woorde- bevel/opdrag – liefde daar voorkom. Wat leer ons hieruit oor hoe ʼn betekenisvolle lewe lyk? (Betekenisvol leef beteken nie om suksesvol of ryk of gesond of belangrik of aantreklik te wees nie. Betekenisvol leef beteken om God in ʼn wrede, haatlike wêreld te verteenwoordig en deur my liefdevolle teenwoordigheid ʼn verskil in mense se lewens te maak. Versprei ons liefde of haat?).
  3. Hoe wil die Here hê moet ek en jy reageer op hierdie teks? (Ons lewe word bepaal deur God se liefde vir ons en die liefde wat ons moet uitdeel aan ʼn honger wêreld. Niemand kan die werklikheid van ons omstandighede ontken nie. Johannes se gemeente kon dit ook nie doen nie! Hulle is immers vervolg en doodgemaak juis omdat hulle glo! Maar my verbondenheid aan Christus laat my lewe anders lyk en laat my anders dink en anders optree. Dit bring ʼn nuwe, diep, positiewe dimensie in my lewe in. Dit laat my liefde lewe!)
  4. Leef dit – Kom ons beoordeel bietjie ons eie lewens. Dink bietjie saam oor ’n tipiese week en dag in jou (julle) lewe. Probeer bietjie van buite af na jou lewe kyk. Jubel jy? Getuig jou lewe daarvan dat alles wat jy is en dink en doen gerig word deur liefde? Begin vandag om ʼn pad met die Here te stap wat jou uit gister en uit more in jou werklikheid ontmoet. Begin leef!)
  5. Sluit julle gesprek rondom die Bybel met gebed af. Bid dat die Here julle oog sal oopmaak om raak te sien waar julle Hom die afgelope dag sien werk het. Bid dat die Here julle sal help om gewoontes en praktyke in julle lewe in te bou wat julle lewens vorm tot sy eer.

Week 6 – 2019 – Sondag 24 Februarie 2019

3-Kruis Huiskonneksie

Sondag 24 Februarie 2019

Teksgedeelte: Lees Johannes 13:1, 2, 4-5, 12-17, 33-35, 14:15-21, 23, 15:9-10, 17. (Die verse mag baie lyk maar deel dit op in korter eenhede. Lees by voorbeeld eerste dag tot 13:17, tweede 13:33-35, derde dag 14:15-21, vierde dag 14:23 en vyfde dag 15:9-17)

Ons het vorige week gesien dat Jesus sy dissipels voorberei op sy weggaan. Eintlik was Jesus se hele aardse bediening ingestel op hierdie voorbereiding. Johannes beskryf in sy evangelie dat dat niemand God nog ooit gesien het nie, maar dat Jesus Hom kom bekend maak het (Joh 1:18). Ons kan Jesus se aardse bediening as ‘n stroom beskryf wat uit die hemel kom en soos ‘n rivier gevloei het daar waar Jesus op aarde rondbeweeg het. Wie in hierdie stroom beland het se lewens het radikaal verander. Hierdie stroom het ook ‘n reuse effek op die wêreld se geskiedenis gehad. Ons kan hierdie stroom as Jesus se missie beskryf. God het Jesus gestuur om sy hart vir mense te kom wys. Jesus het sy dissipels in hierdie stroom ingetrek (so trek Hy ons ook vandag nog in hierdie stroom in) en so gewys wie God is en wat Hy besig is om te doen (Johannes 1-11). In die tweede gedeelte van Johannes se evangelie, wat Jesus se afskeid, kruispad, opstanding, hemelvaart en uitstorting van die Heilige Gees beskryf, is so half ‘n stroomversnelling. Hy berei sy dissipels voor om hierdie stroom van God se liefde (sy missie) voort te sit wanneer Hy weggaan (Joh. 20:21). Jesus het gekom om die wêreld te kom verander, maar nie met mag en geweld nie, maar met liefde. In bogenoemde teksgedeeltes wys en beskryf Hy dan hoe sy dissipels (sy kerk) hierdie missie kan voortsit. Die goue draad wat deur bogenoemde tekste loop is liefde. Hierdie liefde is egter nie ingestel op eie belange en selfbehoud wat deur mag en vrees bewerk word nie. Hierdie liefde is ingestel op die heelheid van mense en daarom fokus dit op ander se belange en vra ‘n gesindheid van selfopofferende liefde en diens. Omdat Jesus weet dat liefde nie ‘n gevoel is wat sommer so uit ons harte opspring nie, het Hy sy dissipels in die stroom van sy liefde ingetrek. Daar het Hy reeds en gaan Hy tot en met die uitstorting van die Heilige Gees hulle harte verander. Hy trek ons dus eers in sy liefde in voordat Hy ons stuur om ander met sy liefde lief te hê.    

  1. As die voete-was-gebeurtenis gesien kan word as ‘n voorbeeld van Jesus se gesindheid en liefde (stroom van God se liefde) – hoe sou jy Jesus-liefde beskryf ? (Liefde is nie net ’n gevoel nie, maar ‘n ingesteldheid en ‘n gesindheid teenoor mense – dit is om in jou hart geraak te wees, maar ook om dinge te doen! Liefde is om met God se hart teenoor mekaar en in hierdie wêreld te leef. Liefde is om nie net op jou eie belange te fokus nie. Liefde is om met God se oë te sien, met sy ore te hoor en met sy hart te voel. Liefde is dan om in mense se skoene te staan en melewing te ervaar met hulle. Liefde stop dan nooit net daar nie, maar beweeg verder om te doen wat nodig is vir die situasie!)
  2. Jesus se nuwe gebod in 13:34-35 kan letterlik soos volg vertaal word: “Hou aan om mekaar lief te hê soos ek julle liefgehad het, so moet julle aanhou om mekaar lief te hê. 35. Almal sal weet dat julle My dissipels is as julle aanhou om mekaar lief te hê”. Hoekom dink jy (julle) het Jesus so klem gelê op die feit dat hulle mekaar moet liefhê soos Hy hulle liefgehad het en dat hulle moet aanhou om mekaar lief te hê? (Liefde kom nie so natuurlik by mens op nie, maar word gebore in God se hart. Daarom trek Jesus ons eers in die stroom van God se liefde in. Dit gebeur wanneer ons Hom volg (ons glo). Sy Gees is dan in ons en leef deur ons (14:15-21 & 23). Om so in God se stroom te wees (vergelyk verlede week se stukkie), verander ons gesindheid en ingesteldheid. Binne hierdie stroom van God se liefde reageer ons anders op mekaar. Dit is vir Jesus belangrik dat sy dissipels in die stroom van God se liefde bly.  Eers dan is dit God se liefde wat in en deur sy dissipels vloei. Die gemeente vir wie Johannes skryf was vervolg en het ook gehoop dat dinge kan verander soos die dissipels in ons teks gehoop het. Johannes se aanmoediging is dat mag en geweld van doie owerhede se kant en vrees van hulle kant nie die dinge gaan verander nie, maar alleen wanneer hulle in die stroom van God se liefde bly. Hierdie onderlinge liefde sal mense op hulle pad aanraak. Die vroeë kerk was bekend daarvoor dat hulle in moeilike omstandighede aangehou het om liefde uit te leef teenoor mekaar (onderlinge versorging vgl.  ook Hand.2:43-47) en die mense wat uitgestoot is uit die samelewing. Hierdie gedrag van die vroeë Christene het ’n merkbare invloed gehad, sodat die owerhede later bang geword het vir die Christene omdat hulle getalle so dramaties toegeneem het.  So wil die Here vandag nog in moeilike tye ons herinner om nie na mag en geweld te gryp nie en om ook nie in die trunk van vrees terug te trek nie. Dit is slegs deur en in die stroom van God se liefde wat ek en jy en ons wêreld gaan verander.)
  3. Hoe kan ons vandag prakties hierdie liefde van Jesus uitleef? (Johannes spel nêrens in sy evangelie of selfs in sy briewe presies uit wat ons moet doen en wat ons moet ophou doen wanneer ons liefhet nie. Hy aanvaar liefde het ’n inherente wysheid om sensitief aan te voel wat die ander nodig het. Jy hoef liefde nie te reglementeer (vas te maak in wetjies en moets en moenies nie) – as dit eg is – doen dit spontaan die beste ding wat nodig is vir die situasie. God vra nie in die eerste plek dat ons ander moet liefhê nie, maar dat ons Hom moet liefhê en om Hom dan toelaat om deur ons ander lief te hê. Tog is Johannes oor een ding baie duidelik – liefde begin by mekaar (mede dissipels) die mense saam met jou in die stroom.  Miskien moet ons begin in ons huise: doen iets vir iemand in jou gesin/ ons gemeente wat daardie persoon nodig het sonder dat die persoon dit vir jou vra. Doen as gesin iets diensbaar vir iemand wat siek is, of bv. ’n baba ryker geword het of deur ’n moeilike tyd gaan.  Die Here sal jou oog oopmaak vir iets wanneer jou gesindheid reg is.)
  4. Leef dit – Kom ons beoordeel bietjie ons eie lewens. Dink bietjie saam oor ’n tipiese week en dag in jou (julle) lewe. Probeer bietjie van buite af na jou/julle lewe kyk. Word jou lewe deur liefde gedryf? Getuig jou lewe van ’n gesindheid wat nie selfsugtig is en net op jou eie belange fokus nie, maar selfopofferend is en op die belange van ander fokus? Besef dat jy is deel is van God se stroom van liefde, waarmee Hy jou en sy wêreld wil verander.)
  5. Sluit julle gesprek rondom die Bybel met gebed af. Bid dat die Here julle oog sal oopmaak om raak te sien waar julle Hom die afgelope dag sien werk het. Bid dat die Here jou/julle harte en gesindheid sal verander en jou/julle oog sal oopmaak en jou sensitief sal maak vir mense wat sy liefde nodig het.

Week 5 – 2019 – Sondag 17 Februarie 2019

3-Kruis Huiskonneksie

Sondag 17 Februarie 2019

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae. Ek moedig julle aan om gebruik te maak van die Faith5-metode: 1. Deel hoogte- en laagtepunte; 2. Lees stukkie in die Bybel; 3. Kyk of daar ’n verband is tussen ons hoogte- en laagtepunte en die teks (hier kan ook vragies wat weekliks gegee word, bespreek of oordink word); 4. Bid vir hoogte en laagtepunte (Hier kan die riglyn by die laaste vraag telkens gebruik word); 5. Seën of bemoedig mekaar.

Teksgedeelte: Lees Johannes 14:1-14

Hierdie teksgedeelte val in die tweede hoofdeel van die Johannes evangelie. In die tweede helfte (Joh 12-21) word beklemtoon dat Jesus sy lewe aflê ter wille van die verlossing van sy volgelinge. Johannes 14 vorm die eerste deel van Jesus se afskeidsgesprekke wat van hoofstuk 14-17, waarskynlik in die bovertrek (waar Jesus die nagmaal ingestel het en sy dissipels se voete gewas het), plaasgevind het. Johannes 13 vorm die agtergrond van die afskeidsgesprekke. In hoofstuk 13 het Jesus nie net fisies sy dissipels se voete gewas nie, maar daardeur sy taak en doel en ook sy gesindheid (Hy het kom dien) opgesom en daarmee saam vooruit die betekenis van sy kruispad simbolies gedemonstreer. Net na die voetewas het Jesus aangekondig dat een van die dissipels Hom gaan verraai en een Hom gaan verloën. Die kersie op die koek was dat Hy aangekondig het dat Hy weggaan. Johannes 14 is dan die eerste deel waar Jesus sy dissipels voorberei op sy weggaan. Die nuus van Jesus se weggaan en sy aankondiging dat een van hulle Hom gaan verraai en een Hom gaan verloën, het ‘n diepe gevoel van ontsteltenis veroorsaak. Voeg daarby hulle skaamte oor die feit dat nie een van hulle die voete-was-ding wou doen voor die pasga nie, help ons om te verstaan waar die dissipels presies op daardie oomblik in hulle koppe was. Dis vir hierdie dissipels wat Jesus kom sê dat hulle nie langer moet ontsteld wees nie en dit is vir hiedie dissipels wat Jesus kom sê dat hulle moet aanhou glo in Hom. Daar is vandag ook verskriklik baie dinge wat in ons lewens gebeur wat ons by hierdie soort ontsteltenis en vrees uitbring. Daarom geld hierdie woorde vandag nog vir ons ook. Hierdie paar verse wil drie redes gee hoekom hulle (en ons vandag) nie langer ontsteld moet wees nie en moet aanhou glo: 1. Wat Hy nou gaan doen (kruispad – dood, opstanding, hemelvaart) is deel van God se groter plan – Hy gaan na die Vaderhuis toe om vir hulle (ons) plek gereed te maak. 2. Hy kom dan terug (uitstorting van HG & wederkoms) sodat Hy hulle (ons) kan neem om by Hom te wees (Letterlik staan daar: om van aangesig tot aangesig by Hom te wees – in sy teenwoordigheid en omhelsing). 3. Hulle kan ook daar kom: “Ek is die weg, waarheid en lewe…” Wie in Jesus glo, het toegang tot die ware lewe wat Jesus kom wys het. Dit is God se waarheid en hierdie waarheid bind ons aan die lewe (Ewige) wat God vir ons in Jesus kom wys het (Joh. 3:16). Hierdie woorde word nie net eendag waar by die wederkoms nie, maar Jesus deel dit met sy dissipels voor sy dood, dat hulle na sy dood, opstanding, hemelvaart en uitstorting van die HG nie in ontsteltenis in sak en as sit nie, maar juis dan aanhou glo!

  1. Wat was die rede vir die ontsteltenis van Jesus se dissipels? Hoekom dink jy was hulle so ontsteld? (Deel eers self julle gedagtes. Jesus se aankondiging dat Hy weggaan en die gebeure reg voor hierdie teks is die rede vir hulle ontsteltenis: hulle is dus hartseer oor slegte vooruitsigte – wat gaan van hulle word? Is dit nou die lewe? ons het alles verlaat met vooruitsigte van ’n goeie toekoms om nou te hoor Hy gaan weg; hulle is skaam a.g.v. hulle eie selfsugtige en trotse optrede by die voetewassing; hulle is radeloos en verward oor Jesus se aankondiging da teen van hulle Hom gaan verraai; hulle is wankelend in hulle geloof; hoe kan iemand wat oorgelewer gaan word die Mesias wees?)
  2. Hoe reageer Jesus op hulle ontsteltenis? (Hy sê hulle moet aanhou glo (vertrou), Hy gaan vir hulle plek maak in die Vaderhuis en dan kom Hy hulle haal. Wanneer hulle nie verstaan nie, verduidelik Hy alles met die “Ek-is”- uitspraak. Geloof is die dinamiese voortdurende aksie van ons as mense. Dit is om Christus se woorde te hoor (5:24), na sy stem te luister (5:25), van die lewende water te drink (4:14;7:37), van die brood van die lewe te eet (6:50,51,58), om na Hom te kom (5:40), ens. Geloof verbind ons aan die lewe. Geloof is dan die woord wat die band of  gemeenskap wat ons met die Vader in die Vaderhuis het, beskryf.)
  3. Wat bedoel Jesus met die woorde: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Dink net eers self oor hierdie sinnetjie. Jesus het gekom om die waarheid oor God en die lewe met alle mense te kom deel (Joh 316). Wanneer Hy dus sê ek is die weg, dan kom deel Hy dat Hy nie net gekom het om ons die weg te leer, op die pad te begelei of omdat Hy ’n nuwe weg/manier van lewe kom wys het nie (dit beslis ook), maar Hy is die weg (wie in Hom glo het toegang tot God en die ware lewe. Die waarheid van God gaan oor die feit dat alles wat Jesus oor God vir hulle gesê, wys en doen het, is waar; Dit gaan oor hoe God die mens kom bevry het van allees wat die sin van die lewe van ons kom steel het. Die lewe het nou alles te doen met die lewe wat Jesus vir ons kom wys het en kom moontlik maak het. Geloof in Jesus verbind ons nou aan hierdie lewe. Hy het gaan plek gereedmaak en toe in die gestalte van die HG na die aarde toe gekom en verbind ons voortdurend (geloof) deur die HG aan hierdie nuwe lewe. Lewe kry dus eers sin wanneer ek en jy voortdurend in hierdie lewnensgemeenskap met God lewe.)
  4. Hoe wil die Here hê moet ek en jy reageer op hierdie teks? (Ons lewe mag nie langer deur ontsteltenis en vrees bepaal word nie. Niemand kan die werklikheid van ons omstandighede ontken nie. Johannes se gemeente kon dit ook nie doen nie! Hulle is immers vervolg en doodgemaak juis omdat hulle glo! Maar geloof bring ʼn nuwe, diep, positiewe dimensie in my lewe in. God het vir ons plek by die Vader gaan gereedmaak. Hy bly deur sy Gees in ons. Deur geloof in Jesus het ons vrye toegang tot die Vader en so die lewe. Dit laat my in gemeenskap met die Vader lewe. Vanuit hierdie verbintenis vloei God se perspektief, hoop en nuwe lewe in ons lewens in.)
  5. Leef dit Kom ons beoordeel bietjie ons eie lewens. Dink bietjie saam oor ’n tipiese week en dag in jou (julle) lewe. Probeer bietjie van buite af na jou lewe kyk. Word jou lewe deur vrees en ontsteltenis beheer of deur die eenheid wat jy met God beleef? Getuig jou lewe daarvan dat alles wat jy is, dink en doen dat jy in en vanuit die teenwoordigheid van die Here lewe ? Jou Bybellees en bid behoort baie meer te wees as net ‘n plig wat jy nakom. Dit is die middele wat God wil gebruik om my en jou op ‘n dieper vlak in sy teenwoordigheid in te trek, sodat ons daar met sy oë na die lewe kan kyk en uit sy hart kan begin lewe. Begin leef!)
  6. Sluit julle gesprek rondom die Bybel met gebed af. Bid dat die Here julle oog sal oopmaak om raak te sien waar julle Hom die afgelope dag sien werk het. Bid dat die Here julle sal help om gewoontes en praktyke in julle lewe in te bou wat julle lewens vorm tot sy eer.

Week 4 – 2019: Sondag 10 Februarie 2019

3-Kruis Huiskonneksie

Sondag 10 Februarie 2019

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae. Ek moedig julle aan om gebruik te maak van die Faith5-metode: 1. Deel hoogte- en laagtepunte; 2. Lees stukkie in die Bybel; 3. Kyk of daar ’n verband is tussen ons hoogte- en laagtepunte en die teks (hier kan ook vragies wat weekliks gegee word, bespreek of oordink word); 4. Bid vir hoogte en laagtepunte (Hier kan die riglyn by die laaste vraag telkens gebruik word); 5. Seën of bemoedig mekaar.

Teksgedeelte: Lees Johannes 11:17-27

In die evangelie van Johannes verteenwoordig Johannes 11 die hoogtepunt van die eerste hoofdeel (Joh 1-11) wat daarop gemik is om die Johannese gemeente te oortuig dat Jesus Christus die Seun van God is. In die tweede hoofdeel (Joh 12-21) word dan beklemtoon dat Hy sy lewe aflê ter wille van die verlossing van sy volgelinge. Johannes 11 beklemtoon dat Christus mag het oor lewe en dood. Om dit op ʼn ander manier te stel: God wil hê ons moet lewe, en ons lewe – ons ewige lewe – is vas en seker. Die opwekking van Lasarus uit die dood is ʼn teken van die magtige teenwoordigheid van God te midde van die werklikheid van hartseer en siekte en dood en kommer en onsekerheid en twyfel (Joh 11:4, 40). Die lewe en werk van Jesus is die teken daarvan en die waarborg daarvoor. In hierdie verband speel Johannes 11:25-26 ʼn sleutelrol. Die twee verse sê drie belangrike goed. Die eerste is dat Jesus die opstanding is. Dit rig my lewe na die toekoms toe, want ek weet ek lewe, al sterwe ek ook. Die dood is nie die bepalende faktor in my lewe nie, maar die LEWE! Die tweede is dat Jesus die lewe is. Dit beteken dat my lewe staan in die teken van lewe, dat ek nou weet dat ek reeds die ewige lewe het, daarom kan ek seker wees dat ek in alle ewigheid nie sal sterwe nie! Die derde (en verskriklik belangrike!) boodskap is dat Christus net my waarborg vir opstanding en lewe is as ek glo. Geloof is die sleutel wat God se beloftes vir my waar maak en in my lewe laat realiseer. Wat God reeds vir my gedoen het, moet ek glo en my eie maak. Glo jy dit? (Joh 11:26).

  1. Wat dink julle beteken dit dat Jesus die opstanding en lewe is vir ons as gelowiges in die werklikhede waarmee ons elke dag te doen het? (Ons is geneig om ons blind te staar teen die baie negatiewe goed wat ons lewe beïnvloed. Johannes wil hê ons moet ʼn groter werklikheid kan raaksien – die werklikheid dat God in ons lewe teenwoordig is, wat ons ook al beleef. Opstanding en lewe moet my lewe definieer, nie dood en verval nie. Dit is belangrik om te onthou dat die Johannesevangelie een van die laatste boeke in die Nuwe Testament is. Christene is toe reeds ter wille van hulle geloof vervolg en doodgemaak. Dis in so ʼn konteks dat Johannes ons herinner dat Jesus die opstanding en die lewe is!)
  2. Vir Johannes is geloof die sleutel wat God se beloftes vir my oopsluit. Lees weer Johannes 11:25-27 en kyk hoeveel keer glo/geloof daar voorkom. Wat leer ons hieruit oor geloof en hoe kan ons dit in die praktyk toepas? (Dis belangrik om te onthou dat geloof nie gegrond is op my prestasies of my omstandighede nie. Geloof is om seker te wees van God, nie van myself nie. Geloof is om aan God te bly vashou, al stort my wêreld ook in duie. Geloof is om te weet Jesus is die opstanding en die lewe, en dit is op daardie fondament wat ek my lewe bou. My lewe is gewortel in die seker wete dat God in beheer is en dat Hy verlos).
  3. Hoe wil die Here hê moet ek en jy reageer op hierdie teks? (Ons lewe word bepaal deur opstanding en lewe, nie deur dood en verval nie! Niemand kan die werklikheid van ons omstandighede ontken nie. Johannes se gemeente kon dit ook nie doen nie! Hulle is immers vervolg en doodgemaak juis omdat hulle glo! Maar geloof bring ʼn nuwe, diep, positiewe dimensie in my lewe in. Dit laat my opstaan en lewe!)
  4. Leef dit – Kom ons beoordeel bietjie ons eie lewens. Dink bietjie saam oor ’n tipiese week en dag in jou (julle) lewe. Probeer bietjie van buite af na jou lewe kyk. Jubel jy? Getuig jou lewe daarvan dat alles wat jy is en dink en doen gerig word deur opstanding en lewe? Begin vandag om ʼn pad met die Here te stap wat jou uit gister en uit more in jou werklikheid ontmoet. Begin leef!)
  5. Sluit julle gesprek rondom die Bybel met gebed af. Bid dat die Here julle oog sal oopmaak om raak te sien waar julle Hom die afgelope dag sien werk het. Bid dat die Here julle sal help om gewoontes en praktyke in julle lewe in te bou wat julle lewens vorm tot sy eer.

 

 

Week 3 – 2019: Sondag 3 Februarie 2019

                                                      3-Kruis Huiskonneksie                                                       Sondag 3 Februarie 2019

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae. Ek moedig julle weereens aan om gebruik te maak van die Faith5-metode: 1. Elkeen in die huis deel hoogte- en laagtepunte van die dag; 2. Lees die stukkie in die Bybel; 3. Kyk of daar ’n verband is tussen ons hoogte- en laagtepunte en die teks (hier kan ook vragies wat weekliks gegee word, bespreek of oordink word); 4. Bid vir hoogte en laagtepunte (Hier kan die riglyn by die laaste vraag telkens gebruik word); 5. Seën of bemoedig mekaar.

Teksgedeelte: Lees Johannes 10:1-15

In die Ou Testament was die herder-beeld baie bekend. Die koning het dikwels bekend gestaan as ’n herder en die leiers is ook herders genoem. Die Here is alreeds in die Ou Testament ook ‘nherder genome. Die bekendste tekste oor herders in die Ou Testament is Ps. 23 en Esegiël 34. Hierdie week se Ek-is-die-goeie-herder-uitspraak van Jesus sluit aan by die Outestamentiese tekste en staan ook in ‘n baie noue verband met die vorige week se Ek-is-die-ingang-uitspraak. Die optrede van die herders en hul skape, wat bekend was by die hoorders, word weereens hier gebruik om te sê dat God vir sy mense is soos ‘n goeie en sorgsame herder teenoor sy skape.  Van hierdie Herder word die volgende gesê: i. Hy gaan in by die deur en word verwelkom deur die wagter (3); ii. Hy roep sy skape op hulle naam (3) en hy ken hulle baie goed (14,15); iii. Hy lei hulle uit (3); iv. Hy gaan voor hulle uit (4); v. Hy word herken en gevolg deur sy skape (3,4); vi. Hy verskaf toegang tot all seëninge (7-9); vii. Hy gee oorvloedige lewe (10, 27,28); viii. Hy lê sy lewe vir sy skape af (11,14); ix. Hy begelei sy skape (4) en vergader ook ander skape sodat almal een kudde kan word van een herder (16); x. Hy word liefgehê deur die Vader.

Van Jesus as goeie herder word drie dinge gesê waar Hy die teenoorgestelde is en optree as die Fariseërs en leiers (herders) van sy tyd: 1. In teenstelling met die Fariseërs wat as vreemdelinge (5) beskryf word, ken Hy sy skape. Hierdie ken is nie net ‘n kennis dra van hulle nie, maar ‘n dieper ken soos om in ‘n verhouding met hulle te hê, want Hy ken hulle op hulle name (3) en hulle ken sy stem (4). 2. In teenstelling met die Fariseërs wat as diewe en rowers (1,8,10) beskryf word, noem Hy sy skape sy eiendom (3,4,14). 3. In teenstelling met die fariseërs wat as huurlinge (12,13) beskryf word, het Hy sy skape lief tot die punt waar Hy bereid is om sy lewe lewe af te lê vir sy skape.

Die volgende karaktereienskappe van die skape word beskryf: 1. Hulle luister na die herder se stem, maar hulle luister nie na vreemdelinge nie (3-5); 2. Hulle volg die herder, maar hardloop weg van vreemdelinge (4,5); 3. Hulle gaan by die deur in, word op die manier gered, versorg en beskerm, maar hulle gaan ook uit en vind goeie weiding en kry lewe in oorvloed (9-10). 4. Hulle vind geborgenheid, sorg en liefde in ’n uitgelewerde wêreld (14). 5. Hulle (skape van ander kraal en hierdie kraal) word as kudde aan mekaar gebind (16).

  1. Die herders, heersers (kerk) in Jesus se tyd, het daarin misluk om sorgsaam, barmhartig en liefdevol teenoor die owerspelige vrou (Joh 8) en die blindgeborene en sy familie (Joh 9) op te tree nie. Jesus, daarenteen, betoon die Vader se genade aan hulle. Wat hoor ons van Jesus as goeie Herder in hierdie teks? (Laat almal saam dink oor wat die beeld ons wil help verstaan van wie en hoe God is. In bo genoemde paragraaf sal jy iets hiervan lees.)
  2. Hoe raak Jesus se herderskap ons lewe? (Miskien kan die vraag eers mooi hanteer word wanneer ons dinge in die lewe identifiseer waar ons ‘n herder nodig het. Hier kan veral gedink word aan dinge in die lewe wat oor ons pad kom wat ons laat vrees, stress, bekommer, paniekerig maak, angstigheid en depressie beleef. Dit bring dan gevoelens van alleenheid, onsekerheid, magteloosheid, uitgelewerdheid, oorweldiging, vrees en hooploosheid oor ons pad. Dit is juis hier waar Jesus se herderskap vir my en jou prakties wil help en nuwe hoop gee.)  
  3. Wat is die rol van die skape in hierdie teks en hoe kan ons dit prakties doen vandag? (Hierbo word in die laaste paragraaf na die karaktereienskappe van die skape verwys. Deel met mekaar hoe julle prakties hieraan uitvoering kan gee.)
  4. Wat is die implikasie van hierdie woorde van Jesus op ons gewoontes van elke dag? (Dink eers saam op julle eie hieroor. Hierdie gedeelte beskryf ‘n baie spesiale hegte verhouding en spesiale band wat daar tussen die herder en sy skape bestaan. Om so ‘n verhouding te kan ontwikkel vra tyd. Die gewoontes wat ontwikkel kan word om ‘n verhouding te laat ontwikkel en groei is volgens hierdie gedeelte om te luister, om Jesus te volg en om aan Hom verbonde te lewe as ons uit sy oorvloedige lewe wil ervaar.)

Leef ditLuister en volg het alles te doen met daagliks tyd maak om Bybel te lees en bid en daardeur die stem van die Here te leer ken. Om te doen wat Hy in sy Woord sê, het alles te doen met volg. Verhouding: Om bewustelik te onthou dat Hy by ons is en dat Hy soos ‘n herder by ons is en sy liefde en sorgsaamheid in ons laat invloei, het alles te doen met die oorvloedige lewe. Maak ‘n punt daarvan om elke dag hierdie week mekaar te herinner om Bybel te lees en te bid en om bewustelik – selfs met ‘n simbooltjie – te onthou dat Jesus as Hereder elke dag saam met julle is.

Sluit julle gesprek rondom die Bybel met gebed af. Bid dat die Here julle oog sal oopmaak om raak te sien waar julle Hom die afgelope dag sien werk het. Bid dat die Here julle oog ooknsal oopmaak om te sien hoe Hy as herder by julle teenwoordig is/was elke oomblik van die dag en waar julle sy herderskap teenwoordig kan maak waar jy is.

Week 2 – 2019: Sondag 27 Januarie 2019

                                                    3-Kruis Huiskonneksie                                                      Sondag 27 Januarie 2019

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae. Ek moedig julle weereens aan om gebruik te maak van die Faith5-metode: 1. Elkeen in die huis deel hoogte- en laagtepunte van die dag; 2. Lees die stukkie in die Bybel; 3. Kyk of daar ’n verband is tussen ons hoogte- en laagtepunte en die teks (hier kan ook vragies wat weekliks gegee word, bespreek of oordink word); 4. Bid vir hoogte en laagtepunte (Hier kan die riglyn by die laaste vraag telkens gebruik word); 5. Seën of bemoedig mekaar.

Teksgedeelte: Lees Johannes 9:34 & Joh. 10:1-10

Jesus is besig om die funksie van die tempel (kerk) en hoe ‘n verhouding met God binne die konteks van die tempel (kerk) behoort te werk. In hierdie gedeelte stel hy dan twee maniere van optree (twee groepe) teeonoor mekaar: Die Joodse leiers en fariseërs se manier aan die een kant en sý optrede en hoe Hy wil hê dat sy volgelinge dit moet benader aan die ander kant. Ons lees in die vorige twee hoofstukke (Joh. 8 en 9) hoe die Joodse leiers en fariseërs opgetree het teenoor die vrou wat op heterdaad in owerspel betrap is en hoe hulle die blindgebore man vir wie Jesus genees het, uitban uit die tempel omdat hy toegelaat het dat Jesus hom op die Sabbat genees. In beide gevalle kyk hulle net na die wet (owerspel = steniging en op die Sabbat mag niemand werk nie) en pas dit toe na die letter, maar die bedoeling van die wet (die herstel van ‘n sondaar en begeleiding tot ‘n oorvloedige lewe) word heeltemal buite rekening gelaat. Dit skep ‘n baie skewe beeld van wie God is en hoe Hy optree. Dit is hoe mense die tempel gesien en beleef het en dit is hoe mense vandag nog dikwels die kerk beleef. Jesus kom wys die alternatief.

Jesus vertel eers vir hulle ‘n bekende storie (10:1-5) van hoe dit werk wanneer herders hulle skape versorg. Herders neem hulle skape na ‘n klipkraal in die omgewing elke aand, sodat hulle beskerm kan wees teen wilde diere en diewe in die nag. Dikwels het ‘n klompie herders hulle skape saam in dieselfde kraal gejaag. Hulle slaap dan by die ingang van die kraal. Die volgende oggend het elke herder in sy eie rigting geloop en sy skape geroep en hulle het hom gevolg. Dan (10:6-10) pas Hy hierdie beeld toe op die tempel (kraal) wat moet dien as ’n veilige bymekaarkomplek vir mense wat aan Hom behoort (sy skape). Wanneer Hy sê dat Hy die ingang (hek, deur) is, dan wil Hy drie dinge daarmee duidelik maak: 1. Hierdie is ‘n uitnodigende ingang. Mense dink dikwels die tempel (kerk) is daar om mense uit te hou (soos Joodse leiers), maar dit is nie hoe dit moet wees nie. Die inhang wil innooi sodat mense nie die prooi word van wilde diere en roofdiere nie 2. Hierdie ingang wil sy skape veilig hou en beskerm. Heling, versoening, beskerming en oorvloed is die bedoeling van die tempel (kerk) en ‘n verhouding met God, nie veroordeling en vernietiging nie. ‘n Verhouding met God en die tempel (kerk) behoort die ruimte te wees waar mense dit kan beleef. 3. Die Herder lei sy skape elke oggend deur die ingang na goeie weiding, dat hulle oorvloed kan geniet. Dit werk nie soos wat die Joodse leiers doen deur mense te veroordeel en verban, sodat hulle daar buite uitgelewer is om van die krummels wat na hulle kant toe kom kan lewe nie, maar dat hulle deelgemaak word van die kudde en die goeie sorg van die Herder kan beleef. Volgende Sondag gaan meer fokus op hierdie laaste punt.

  1. Wat wil Jesus met die uitspraak – Ek is.. die ingang (hek of deur) – met ons deel? (Laat almal saam dink oor wat die beeld ons wil help verstaan van wie en hoe God is. In bo genoemde paragraaf sal jy iets hiervan lees [dit is genommer 1-3])
  2. Wat is dit wat maak dat jy onwelkom/welkom voel by iemand/in die kerk? (Hier is eintlik vier vrae in een. Vanuit die eerste opsies kan julle beweeg na die tweede opsies dws begin eers by welkom/onwelkom by iemand? dan welkom/onwelkom by die kerk? Hierdie vraag het alles te doen met menselike ervaring, maar help om die betekenis van die teks maklik te snap. Praat ook oor dit wat julle ervaar en hoor hoekom mense nie meer na ‘n erediens toe wil gaan nie.
  3. Wat kan jy/ons doen dat mense meer welkom by jou/ons voel wanneer hulle by jou/julle kom kuier/wanneer hulle erediens of kerk toe kom? (Hierdie is weer twee vrae in een. Begin eers met die eerste opsie: wat ons kan doen om mense meer welkom te laat voel as hulle by ons kom kuier? en dan die tweede:… erediens of kerk. Die vraag het dus nie regte of verkeerde antwoorde nie, maar vra na moontlikhede.)
  4. Wat is die implikasie van hierdie woorde van Jesus op ons gewoontes van elke dag? (Dink eers saam op julle eie hieroor. Hier is dit miskien belangrik om net voordat ons verder dink, eers te onthou dat kerk nie ‘n gebou is of dit wat rondom ‘n kerkgebou gebeur nie, maar dat elke gelowige kerk is en dat hierdie teks dus nie net verwys na wat alles by die kerk of erediens gebeur nie, maar na wat by en om my gebeur waar ek is elke dag. Dit beteken dat ek en jy nuut na onsself sal moet begin kyk – dat ons die plek op aarde is waar mense God kan vind. Dink saam oor watter gewoontes sal ons van nou af moet ophou en watter gewoontes sal ons van nou af moet deel maak van ons lewens.)

Leef dit – Miskien kan ons prakties raak deur te vra wat kan ons dus nou doen om God se uitnodiging na sy “kraal” te wees; Wat kan ons doen om mense in ons teenwoordigheid en by die kerk veilig te laat voel? die ruimte te skep dat hulle kan beleef dat hulle nie veroordeel word nie? en dat hulle God se heling kan ervaar? Wat kan ons doen om mense uit te nooi om agter Jesus aan te wil stap om sy oorvloed te ervaar. Hier kan mens ook prakties dink aan gewoontes wat ons het wanneer ons na ‘n erediens toe gaan, die manier hoe ons teenoor ander mense optree; hoe en of ons luister; ons liggaamshouding; ons woorde wat ons gebruik; die handelinge wat ons verrig ens.

  1. Sluit julle gesprek rondom die Bybel met gebed af. Bid dat die Here julle oog sal oopmaak om raak te sien waar julle Hom die afgelope dag sien werk het. Bid dat die Here julle oog sal oopmaak vir geleenthede waar julle vir hulle kan wys dat Jesus die ingang is tot ‘n heel nuwe manier van lewe.

Week 1 – 2019: Sondag 20 Januarie 2019

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae. Ek moedig julle weereens aan om gebruik te maak van die Faith5-metode: 1. Elkeen in die huis deel hoogte- en laagtepunte van die dag; 2. Lees die stukkie in die Bybel; 3. Kyk of daar ’n verband is tussen ons hoogte- en laagtepunte en die teks (hier kan ook vragies wat weekliks gegee word, bespreek of oordink word); 4. Bid vir hoogte en laagtepunte (Hier kan die riglyn by die laaste vraag telkens gebruik word); 5. Seën of bemoedig mekaar.

Teksgedeelte: Lees Johannes 8:12 -20

Ons gaan die eerste kwartaal van 2019 kyk na Jesus se “Ek-is”-uitsprake. Met hierdie woorde verbind Johannes Moses se brandende doringbos-ervaring – waar God Homself met hierdie “naam” bekendgestel het – aan Jesus, met die die bedoeling dat Jesus waarlik God is. Johannes wil sy eerste lesers en ons verder help om te sê wie Jesus is, wat Hy kom doen het, watter implikasie dit op mense se lewens het en hoe dit die gewoontes van mense behoort te beïnvloed. In Hoorfstuk 1 het Johannes al geskryf dat niemand nog ooit vir God gesien het nie, maar dat sy Seun (Jesus) Hom bekend kom maak het (1:18). Die “Ek-is”-uitsprake vorm dan die kern van Jesus se bekendmaking van wie en hoe God is. Wanneer ons sulke tekste in die Bybel lees, moet ons onsself afvra: Hoe verander hierdie teks ons prentjie wat ons van God het? Hierdie is ‘n ontsettend belangrike vraag, want die prentjie wat ons van God het en hoe ons oor God dink bepaal hoe ons teenoor Hom gaan optree. So neem telkens ‘n tydjie nadat jy Bybel gelees het en vra: hoe wil hierdie teksgedeelte my prentjie van God uitdaag en verander?

Vorige week het ons gesien dat Jesus sê: “Ek is die brood wat lewe gee”. Daarmee verwys Hy na die honger (fisies en geestelik) wat in die wêreld is (soeke na die ware lewe) en dat Hy gekom het om brood te kom uitdeel (letterlike brood en figuurlike brood – sy liggaam), sodat die wat daardie brood wat Hy gebring het eet, nooit weer honger sal kry nie en die wat in Hom glo nooit weer dors sal kry nie (6:35). Wie hierdie brood wat Jesus kom uitdeel het eet (glo), se honger na God se wil en die ware lewe wat Hy vir mense wil gee, word so volledig versadig dat hulle, soos die vrou by die put, speekwoordelik hulle kruike (simbool van hulle lewe) net daar neersit en die ander mense gaan roep, sodat hulle ook kan kom (eet) en drink van sy lewende of leegewende water.                                                                                                                                                                                             

Afgelope Sondag het ons stilgestaan by: “Ek is die lig vir die wêreld”. Met hierdie beeld help Jesus ons om sommer ’n paar dinge van God beter te verstaan: 1. Soos wat die wolkkolom en die vuurkolom vir die Israeliete was, het God vir Jesus gestuur om sý teenwoordigheid en leiding by sy kinders te wees. Wanneer Jesus sê dat Hy die lig vir die wêreld is, bedoel Hy met die woord “wêreld” alle mense wat deel is van ‘n wêreld wat deur die sonde en die seer van die lewe donker gemaak is. Wanneer sy lig op enige iets val wat in die donker is, word dit onmiddelik verlig. Daarmee help die beeld van die lig ons om nog twee goed te hoor: 2. Sy lig (teenwoordigheid) ontbloot sonde en seer, maar dit 3. genees (verlig) ook die sonde en seer en 4. gee leiding (lig wys my die pad wat ek moet volg) vir die pad vorentoe. Dit is ook om hierdie rede dat Jesus onmiddelik na sy Ek-is-lig-uitspraak sê: “Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie….” Die effek van die lig is noodwendig, maar die effek vind slegs plaas wanneer mense vir Jesus volg (in Hom glo). Wie dus nie glo dat Jesus God se gestuurde (lig) is nie, beleef geensins God se teenwoordigheid nie en luister daarom nie na sy woorde nie en laat hulle nie oortuig deur sy dade nie en daarom beleef hulle nie sy vergifnis en genesing nie. Hulle is blind (9:39-41). Wie egter glo ’n Jesus sal nie net self beleef wat God se lig in sy/haar lewe doen nie, maar “sal die lig hê wat lewe gee”. Met hierdie woorde help Jesus ons om te verstaan dat ‘n sinvolle lewe eers moontlik is in die lig van Jesus, maar ook dat wanneer ons hierdie lig in die donker om ons reflekteer, dit ook vir ander lewe gee. Dit is met hierdie betekenis in gedagte dat Augustinus oor die kern van ons menslike identiteit die volgende laat gesê het: “U het ons vir U-self gemaak en ons harte sal rusteloos bly totdat dit rus vind in U.

  1. Hoe help die beeld van die lig ons om God beter te verstaan? (Laat almal saam dink oor die eienskappe van lig en lei dan daaruit af wat die beeld ons wil help verstaan van wie en hoe God is. In bo genoemde paragraaf sal jy iets hiervan lees [dit is genommer 1-4 – kyk na die onderstreepte gedeeltes])
  2. Watter effek het God se lig op en in ons lewens? (Kyk of julle dit self kan aflei uit dit wat julle hierbo geantwoord het en uit bo genoemde gekrewe gedeelte. God se lig maak ons bewus daarvan dat God altyd teenwoordig is; Help ons verstaan dat sy teenwoordigheid nie net wil veroordeel of verkeerde- en seerkry dinge [donker in ons lewens] sigbaar maak dat ons sleg kan sleg voel daaroor nie, maar wil dit juis genees; Sy teenwoordigheid wys vir ons die pad en wanneer ons in sy lig lewe, sal ons ware [‘n betekenisvolle] lewe ervaar en sal ons lewens God se lig reflekteer en op die manier sal God se lig lewe gee aan mense wat nog in die donker lewe rondom my)
  3. Wat is die implikasie van hierdie woorde van Jesus op ons gewoontes van elke dag? (Dink eers saam op julle eie hieroor. Hier kan baie meer gesê word as dit wat ek nou skryf. Ons dink nie altyd dat God by ons is nie en daarom kan ons die gewoonte aanleer om wanneer ons in die oggend uitstap uit die huis om spesiaal bewus te word van die son of bewus te word van die effek van die son en dan altyd daaraan te dink dat die son my herinner aan God wat soos die wolkkolom en die vuurkolom teenwoordig is en my wil lei; Ons kan elke aand oor ons dag terugdink en dan sien watter donker [sonde en seer] daar in ons lewens was en is en toelaat dat God dit in sy lig genees; Ons kan gereeld die Bybel lees, want die Bybel word ook beskryf as God se lig vir ons pad [Ps 119:105] en dan vra hoe help die gedeelte my om God se leiding raak te sien; Ons kan ook elke dag dink aan die donker [sonde en seer] wat ons hierdie dag teegekom het en dink hoe God se lig dit kan genees en dan dink oor hoe ons God se lig kan reflekteer in hierdie situasies. ens .)

Leef dit – Ouers, wil julle nie ‘n punt daarvan maak om julleself en  julle kinders te leer om gereeld net te gaan stil sit, oë toe te maak en te visualiseer  [verbeelding te gebruik] dat jy / hulle in God se teenwoordigheid instap en te beleef dat sy teenwoordigheid soos ‘n helder lig is wat hulle totaal en al omvou en elke stukkie donker om hulle verdryf. Help hulle ook om die donker [sonde en seer] wat hulle in hulle lewens beleef ook op dieselfde manier na die Here toe te vat in gebed en dan te dink hoe Jesus se lig hulle sonde skoonwas en genees.

  1. Sluit julle gesprek rondom die Bybel met gebed af. Bid dat die Here julle oog sal oopmaak om raak te sien waar julle Hom die afgelope dag sien werk het. Bid dat die Here julle oog sal oopmaak vir sy lig wanneer dit donker word rondom jou agv omstandighede.

Week 31: Sondag 11 November 3-Kruis huiskonneksie

Week 30: Sondag 4 November 3-Kruis huiskonneksie

Week 29: Sondag 28 Oktober 3-Kruis huiskonneksie

Week 28: Sondag 21 Oktober se 3-Kruis-Huiskonneksie

Week 27: Sondag 14 Oktober se 3-Kruis-Huiskonneksie

Week 26: Sondag 16 September se 3-Kruis-Huiskonneksie

Week 25: Sondag 9 September se 3-Kruis-Huiskonneksie

Week 24: Sondag 2 September se 3-Kruis-Huiskonneksie

Week 23: Sondag 26 Augustus se 3-Kruis-Huiskonneksie

Week 22: Sondag 19 Augustus se 3-Kruis-Huiskonneksie

Week 21: Sondag 5 Augustus se 3-Kruis huiskonneksie

Week 20: Sondag 29 Julie se 3-Kruis-Huiskonneksie

Week 19: Sondag 22 Julie se 3-Kruis-Huiskonneksie

Week 18: Sondag 3 Junie se 3-Kruis Huiskonneksie

3-Kruis Huiskonneksie

Sondag 3 Junie 2018

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae (julle kan elke dag een vraag bespreek of van die vrae kies wat julle as gesin/huismense met mekaar gaan bespreek). Afgelope Sondag het ons by ons familiefees stilgestaan by Skepping-Sondag en saam met die kerk regoor die wêreld opnuut gekyk na ons verantwoordelikheid teenoor die skepping. LW. As gevolg van ds. Johan se verlof sal die volgende stukkie eers na die skoolvakansie (Week van 22 Junie) gestuur word.  

Teksgedeelte: Lees Genesis 2:15 & Levitikus 25: 1-10 & 23

Na aanleiding van ’n lied van Amanda Strydom, Stadig oor die klippers, waarin sy sing oor die slegte gevolge en negatiewe krag van kwetsende woorde, het ons Sondag gepraat oor kaalvoet loop. Hier is die lied:

Amanda se bedoeling met haar lied: As ons met mense werk, moet ons saggies trap. Ons moet eintlik ons skoene uittrek, want as ons kaalvoet loop, trap ons versigtig en stadig. Dit is nie net waar van mense nie. Dit geld ook vir hoe ons met ons omgewing en aarde werk. Ons moet kaalvoet loop in die wêreld. In ons tekste sien ons dat God eintlik al lankal wou hê dat mense kaalvoet moet loop. In Levitikus is Moses besig om God se bevele vir die volk te gee oor hoe hulle moet leef in die Beloofde Land Kanaän. Dit gaan in Hoofstuk 25 spesifiek oor hoe mense met grond moes omgaan en daarna moet omsien.

Stadig oor die klippers met die sweep wat klap dis ʼn weerlose siel waarop jy nou trap stadig met die angel  stadig met die gif  kierankies brand uit en die melk gaan skif

  1. Wat was die Sabbatsjaar en die hersteljaar hoe het dit die mense gehelp om met “kaalvoete te loop”? (Kaalvoet loop … is om te voel waarop jy loop. “Ses jaar kan julle saai en wingerde snoei en die opbrengs oes, maar die sewende jaar moet daar vir die land ʼn rustyd wees.” Ons ken die sabbatsgebod wat sê ses dae moet ons werk en die sewende dag moet ons rus. Hieragter sit die beginsel dat dit nie goed is om die hele tyd te werk nie, dat mens en dier ʼn ruskans nodig het. Dat ʼn mens beter werk as jy soms rus. Lees ons Eksodus 20, sien ons dat hierdie beginsel vir diere en mense geld. Is dit nie mooi dat Levitikus 25 ons herinner dat die grond ook behoefte het aan rus nie? Dat mense lankal weet wat ons blykbaar vergeet het: Jy kan nie aanhou uithaal en uithaal sonder om terug te sit nie. Ons kan nie aanhou en aanhou verbruik en gebruik asof die aarde ʼn onuitputlike bron is nie. God vra van sy mense verantwoordelikheid. Kaalvoet-mense leef in voeling met die grond en die omgewing en weet wat nodig is om dit te beskerm. Daarom kry ons die beginsel van die hersteljaar, wat sê daar kom ʼn tyd wanneer almal weer die kans gegee word om by nul te begin.)
  2. Hoe help vers 23 ons om anders oor die aarde te dink? (Kaalvoet loop … is om te weet jy loop op geleende grond. Vers 23 sê: “Geen grond mag permanent verkoop word nie, want die land behoort aan My.” Julle is bywoners, julle leen dit by My. Kaalvoet-mense weet hulle besit nie die aarde en die natuur nie; dit is nie hulle s’n om mee te mors of op te gebruik nie. Mense moet weet hulle werk met geleende goed en moet dit daarom oppas. Ons weet hoe ons voel wanneer ons vir iemand iets leen en hulle pas dit nie mooi op nie. Waarom lyk dit asof ons so maklik vergeet? Waarom leef ons asof ons dink die skepping is ons s’n? Op ʼn manier hoef ons nie sleg te voel nie, want dis nie asof die Israeliete hierdie beginsels ooit reggekry het nie. Die reëls het op papier gestaan, maar hulle kon dit nie in die lewe laat werk nie. Daarvoor was mense te gulsig, te gierig, te onsensitief. Dit beteken nie dat ons nou agteroor moet sit nie. Ons kan ook maklik sê dat ons eintlik nie ‘’n verskil kan maak nie, want dit is die groot nywerhede wat alles opmors. Dit mag waar wees, maar elkeen van ons kan en behoort saam te staan en ’n leefstyl aanpassing te maak om ons voetspore op die aarde kleiner te maak. Dit begin om die beginsel in hierdie teks te hoor en deel van ons lewens te maak. )
  3. Hoe kan ons vandag groter verantwoordelikheid neem vir ons omgewing en die aarde en leer kaalvoet loop op die aarde? (As gesinne kan ons gereeld hieroor praat (kweek bewustheid), saamwerk aan ’n spesifieke plan om bv. ons vullis te sorteer en moeite te doen om papier, glas ens. op regte plekke te bring waar dit hersirkuleer kan word. Belangrik om te onthou: wanneer ons hiermee besig is, is ons besig om die Here te dien en sy skepping te bewerk en te bewaar of op te pas. Hier is praktiese wenke hoe almal kan saamwerk:

•     Installeer ʼn sonverhitting stelsel indien enigsins moontlik – dit verminder ons gebruik van elektrisiteit wat in ons land met steenkool wat baie CO2 loslaat in die atmosfeer)

•     Herwin papier, glas ens.

•     Moenie onnodig ry nie – probeer saamryklubs stig en miskien moet ons, as dit veilig genoeg is, meer fiets ry.

•     Koop plaaslike produkte met minder verpakkingsmateriaal (polistireen ens.)

•     Begin jou eie groentetuin

•     Kyk met ander oë na bome, blomme en voëls – kweek ʼn bewondering by jou kinders of kleinkinders vir die skepping.

•     Kry ʼn stem – word deel van belangegroepe

•     Begin ʼn komposhoop of ʼn erdwurm plaas

•     Plant ʼn inheemse boom – die gemiddelde mens moet 16 bome in sy of haar leeftyd plant om die CO2 wat hy of sy vrystel uit te skakel

•     Gebruik gif wat omgewingsvriendelik is en nie sekondêre vergiftiging veroorsaak nie

•     Spaar water – stort; maak aanpassings in jou tuin soos om meer inheemse en water-wys-plante te plant, koop  tenks om reënwater op te vang of gebruik grys-water vir die tuin.

•     Spaar elektrisiteit – skakel ligte af; trek die proppe van apparate uit

4. Sluit julle gesprek rondom die Bybel met gebed af. Deel elke dag met mekaar julle hoogte- en laagte punte en bid saam vir mekaar se hoogte- en laagte punte. Bid dat die Here julle oog sal oop maak waar julle elke dag ’n verskil kan maak.

 

Week 17: Sondag 27 Mei se 3-Kruis-Huiskonneksie

3-Kruis Huiskonneksie

Sondag 27 Mei 2018

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae (julle kan elke dag een vraag bespreek of van die vrae kies wat julle as gesin/huismense met mekaar gaan bespreek). Wat bely ons wanneer ons sê: “Ek glo aan ’n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges”? Miskien is hierdie woorde baie groot en verstaan ons dit nie regtig meer nie. Dit is dus nodig dat ons so bietjie hieroor verder moet praat.

Teksgedeelte: Lees 1 Korintiërs 12 : 12 – 27

Wanneer ons in die geloofsbelydenis oor die kerk praat, dan bely ons dat die vrug van Jesus en die Heilige Gees se werk in die kerk sigbaar word. Wie glo in Jesus Christus, word kerk genoem. Van hierdie kerk bely ons: 1. Daar is net een kerk (Ef. 4:4). 2. Hierdie kerk is heilig (heilig beteken dit behoort aan God, is eenkant gesit vir God, deur Jesus heilig [vergewe en skoon/ rein] gemaak en geroep om heilig [anders/ toegewy] te wees in alles wat hulle doen). 3. Die kerk is algemeen (dit gaan oor al die grense van die wêreld – oor grondgebiede en mensegroepe – terwyl daar dissipels van al die nasies gemaak word). 4. Die kerk is Christelik (dit is saamgebind in Jesus Christus, die Hoof van die kerk). 5. Hierdie kerk is die gemeenskap van die heiliges, dit wil sê, dit is ʼn byeenkoms of vergadering van almal wat in Jesus glo en deur Hom geroep (geheilig) is.

Die Bybel gebruik baie metafore om oor die kerk te praat soos bv. liggaam van Christus, bruid, familie, lewende stene, volk van God, Koninklike priesterdom en nog baie ander. Die metafore wil uit verskillende hoeke klem plaas op verskillende eienskappe van die kerk. In ons teks fokus ons op die kerk as liggaam van Christus. Ons is so gewoond aan hierdie beeld. Eintlik behoort hierdie beeld ons regop te laat sit. Jesus is nie meer op aarde nie. Die kerk is nou sy lyf op aarde!

  1. Watter eienskappe van die kerk word duidelik uit die liggaam-van-Christus metafoor? Hoe help dit ons vandag? (Die hoof klem wat Paulus hier wil maak is dat ’n verskeidenheid van ledemate moet saamwerk vir ’n gesamentlike doel. Natuurlik praat Paulus oor gawes hier, maar sy klem lê op feit dat mense [se gawes] van mekaar verskil en hierdie verskille mag ons nie uitmekaar dryf nie. Die liggaamsbeeld wil juis vir ons help verstaan dat verskille juis kan help om ’n gesamentlike doel te bereik. ’n Liggaam het ook ’n selfversorgingsfunksie en ’n uitvoerende funksie. So help hierdie beeld ons om iets te verstaan van die funksionering van die kerk. Hierdie beeld help veral wanneer diversiteit [mense wat verskillend lyk, dink, praat] in die kerk dreig om mense uitmekaar te dryf.)
  2. Die onderlinge spanning oor watter gawe die belangrikste is, het groot verdeeldheid en minderwaardigheid in die gemeente veroorsaak. Wat is vandag die redes hoekom mense minderwaardig in die kerk voel of hulself wil onttrek of net nie laat deel voel of deelneem nie? (Daar is seker baie redes wat maak dat mense minderwaardig in die kerk voel en wat veroorsaak dat hulle hulself wil onttrek. Ons het Sondag net op enkele redes gefokus wat te doen het met die liggaamsbeeld. i. Miskien is die mees belangrikste rede hoekom mense minderwaardig in die kerk voel niks met die ander lidmate te doen nie, maar met die huise waarin ons grootgeword het. Ons is negatief grootgemaak en ons moes heeltyd hoor ons kan niks doen nie. So persoon kom dan met ‘’n minderwaardigheid in die kerk in en voel minderwaardig en is dan altyd geneig om hom/haarself te onttrek. ii. Dit gebeur so maklik in die kerk dat sekere persone en gawes so belangrike plek inneem, dat “gewone” lidmate minderwaardig voel of voel dat hulle nie dáárby kan kers-vashou nie. Dit maak dat hulle passief bly of hulle mettertyd onttrek. iii. Miskien nog een van die groot redes vandag is dat ons nie ons eiewaarde/ identiteit in Christus verstaan nie. In die taal van die liggaamsbeeld – ons verstaan nie watter belangrike rol ons in die liggaam speel nie en onttrek dan maklik.)
  3. Die onderlinge spanning het ook daartoe gelei dat sekere groepe binne die gemeente selfgenoegsaam (ons-het-nie-ander-nodig-nie) begin optree het. Op watter maniere stoot ons vandag nog mense van die kerk af weg? (Weereens is daar meer redes as wat hier opgenoem kan word. Miskien is dit belangrik om te noem dat hierdie wegstoot soms bewustelik en soms onbewustelik gebeur. Nee, niemand sal aktief na iemand anders stap en hulle wegstoot nie, maar ek het die afgelope tyd beleef dat mense wat sterk oortuigings het en dit op ander wil afdruk, een van die grootste redes is hoekom mense weggestoot voel. Persone is dus baie bewus van hulle sterk oortuigings. Ek hoor dan mense sê die volgende: “as hierdie persoon nie hierby wil inval nie (so wil glo of doen nie) moet hulle maar gaan”. Dit gaan dan nie noodwendig oor wesenlike sake nie, maar oor randsake, sterk persoonlikhede en persoonlike oortuigings. Wanneer Paulus juis ná hierdie gedeelte praat oor die feit dat almal hulle op die liefde moet toelê, dan verstaan mens dat Paulus beslis hierdie manier van oortuigings-afdruk-op-ander in gedagte gehad het. Die onbewustelike maniere wat mense weggestoot is ook sekerlik ontelbaar, maar die mees algemene maniere wat voorkom is ‘click’-vorming sonder om ander te betrek en sommer net ‘’n gebrek aan aandag. Natuurlik kuier jy met mense wat jy ken. Die probleem kom wanneer iemand nuut of buite jou bekende groep, naby jou kom en jy hulle ignoreer of nie aandag gee aan hulle nie. Dit is dan dat iemand na twee Sondae sê dat hulle nie welkom voel nie.
  4. Paulus lê baie sterk klem op die onderlinge versorging binne die gemeente: Hoe kan elke huis hieraan deelneem – nie net op Sondae nie, maar ook in die week? (Dit is dalk belangrik dat ons onderlinge versorging nie net sien as iets wat by die kerk gebeur op ’n Sondag nie. In die vroeë kerk was die gemeente op mekaar aangewese vir oorlewing in ‘’n heidense omgewing. Daarom het gelowiges mekaar gaan op soek na werk en mekaar versorg. Vandag is daar baie gelowiges ook van ander kerke by ons werke. Dit maak versorging aan die een kant makliker, maar aan die ander kant moeiliker. Vers 26 is so duidelik in die verband.

Wat deelname aan hierdie versorgingstaak in ons huise betref: ons behoort gereeld in ons gesprekke as huismense te hoor van medegelowiges wat ons pad by ons kerk/ werk/ skool/ sport/ familie gekruis het wat swaarkry of spesiale prestasies behaal het of geprys is. Dit is dan wat ons mekaar moet aanmoedig om die ander persoon ‘se laste te dra’ in die mate waarin dit moontlik is. Ons kan ook saam as gesin bid vir hierdie persone en dit daagliks opvolg met direkte gesprekke of telefoonoproepe. Ook wanneer persone wat ons pad kruis geëer word, kan ons saam met hulle bly wees, daaroor bid en hierdie blydskap elke dag vier. Maak dit ’n gewoonte om die gebedslys van die gemeente op die wyse met mekaar te bespreek en daaraan aandag te gee.

5. Sluit julle gesprek rondom die Bybel met gebed af. Deel elke dag met mekaar julle hoogte- en laagte punte en bid saam vir mekaar se hoogte- en laagte punte. Bid dat die Here jou elke dag daarvan bewus sal maak dat jy ’n ledemaat van sy lyf op aarde is. Vra die Here ook om jou oog oop te maak wie en hoe jy medegelowiges kan help versorg.

 

Week 16: Sondag 20 Mei-se-3-Kruis-Huiskonneksie

3-Kruis Huiskonneksie

Sondag 20 Mei 2018

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae (julle kan elke dag een vraag bespreek of van die vrae kies wat julle as gesin/huismense met mekaar gaan bespreek). Dit was afgelope Sondagoggend die afsluiting van ons Pinkster-reeks uit Jakobus. Tog het die kinders by hul kategese stilgestaan by die koms van die Heilige Gees.

Teksgedeelte: Lees Johannes 14 : 1-4, 16 – 20 en 22 – 26.

In die geloofsbelydenis staan daar slegs een sinnetjie oor die Heilige Gees: “Ek glo in die Heilige Gees.” Dit mag dalk klink of die geloofsbelydenis die Heilige Gees afskeep. As mens egter mooi kyk, dan sien jy dat hierdie artikel die res van die artikels inlei. Alles wat dus volg na hierdie woorde het te doen met die werk van die Heilige Gees. Ons sê Ek glo in die Vader, in Jesus Christus en in die Heilige Gees. Daarmee sê ons dat ons in God glo. Wanneer ons egter vêrder ons geloof verwoord glo ons aan ’n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges ens. Ons bely dus dat die Heilige Gees die nuwe manier is waarop God, ná Jesus se lewe op aarde, by ons teenwoordig is.

Die eerste paar verse van ons teks sê Jesus vir sy dissipels dat Hy vir hulle ‘n plek gereed gaan maak. As ons dít lees dink ons gewoonlik dat Jesus vir ons gaan plek gereedmaak in die hemel en dat Hy dan by die wederkoms ons kom haal om dan by Hom te wees. Die woord wat met “plek” vertaal is, moet eintlik nie met plek vertaal word nie, maar eerder met verposingsruimte in die teenwoordigheid van God. Jesus sê dus dat Hy vir sy dissipels (en ons) ’n posisie in die teenwoordigheid van God gaan gereedmaak. Dan sê Hy gaan Hy terugkom, nie eendag by die wederkoms nie, want hoor wat sê Hy: dan “sal (Ek) julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is”. As ons na hierdie hele gedeelte kyk, dan sien ons dat Jesus met die “terugkom” nie na die wederkoms verwys nie, maar na die uitstorting van die Heilige Gees. Jesus kom dus in ’n ander gestalte en bring dan die “plek wat Hy voorberei het” (verposingsruimte in die teenwoordigheid van God) na die aarde toe, sodat sy dissipels (en ons) in God se teenwoordigheid kan wees.

1.In ons teksgedeelte vertel Jesus, voor sy dood, vir sy dissipels dat hulle nie moet ontsteld en bang wees nie, want Hy sal hulle nie as weeskinders agterlaat nie, maar hy sal die Vader vra en Hy sal vir hulle ’n Voorspraak stuur. Wat beteken dit presies en hoe sal dit ons troos en vrees wegvat in die lewe? (Die woord wat met Voorspraak vertaal is bestaan eintlik nie in Afrikaans nie. Dit is die woordjie Parakleet. In die tyd toe Johannes geskryf het, was die arm en ryk mense eintlik baie vêr van mekaar af verwyder. So was armes uitgelewer aan die rykmense se genade, wat maar baie min was en is hulle baie uitgebuit. In die tyd het sekere van die rykes dan opgetree as parakleet vir ’n arm gesin. Die woord kan dan letterlik vertaal word met: iemand wat geroep is om te help, langs jou te kom staan/loop. Ander woorde vir parakletos is: “helper”, “mediator”, “advokaat”, “parakleet”. Die Heilige Gees het dus na die aarde toe gekom om God se kinders te kom help, langs ons te kom staan/ loop, om vir ons voorspraak te doen of ons te begelei. Wanneer ek en jy weet dat die God wat hemel en aarde geskep het, wat in Jesus Christus op aarde geleef, gesterf, opgestaan en opgevaar het na die hemel, is deur sy Gees die een wat my help, langs my staan/loop, vir my voorspraak doen en my begelei – ek is dus in God se teenwoordigheid elke dag, daarom hoef ek nie alleen te voel nie en ook nie bang te wees nie.) 

2. Ons het in die inleidende gedeelte gehoor dat Jesus vir ons ’n “verposingsplek” gaan voorberei het. Toe het Hy die “verposingsplek” na die aarde toe gebring. Hierdie verposingsplek is die Heilige Gees. Waar sê vers 17 en 23 sal ons die Heilige Gees kan kry as ons Hom vandag soek? (Die teks gebruik familie taal as dit sê dat Hy ons nie as weeskinders sal agterlaat nie. Hy stuur die Heilige Gees om saam met ons in ons huis soos ’n pa en ’n ma te kom bly. Hy bly dus by ons. Jesus gaan so vêr om te sê Hy bly in ons. Wanneer ons dus ons oë oopmaak in die oggend kan ons vir onsself sê dat ons nou in die teenwoordigheid van God is. Ons kan selfs so vêr gaan om te sê die teenwoordigheid van God is ook in ons. 

3. As dit waar is dat die Heilige Gees by ons en in ons bly – hoe verander dit die manier waarop jy oor jouself dink? en hoe jy elke dag optree?  (Waw, as die Here by ons bly en in ons bly beteken dit ek moet regtig anders oor myself begin dink. Wanneer slegte gedagtes oor myself by my opkom, kan ek vir myself sê dat Hy by en in my is en dat dit vir my nuwe waarde gee. Ek moet dan ook my liggaam mooi oppas, want ek kan nie my liggaam (wat sy blyplek is) vernietig nie. Ek moet dn ook dit wat vir Hom belangrik is, vir my belangrik maak. Natuurlik sal dit my optrede van elke dag ook verander. Dit is juis waarvoor die Heilige Gees bekend is. Hy leer en herinner ons aan alles wat Jesus gesê en gedoen het (14:26). Hy wil ons lewens verander. Wanneer Hy intrek neem in my lewenshuis wil Hy graag in my hele lewenshuis intrek, nie net in sekere kamers nie, bedoelende dat Hy saam met my alle aspekte van my lewe wil heelmaak en vernuwe.

4. Dink bietjie na hoe ons gemeente se nuwe Visie (Christus werk en leef in, met en deur ons) julle kan help om anders oor julleself te dink en anders op te tree elke dag waar julle ook al is?

5. Sluit julle gesprek rondom die Bybel met gebed af. Deel elke dag met mekaar julle hoogte- en laagte punte en bid saam vir mekaar se hoogte- en laagte punte. Bid dat die Here jou elke dag bewus sal maak dat Hy by ons is en binne ons bly

Week 15: Sondag 13 Mei se 3-Kruis Huiskonneksie

3-Kruis Huiskonneksie

Sondag 13 Mei 2018

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae (julle kan elke dag een vraag bespreek of van die vrae kies wat julle as gesin/huismense met mekaar gaan bespreek). Dit was afgelope Sondag Familiefees. Is dit net lekker as al die kindertjies so saam deelneem nie. Neem asseblief deel aan die Familie-uitdaging (3) en as jy nie Sondag die Sondag- rytyd-nota gekry het nie, dit is aan die onderkant van hierdie stukkie. Sny dit uit en sit dit in die voertuig waarmee julle gewoonlik erediens toe ry of by julle etenstafel of plek waar julle Sondae saameet. Bespreek dan sommer elke week hierdie vragies met mekaar.

Teksgedeelte: Lees Hebreërs 10 : 12,14 en 19 – 25

Ek weet nie waar dit presies vandaan kom nie, maar soveel volwassenes vertel vir my dat hulle gedwing was om kerk toe te gaan op ’n Sondag, daarom doen hulle dit nie met hulle kinders nie en gaan hulle ook nie gereeld kerk toe nie – net wanneer hulle behoefte het. Dit is so hartseer dat kerkbesoek met verpligting geassosieer word en nie met God se teenwoordigheid en ons mense se aanbidding nie. Die Hebreër-skrywer praat oor langtermyn gevolge as Christene, veral in moeilike en uitdagende tye, nie hulle geloof uitleef nie en ook nie die byeenkomste van die gemeente bywoon nie. Natuurlik was hulle byeenkomste totaal anders as ons eredienste vandag, maar die waarde daarvan kan beslis met mekaar vergelyk word. In afgelope Sondag se diens het ons Mark se storie gehoor wat elke Sondagoggend van sy kinderjare, as sy ma hom wakker maak om reg te maak vir die erediens, gevra het: móét ek gaan? Sy ma het elke keer met ’n ja geantwoord en hom dan aangemoedig om op te staan en aan te trek, anders gaan hulle laat wees. Een dag het Mark opgewonde geraak. Haar antwoord was daardie oggend anders, maar dit het sy hele houding en lewe verander. Haar antwoord was: Nee, jy móét nie gaan nie, maar jy behoort te gaan! Dit is persies waarmee die Hebreër-skrywer ons wil help. Hoekom is dit nodig en eintlik noodsaaklik om nie van die gemeentebyeenkomste af weg te bly nie? Hoekom moet ons mekaar eerder aanmoedig om die byeenkomste by te woon? Kom ons kyk bietjie weer na Sondag se Tema: Wat maak jy hier?

1.Waarna verwys die “ons” waarmee die skrywer in vers 19 begin en na wie hy heeltyd in hierdie gedeelte verwys? Waaraan herinner hy die “ons”? (Natuurlik verwys die ‘ons” na die skrywer en die lesers, maar die skrywer wil die lesers herinner dat iets van ons waar is. Die skrywer kom sê nou die kruis of Jesus se hele bediening op aarde wat die kruis, opstanding, dood, hemelvaart en uitstorting van die HG insluit, het die voorhangsel geskeur. Net die priester kon een keer per jaar agter daardie gordyn ingaan en net hy kon dan een keer ’n jaar in die teenwoordigheid van God gekom het. Jesus het vir ons die pad na God se teenwoordigheid oopgemaak. Ons het nou vrye toegang om in die teenwoordigheid van God in te gaan. Nou kom die belangrike punt: Ons wat nou vrygemaak, heelgemaak, skoongemaak is deur Jesus en ons wat nou die reg het om in die teenwoordigheid van God in te gaan – hoekom sal ons dan elke dag nog lewe asof ons nie skoongemaak, heelgemaak, vrygemaak is nie? Hoekom sal ons dan die teenwoordigheid van die Here vermy? Op ’n ander plek beteken hierdie woord wat met vrymoedigheid vertaal is, dat die sonde van ons skouers afgehaal is, soos die juk van ’n bees se skof en daarom kan ons nou regop loop. Die vraag wat die skrywer vra: hoekom loop julle dan nog met geboë skouers en asof julle steeds ’n swaar vrag op julle skouers dra? Hoekom kyk julle nie vir God en die mense in die oë nie? Hoekom gebruik julle nie die reg wat Jesus vir julle gegee het om in God se teenwoordigheid in te gaan en soos Jesus vir julle gewys het, om mense met Jesus se liefde aan te raak nie?)  

2. Die skrywer noem drie redes hoekom ons die samekomste van die gemeente behoort by te woon. Hierdie drie redes word in die vorm van ’n opdrag of baie sterk aanmoediging geskryf. Wat is dit en wat moet ons dus prakties doen? (In die teks begin die skrywer elke opdrag met dieselfde woorde: 1.laat ons tot God nader…,2. laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely… en 3. laat ons na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Die eerste wil juis almal aanmoedig om gereeld in God se teenwoordigheid in te gaan. Dit doen ons as ons bid, eredienste, Bybelstudie, kategese, toerustingsgeleenthede bywoon ens. Die tweede opdrag het alles daarmee te doen dat ons realiteite dikwels vir ons net te veel en oorweldigend word en dat ons in God se teenwoordigheid telkens herinner word aan God se realiteit wat groter is en verder strek en ons help om met hierdie prentjie van hoop weer ons realiteit aan te pak. Die derde het alles te doen met ons getuienisse en geloofsgemeenskap met mede gelowiges. Omgee omarm mense en help ons om te ervaar dat ons behoort. Getuienisse van hoe die Here in en deur ons werk versterk ons mede gelowiges. Ons is dikwels so negatief besig met mense om ons in die kerk. Hierdie gedeelte wil ons aanmoedig om dit te los en juis positief te kom deelneem in die byeenkomste van die gemeente. Geen gelowige kan eintlik volhard sonder hierdie drie goed nie. As hierdie drie goed in ’n byeenkoms van die gemeente gebeur, kan niemand dit bekostig om weg te bly nie! Daarom moet ons nie eredienste toe gaan nie, maar behoort ons te gaan.

3. Ons het afgelope Sondag weer saamgepraat oor die visie van ons gemeente. Kom ons neem ’n tydjie hierdie week om die FAMILIE UITDAGING te hanteer:

  • As jy die volgende sinnetjie hoor: Christus werk en leef in, met en deur ons – wat hoor jy?
  • Hoe kan hierdie sinnetjie ons as gemeente help om elke dag as God se kinders te lewe?
  • Wat beteken die visie vir elkeen van ons persoonlik (elkeen in die gesin)? Laat elkeen in die gesin hul eie naam in die plek van “ons” invoeg en dan vir die ander sê wat hulle gaan doen om hierdie sinnetjie waar te maak in hulle lewe elke dag.
  • Teken ’n prentjie van wat jy sien sal gebeur as jy hierdie Visie gaan uitleef elke dag waar jy is.  Laat al die kinders, jongmense en ook die volwassenes deelneem (elkeen op hulle vlak) en iets teken, skryf, skets, grafies voorstel of wat ook al. Bring hierdie prentjies saam erediens toe want ons wil dit opplak by die kerk.

4. Sluit julle gesprek rondom die Bybel met gebed af. Deel elke dag met mekaar julle hoogte- en laagte punte en bid saam vir mekaar se hoogte- en laagte punte. Julle kan spesifiek bid dat die Here elke byeenkoms in die gemeente sal gebruik om elkeen wat dit bywoon se lewe sal inspireer en versterk.

SONDAG RYTYD NOTA

Elke persoon in die voertuig antwoord elke vraag:

Wat was jou ingesteldheid toe jy diens/ kategese toe gekom het?

Hoe is jou ingesteldheid nou, nadat jy by die diens/ kategese was?

Wat was jou hoogtepunt in vandag se diens / kategese?

Wat was God se boodskap vandag vir jou?

Hoe kan jy hierdie boodskap toepas op jou daaglikse lewe?

Week 14: Sondag 6 Mei se 3-Kruis-Huiskonneksie

3-Kruis Huiskonneksie

Sondag 6 Mei 2018

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae (julle kan elke dag een vraag bespreek of van die vrae kies wat julle as gesin/huismense met mekaar gaan bespreek. Dit is hierdie Donderdag Hemelvaartdag. Kyk gerus na die vorige stukkie wat iets oor Hemelvaart deel. Praat bietjie saam oor wat presies ons vier op Hemelvaartdag en woon sommer saam om ons Hemelvaart-diens om 19:00 by.

Teksgedeelte: Lees Matteus 25 vers 34 – 46

In die geloofsbelydenis het ons afgelope Sondag stilgestaan by: “Ek glo Jesus… gaan kom om te oordeel oor die lewendes en die wat reeds gesterf het.” Wanneer Jesus in ons teks oor die eindoordeel praat, doen Hy dit geensins om vir ons ’n “pie in the sky” voor te hou nie, maar eerder as ’n aanmoediging om nie selfsugtig te leef nie, maar met sy (Jesus) gesindheid.

Ons teksgedeelte kom uit Jesus se profetiese rede in Matteus, byna teen die einde van die Matteus-evangelie en vind waarskynlik 2 dae voor Jesus se kruisiging plaas. In die profetiese rede vertel Jesus sewe gelykenisse, sommige korter en ander langer, almal met die oproep dat ons waaksaam en gereed moet wees om Hom by sy tweede koms te ontvang. Ons teks is die laaste van die sewe gelykenisse en fokus op hoe ons gereed behoort wees. Tydens hierdie laaste oordeel sê Matteus gebeur daar drie goed volgens die teks: 1. Jesus gaan sit op sy troon (Kry die prentjie wat beskryf word – asemrowend).  2. Hy skei die skape van die bokke (soos ‘’n herder destyds elke aand gedoen het) en 3. spreek dan sy finale oordeel uit. Dan sê Hy eintlik ’n skokkende ding. Dit is nie Hy wat mense van mekaar gaan skei nie, dit is eintlik hulleself! Dit is die manier hoe hulle kies om op te tree teenoor die geringes op hulle pad wat gaan bepaal of hulle “skape” of “bokke” gaan wees. Wie as koninkryksmense leef elke dag, sal die koninkryk as erfenis (34) of ewige lewe (46) kry. Die grootste gedeelte van ons teks word dan afgestaan om presies aan te dui hoe só lewe lyk.

1.As ons in ag neem dat Jesus hierdie woorde twee dae voor sy kruisiging met sy dissipels gedeel het – hoe help hierdie gedeelte die dissipels en ons vandag nog om sulke drastiese gebeurtenisse (soos Jesus se kruisiging) in ons lewens te hanteer? (Jesus berei sy dissipels voor vir die trauma wat op hulle wag wanneer Hy gekruisig gaan word. Hy wil nie hê dat die kruis die finale prentjie moet wees wat hulle van Hom onthou nie. Hy wil hulle help om verby die kuis te kyk na sy wederkoms. By die kruis lyk dit of Jesus magteloos is en ’n slagoffer van mense in magsposisies. By die wederkoms sal mense sien Hy is die koning van die koninkryk aan wie alle mag in die hemel en die aarde behoort. Met hierdie prentjie wil Jesus hê sy dissipels moet lewe. Aanvanklik kon sy dissipels dit nie verstaan nie. Petrus verloën Jesus, selfs nog voor sy kruisiging. Na die uitstorting van die Heilige Gees het dit eers begin gebeur toe Petrus vreesloos opgestaan het en in die aangesig van moontlike teenkanting opgestaan en Jesus se liefde en genade verkondig. Hy het dit begin regkry om met die prentjie van die wederkoms en eindoordeel in gedagte, te begin lewe voor die groot uitdagings wat elke dag sy pad gekruis het. So wil die teks ons ook help om vreesloos te lewe.

2. Wat dink jy bedoel Jesus as Hy sê: “In soverre julle dít (dade van liefde en sorg) aan een van die geringstes gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”? Hoekom dink jy gebruik Hy hierdie beeld as maatstaf vir die skeiding van “die skape en bokke”? (In ons optrede teenoor mekaar en ander mense (die geringstes) moet ons alles doen asof ons dit vir Jesus doen. Hy gebruik nou ons optrede teenoor die geringstes as maatstaf vir sy oordeel. Jesus bedoel verder dat Hy nie eintlik self die oordeel oor mense uitspreek nie. Elke mens se keuse, hoe hy/sy optree teenoor die geringes/ mense wat jou pad kruis elke dag, bepaal by die eindoordeel of ons die koninkryk of ewige lewe sal erf of nie. Ons is dus elke oomblik van elke dag besig om ons eie oordeel oor onsself te voltrek. Jesus se gelykenis wil ons nie help om dinge te doen om eendag in die hemel te kom nie. Hy is besig om te sê die hemel het alles te doen met wat ek en jy vandag op hierdie aarde doen en spesifiek teenoor die “geringes”. Hy ontmoet ons in die gestalte/ lywe van die geringes [gewone mense op ons pad]. Daarom moet ons elke persoon voor ons behandel asof dit Jesus self is wat voor ons staan. Dit is dus ’n ingesteldheid en gesindheid waarmee ons moet lewe eerder as iets wat ek moet doen om in die hemel te kom. Jesus se maatstaf het dus alles te doen met die kern van die evangelie: om te leef soos Jesus ons geleer het of om ons teks se woorde te gebruik: om die wil van God te doen.) 

3. Hoe kan ons mekaar aanspoor om so te leef soos wat hierdie teks ons aanmoedig? (Ons huis is hier letterlik die oefenplek. Dit beteken dat ons mekaar sal behandel asof die ander persoon Jesus is. Op goeie dae is dit mos nie moeilik nie, maar op slegte dae raak dit baie moeilik. Herinner mekaar elke oggend en sit dalk iets op die yskas onder ’n magneet om julle hele huis se mense te herinner om Jesus in elke mens raak te sien. Kyk terug op julle dag en vertel vir mekaar waar julle in die dag teenoor ander kon leef asof dit Jesus self was. Dink aan Moeder Theresa se woorde: “Die Jesus in my sien die Jesus in jou” en “Die Jesus in my het die Jesus in jou lief”. Nog een van haar gesegdes: “As ek ’n melaatse se wonde was, voel dit vir my of ek die Here self se wonde was. Dit is nie altyd ’n mooi en lekker ervaring nie.” Wanneer sy gevra is hoekom sy doen wa sy doen het sy gewoonlik die persoon wat vra se hand gevat en elke keer een vinger op ‘’n slag oopgemaak en gesê: “He did it to Me.” Miskien kan ons gereeld mekaar se hande vat en met elke woord ’n vinger oopmaak en herhaal: hy doen dit vir My sê om onsself te herinner dat alles wat ons doen ons dit vir Jesus doen.

4.Sluit julle gesprek rondom die Bybel met gebed af. Deel elke dag met mekaar julle hoogte- en laagte punte en bid saam vir mekaar se hoogte- en laagte punte. Julle kan elke oggend of aand die volgende gebed bid en met mekaar deel hoe hierdie gebed julle help om hierdie soort leefwyse aan te kweek. Dit is ’n gebed van Franciskus van Assisi.

Here,

maak my ’n instrument van u vrede.

Waar daar haat is, laat ek liefde bring.

Waar daar foute is, laat ek vergifnis bring,

waar daar twyfel is, laat ek geloof bring,

waar daar wanhoop is, laat ek hoop bring.

waar daar donker is, laat ek lig bring,

waar daar hartseer is, laat ek vreugde bring.

Here,

laat ek ander troos eerder as om self getroos te wil word.

laat ek ander verstaan eerder as om self verstaan te wil word.

Laat ek lief wees vir ander eerder as om liefgehê te wil word.

Want deur te gee, ontvang ek.

Deur te vergewe, word ek vergewe.

Deur te sterf, sal ek vir ewig lewe.

AMEN

Week 13: Sondag 22 April se 3-Kruis-Huiskonneksie

3-Kruis Huiskonneksie

(Sondag 22 April 2018)

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae (julle kan elke dag een vraag bespreek of van die vrae kies wat julle as gesin/huismense met mekaar gaan bespreek. In die geloofsbelydenis het ons afgelope Sondag stilgestaan by: “Ek glo Jesus het … opgevaar na die Hemel en sit aan die regterhand van God. In die onderstaande teks sien ons wat beteken die hemelvaart vir ons vandag.

Teksgedeelte: Lees Kolossense 2 : 12 & 3 : 1-4

Hemelvaart is nogal ’n baie vreemde begrip. Ons verstaan die woord en kan vir onsself ’n prentjie vorm, soos die Bybel dit beskryf, van Jesus wat met ’n wolk opvaar na die hemel, maar wanneer ons dan probeer verstaan wat dit beteken, val ons vas. Miskien het ons vasval te doen met die feit dat ons oor die hemel dink as ’n plek en dat dit daar vêr  is. Dit lyk vir my of die Bybel ons wil help verstaan dat die hemel net ‘n onsigbare dimensie is en dat die hemel en God se koninkryk byna as sinonieme gebruik kan word. Die hemelvaart het eintlik alles te doen met Jesus se finale oorwinning, sy mag oor sy vyande en oor sy heerskappy oor die kerk en die wêreld (Natuurlik het dit ook die pad voorberei op die uitstorting van die Heilige Gees). Dit is ook die rede hoekom daarvan gepraat word dat Jesus sit aan die regterhand van God, wat op sy troon sit en oor sy koninkryk regeer. Paulus maak dan ’n venster oop op hoe dit óns raak:  Christus laat ons saam met Hom sit aan die regterhand van die Vader (Ef. 2:6). Dit is waar ons teks ons help om te verstaan. By ons doop het Christus ons aan Hom kom vasmaak. Daarom kan ons selfs so vêr gaan om te sê dat ons saam met Christus gesterf het en ook saam met Hom opgestaan het (Kol 2:12) en dat ons lewe nou saam met Christus verborge is in God (Kol 3:3). Wie glo is nie meer burgers van ‘n aardse koninkryk alleen nie, maar burgers van die hemele (Fil. 3:20). Daarom kan ons nie ons harte in hierdie wêreld laat rus of op die dinge van hierdie wêreld verloor nie. As ons ons harte en gedagtes kan rig op die dinge daarbo (dit is Christus en sy koninkryk), sal ons perspektief kry en die moed om die lewe en die dinge van hierdie lewe op die regte manier te benader en lief te kry.

 1. Christus het ons aan Hom vasgemaak by ons doop (Kol 2:10-12). Hoe het dit gebeur en hoe help die beeld van ’n naelstring tussen ’n ongebore of pasgebore baba en sy/haar mamma ons om hierdie ‘vasmaak’ beter te verstaan? (Paulus gebruik in Kol 2:6-7 ’n landbou beeld van inenting – dit is waar ’n uitloopsel, of in eenvoudige taal, ’n takkie op ’n ander boom se stam ingeplant of ingeënt word. Nou groei die takkie of uitloopsel nie meer op sy eie wortelstelsel nie, maar op die nuwe boom waarop dit ingeënt is se stam en wortelstelsel. Paulus sê dit het by die doop gebeur. Vir gelowiges wat uit die heidendom gekom het en eers in ander gode geglo het, was hierdie beeld baie duidelik. Vir ons wat in Christelike huise gebore is, is die beeld dalk nie so vanselfsprekend nie. Tog is dit juis die plig van ouers om hulle kinders groot te maak met die wete dat ons familie ingeplant of ingeënt is op Jesus se stam. Dit het die eerste keer gebeur toe ‘’n oupa of groot-oupa gekies het om die Here te dien. Paulus gebruik nou die woord verbondenheid om hierdie vasgemaak-wees aan Christus te verduidelik. Ons moet in verbondenheid met Christus lewe. Die takkie of uitloopsel sal doodgaan as dit nie in verbondenheid/ vas is aan die die nuwe stam en wortels nie. Geloof is dan die verbinding en die sap wat deur die wortels en stam beweeg en groei bewerkstellig. Net soos ’n naelstring ’n baba aan sy/haar mamma vasmaak en die voeding daardeur beweeg, net so is gelowiges aan Christus vasgemaak en vloei sy nuwe lewe deur die geloof in ons lewens in.

2. Wat beteken dit dat Paulus ons oproep om te strewe na die dinge daarbo? (Ons moet nie dink dat Jesus na sy hemelvaart daar vêr is nie. Hy is eintlik baie naby aan ons. Ons weet dat Hy deur sy Gees in ons is. Wanneer ons dan besef dat ons aan Hom vasgebind is en dat sy hemelvaart eintlik beteken dat Hy as oorwinnaar aan die regterhand van God sit en heers oor die kerk en die wêreld, dan beteken dit dat wanneer ons strewe na die dinge daarbo, ons met sy perspektief na my elke dag se lewe moet kyk; dit beteken verder dat ek in tye van magteloosheid teenoor alle magte in die lewe, juis dan uit sy perspektief moet kyk; dit beteken ook dat ek dit wat vir Hom en sy koninkryk belangrik is, moet belangrik maak en met sy perspektief na die lewe en die uitdagings in die lewe kyk; Miskien is dit tog belangrik om te sien dat Paulus nie wil hê dat ons daar vêr moet begin nie, maar sommer in ons eie lewe, by ons eie optrede en gesindhede. Meer hieroor meer by die volgende vraag. Die bedoeling is natuurlik dat ek nie net uit sy perspektief moet kyk nie, maar kan leef  asof sy finale oorwinning alreeds hier en nou waar is, maar ook implikasies het op my en jou optrede, gedrag en gesindhede. Dit is juis die punt van hierdie gedeelte – Jesus se hemelvaart het vandag reeds ’n uitwerking om my en jou lewe.

3. Hoe kan ons prakties te werk gaan elke dag en mekaar in die huis en by ons gemeentelike byeenkomste help om te strewe na die dinge daarbo? (Ons moet vandag besef dat ons huidige werklikheid [dit wat ons fisies sien en beleef] ’n geweldige invloed het op ons lewens en gedrag. Dit maak ook dat ons in slegte gewoontes verval om te oorleef en om onsself te beskerm en gou omskakel in ’n selfsugtige egosentriese lewe. Paulus wil hê ons moet nie leef asof hierdie wêreld die finale sê in ons lewens het nie. Ons is vasgemaak aan Jesus en kan daarom dink soos Hy binne hierdie wêreld. Hy gee ons die vermoë om in ons geestesoog te sien hoe dinge kan lyk in sy koninkryk en dan te werk om dit waar te maak. Dit begin natuurlik nie buite onsself nie. Dit begin binne onsself. Net in die volgende perikoop (Kol 3:5-17) noem Paulus op dat ons aktief die ou mens en die aardse dinge wat nog deel van ons is, moet doodmaak of letterlik uittrek soos ou klere en die nuwe mens moet aantrek. Hiermee kan ons in die huis en die gemeente mekaar help. Kyk na al die praktiese dinge wat hy opnoem: Trek uit: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, gierigheid wat eintlik afgodery is, woede, haat, nyd, gevloek, vuil taal en leuens (Help kinders om die groot woorde te verstaan). Trek aan: meelewendheid, goedgesind, nederigheid, sagmoedigheid, verdraagsaamheid, geduldig, vergewensgesindheid, wedersydse liefde, vredeliewend en dankbaarheid. Paulus sluit die gedeelte af met: Wat julle ook al sê of doen, sê  en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank die Vader deur Hom. Sjoe, dit beteken dus nie dat Christene met hulle koppe in die hemel moet leef  (onsself onttrek) of leef asof ons tog aan die Here vasgemaak is en dan dink ons kan maar leef soos ons wil wanneer ons wil nie. Nee, ons geloof moet eerstens sigbaar word uit ons gedrag. Dan eers sal ons beleef dat die hemelvaart van Christus vir ons hier en nou help om die sleg in die lewe te oorwin en in Christus se oorwinning te vasstaan. Ouers moet ook besef dat ons nie ons kinders kan oproep tot iets waarmee ons nie intensioneel besig is nie.Maak ’n punt daarvan om elke dag in hierdie week mekaar aan te moedig om “ou klere uit te trek en nuwe klere aan te trek” soos dit hierbo beskryf is. 

 

4. Sluit julle gesprek rondom die Bybel met gebed af. Deel elke dag met mekaar julle hoogte- en laagte punte en bid saam vir mekaar se hoogte- en laagte punte. Julle kan vandag bid dat die Here julle sal help om te strewe na die dinge wat daar bo is, waar Christus is. Bid ook vir oorwinningskrag om die slegte eienskappe wat so maklik in ons lewens na vore kom “uit te trek” en die goeie eienskappe “aan te trek”. Bid ook vir moed en krag om vas te staan en met geloofsoë te kyk wanneer ons moedeloos word in ons huidige werklikheid en dinge ons so maklik oorweldig.

 

Week 12: Sondag 15 April se 3-Kruis-Huiskonneksie

3-Kruis Huiskonneksie

(Sondag 15 April 2018)

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae (julle kan elke dag een vraag bespreek of van die vrae kies wat julle as gesin/huismense met mekaar gaan bespreek. In die geloofsbelydenis staan ons vandag stil by: “Ek glo Jesus het die derde dag weer opgestaan uit die dood.” In die onderstaande teks sien ons wat beteken die opstanding vir ons vandag.

Teksgedeelte: Lees Johannes 21:15 -22

Wat in Johannes se evangelie opval, is die klein stukkies detail en ander klemtone as dié van die ander evangelies. Dit is veral sigbaar in die beskrywing van die laaste paar dae voor en tydens Jesus se kruisiging (Hfst.13 – 19) en die beskrywing van sy opstanding (Hfst. 20 – 21). Miskien is die rede hiervoor dat Johannes die enigste evangelieskrywer was wat ’n direkte ooggetuie van al hierdie gebeure was. Johannes skryf ook later (ongeveer tussen 80 – 100nC.) as al die ander skrywers sý evangelie en kan dus met ’n groter oorsig terugkyk op die kruis- en opstandingsgebeure en sy lesers met dieper insigte bedien. Johannes is ook die enigste evangelie wat die verskyning van Jesus aan vyf van sy dissipels by die see van Galilea of Tiberias, soos dit in 21:1 genoem word, beskryf. In hierdie hoofstuk vind daar dus ’n klompie belangrike ontknoping van temas, wat reg deur die boek voorkom, plaas. Dit gaan dus in Johannes 21 om meer as net nog ’n verskyning van Jesus, maar hier is ’n baie sterk roeping- en versorging konneksie. In ons teks is Jesus, na die groot visvangs en ete, besig om met Petrus alleen te praat. Sy verloëning en gepaardgaande gevoel van mislukking en dat hy Jesus gefaal het, is deurgaans die agtergrond waarteen hierdie gesprek gelees moet word. ’n Stukkie nadenke en meditasie oor die die volgende klompie vrae kan daartoe bydrae dat ons die dieper betekenis van hierdie teks nie net verstaan nie, maar ook ervaar as Jesus se opsoekende liefde en teenwoordigheid  in my en jou lewe:

Wat verwag jy in die verhaal wat net nooit gebeur nie? Hoekom sonder Jesus vir Petrus uit en noem hom Simon? en voeg dan by: meer as hulle? Hoekom drie keer dieselfde vraag? Hoekom verander Jesus die vraag die derde keer (Griekse woord by eerste twee vrae is: Het jy my agape-lief – selfopofferend lief en by die laaste vraag: fileo – vriendskapsliefde)? Wat hoor ons in Petrus se reaksie? Wat hoor ons in Jesus se opdragte? Hoe kan Petrus Jesus volg as Jesus nie meer fisies op aarde is nie? Wat hoor ons in hierdie teks van volgelingskap?

Besprekingsvrae:

1.Hier gebeur twee goed in hierdie gedeelte: 1. In sy opsoekende liefde herstel Jesus Petrus se verhouding met Hom en 2. Jesus bevestig of herhaal sy roeping in die opdragte wat Hy gee. Wat bedoel ons as ons praat van ’n roeping of iemand leef met ‘n roepingsbewustheid? (Probeer eers self almal se gedagtes in die verband te kry. Vul dit aan indien nodig. ’n Roeping in sy eenvoudigste vorm kan beskryf word as om gekies te wees om ’n sekere taak of doel op ’n sekere manier vir iemand anders te doen. In die Bybel is dit God wat mense (profete, konings, priesters en dissipels of sy volk (kerk) roep/kies om namens Hom te leef met ’n sekere doel. Gewoonlik as jy met ’n roeping leef is jy nie net seker wat jou doel is nie, maar jy het ook vuur, energie en motivering om dit met aansteeklike entoesiasme (gesindheid) te doen. Om met ’n roeping te leef beteken dat jy met ’n vaste oortuiging lewe wanneer jy op pad is om jou doel te verwesenlik. Die manier waarop jy op pad is, is ook aansteeklik en passievol. Wanneer gelowiges met ’n roeping leef beteken dit dat hulle doelgerig in wat hulle sê en doen alles met oortuiging doen asof hulle dit vir die Here self doen.

2. Wat hoor ons in hierdie teks oor ons roeping vandag? (Gesels saam oor wat julle raaksien oor roeping. Ek gaan die 6 stellings wat ek in die diens Sondag gedeel het oor roeping hier neerskryf. Dit kom uit ‘n aanbieding wat ek jare terug by ’n predikante konferensie in Bloemfontein bygewoon het en is deur dr. Coenie Burger geformuleer: 1. Roeping is nie net iets wat eenkeer met ons gebeur nie, maar dis ’n lewenslange proses (Hierdie teks beskryf Petrus se tweede roeping); 2. Die pad waarop die Here ons roep, loop min vir ons gelyk en glad (dink aan Petrus se verloëning, Tomas se twyfel, ens.); 3. Die Here verwyt ons selde oor ons foute, maar spaar ons nie die vraag of ons Hom liefhet nie (nuwe roeping begin altyd weer met ‘n ontmoeting en ‘n versterking van ons verhouding 3x verloën – 3 x verbind hy homself weer aan Jesus.) 4. Roeping gaan altyd saam met ’n opdrag – soms algemeen en soms baie spesifiek (Jesus se opdrag het alles te doen met herderskap wat gebou is op opsoekende liefde vir onwaardige dissipels); 5. Die pad waarop die Here ons roep is gewoonlik ’n goeie pad, maar beteken nie dat dit ’n maklike pad is nie (“bring waar jy nie wil wees nie” Roeping hou jou vas in moeilike tye. Nitzche se aanhaling: Hy wat ‘n hoekom het om voor te lewe kan omtrent alle hindernisse en moeilikheid op sy pad oorkom); 6. Roeping beteken nie dat die Here ons stuur na plekke waar Hyself nie is nie (Jesus sê nie vir Petrus ek stuur jou nie, maar volg My – dit beteken Hy gaan voor ons uit).

3. Hoe kan ons as huismense prakties elke dag gestalte gee aan hierdie roeping? (Dink eers self bietjie oor hierdie beginsel. Dit begin van kleins af. Wanneer ouers leef met ‘n bewustheid dat hulle alles wat hulle doen, doen asof vir die Here, sal kinders van kleins af ook met hierdie bewustheid begin lewe. Dit beteken dat ouers gereeld vir hulle kinders moet sê hoekom hulle dinge doen wat hulle doen en hoekom hulle dinge op ‘n sekere manier doen soos wat hulle dit doen. Net ’n sinnetjie soos: ons is kinders van die Here, daarom doen ons dinge anders of Jesus vra of wys ons daarom doen ons dinge so. Dit is ook veral nodig dat ouers nie net voor hul huismense op ‘n sekere manier optree nie, maar voor almal dus konstant. Voorbeeld van ouers in hierdie opsig sluit in:

  • Om belangstellend te luister wanneer jou kind of huismense praat en altyd met ’n gesindheid van liefde te reageer;  
  • Om wat jy doen konstant te doen asof jy dit vir Jesus self doen;
  • Jesus se opsoekende liefde lê die grondslag vir ons gesindheid en die toon van ons stemtoon teenoor alle mense;
  • Deur wat vir God belangrik is, belangrik te maak in alles wat jy doen by die huis en waar ons ook al by die skool of by die werk is;
  • Om spesifiek God se opdrag om as sy gestuurde te lewe (dit wil sê mense te bevriend, opreg in hulle belang te stel, met hulle ’n verhouding te bou, hulle te dien, hulle uit te nooi om saam met ons op sy pad te stap en saam met ons deel te wees van sy geloofsfamilie – die kerk)  
  • Dit mag ook ’n spesifieke bediening of uitleef van ’n spesifieke gawe behels.

Wanneer ouers daarmee besig is en hulle kinders van jongs af saamneem en met hulle daaroor praat terwyl hulle dit doen, maak net dat roeping ‘n baie meer natuurlike ding sal wees en nie die uitsondering in die lewe nie. Ongelukkig mag dit vandag ook beteken dat ons kinders en onsself uitgestoot of uitgesluit mag word of selfs teenkanting mag beleef as gevolg van die uitleef van ons roeping. Ons moet onsself en ons kinders daarvoor voorberei, maar ook weet dat ’n groot rede hiervoor is dat mense nie graag iets ondersteun wat teen die stroom van ons tyd ingaan nie. Die meeste mense stoot of sluit ander uit omdat hulle ongemaklik en selfs skuldig of onseker oor hulleself voel. Selfs in sulke situasies moet ons onsself en ons kinders voorberei om nie met aggressie te reageer daarop nie, maar in kalmte en juis dan besef dat die Here by ons is om ons vas te hou wanneer dit vir ons swaar gaan (vgl. Stelling 5 hierbo).

 Roepingsbewustheid het dus baie te doen met ‘n daaglikse bewustheid dat ek vir die Here lewe, vir ’n groter doel lewe, met ’n duidelike visie lewe en daardie groter doel, visie is die koms van die koninkryk van God (In eenvoudige taal – die aanbreek van ’n manier van lewe soos die Here dit wil hê of hemel op aarde.)

Nog praktiese wenke:

  • Wanneer julle saans terugkyk op julle dag, dink saam oor waar julle met ‘n roepingsbewustheid gelewe het of waar het jy gesien dat iemand ander met so ’n gesindheid (onbaatsugtig) gelewe het;
  • Vertel vir mekaar hoe jy dit ervaar as iemand jou op so manier behandel asof jy die Here is;
  • Gesels gereeld met mekaar of julle nie dalk vandag iets gesien het wat die Here op jou hart gedruk het om dalk as huis of op jou eie as “projek” aan te neem en daardeur ’n verskil te maak in God se koninkryk. Dit kan iets wees-.soos jou eie toebroodjie-projek of jou glimlag projek of jou hulpverlening-aan-oumense-projek of wat ook al;
  • Miskien kan julle mekaar gereeld aanmoedig om ’n spesifieke dag bewustelik te leef, te stap, te praat met mense wat jou pad kruis en elkeen te behandel asof hulle Jesus self is.
  • Praat oor gereeld hoe om te maak wanneer iemand ons uitstoot, uitsluit of teengaan as gevolg van die uitleef van ons roeping.

 4. Sluit julle gesprek rondom die Bybel met gebed af. Deel elke dag met mekaar julle hoogte- en laagte punte en bid saam vir mekaar se hoogte- en laagte punte. Julle kan vandag bid dat die Here julle sal help om met ’n roepingsbewustheid te lewe. As julle betrokke is/raak by ‘n bediening, bid dan gereeld dat die Here jou/julle sal help om daar met ‘n roepingsbewustheid te lewe. Bid ook vir moed en krag om vas te staan wanneer ons uitgestoot, uitgesluit of teengegaan word in die uitleef van ons roeping.

Week 11: Sondag-25 Maart-se-3-Kruis-Huiskonneksie

3-Kruis Huiskonneksie’

(Sondag 25 Maart 2018)

Ons staan op die drumpel van Paasfees. Ek wil jou en jou gesin uitnooi om hierdie Paasnaweek, ten minste een van die dae, ’n tydjie te spandeer aan een of meer van die volgende:

  • Lees by die huis deur die Paasverhaal;
  • Stap deur ons Paasuitstalling: Elke dag van die week kan jy 8:00 – 13:00 en Donderdag rondom die aand-nagmaal en Vrydag rondom die Kruiskoppie-ervaring deur die Paasuitstalling stap (daar is ook ’n spesiale geskenkie by elke stasie vir elke kind en by die eindpunt);
  • Kom deel in die kruiskoppie-ervaring: Vrydagaand, 30 Mrt. om 18:00 en Sondagoggend, 1 April om 6:00 doen ons die kruiskoppie-ervaring;
  • Jy kan ook op die volgende skakel klik of na die skakel op die internet gaan [dit sal vir veral kleuters en kinders  spesiaal wees]: http://www.moederkerk.co.za/wp-content/uploads/2012/01/Paasfees-Gesinsaktiwiteite.pdf:  

Teksgedeelte: Lees Johannes 12 : 20 – 28

Net na Jesus se intog in Jerusalem, waar Hy op ’n donkie gery en die vreugdevolle skare met palmtakke Hom ontvang en hul klere op die grond gegooi het, volg ons teks waarby ons Sondag stilgestaan het. Vir die verstaan van ons teks is dit belangrik om te onthou dat die intog in Jerusalem vir Johannes die toppunt van Jesus se gewildheid na Lasarus se opwekking was. Die intog-verhaal wil verder ook die mense se verwagting dat Jesus die Messias is wat nou tot koning “gekroon” gaan word, wil uit druk. Dit is juis na aanleiding van hierdie groeiende gewildheid en verwagting dat die versoek van die Grieke gekom het om Jesus te sien. Op die oog af lyk dit of Jesus die versoek van die Grieke ignoreer, maar as mens na die geheel van die gedeelte kyk, is Jesus juis besig om daarop te reageer. Hy maak net hulle oog oop vir die groter prentjie wat besig is om af te speel.  Dit is ook duidelik dat Johannes Jesus se woorde gebruik om juis ’n skerp kontras te skep tussen twee style van navolging. Die Grieke se versoek was vir Jesus ook ’n duidelike teken dat sy lydingspad nou begin het. Die beeld van die koringkorrel wat eers moet sterf voordat dit ’n oes voortbring is ‘n sleutel om beide sy komende lyding wat uitloop op sy kruisdood en navolging of dissipelskap te interpreteer. Hierdie optrede van Jesus vorm deel van die heel laaste onderrig wat Jesus in die openbaar gedoen het. Hierna het hy slegs met sy dissipels in die privaat gepraat.

  1. Wat wil Jesus vir die mense om Hom, sy dissipels en ons duidelik maak met die beeld van die koringkorrel, ’n paar dae voor sy kruisiging? (Dink eers bietjie self, want die beeld is eintlik baie eenvoudig. Jesus wil, met ’n ander klem as die ander evangelies, die bedoeling en betekenis van  die kruisiging, wat binne dae gaan gebeur, duidelik maak, nog voordat dit gebeur, sodat sy volgelinge nie sonder hoop gelaat word na sy dood nie. Hy praat ook van sy verheerliking, maar kontrasteer dit met die manier waarop die skare Hom wou verheerlik met die intog in Jerusalem. Sy verheerliking sal deur ’n kruispad en sy dood gebeur (saad wat sterf), maar veral deur die vrug van die kruis in sy opstanding, hemelvaart en uitstorting van die Heilige Gees en deur die lewens van sy volgelinge. Soos wat ’n saadjie geplant word, eers moet doodgaan [van gedaante verander], voordat dit ’n plant kan word wat uiteindelik ’n klompie are [’n hele oes] produseer, so moet Jesus eers doodgaan, voordat die vrug van sy koms na die aarde sigbaar kan word. Die vrug van sy koms is die opstanding en nuwe lewe, hemelvaart en uitstorting van die Heilige Gees. Uiteindelik is die vrug van sy kruisdood dat mense (Jode, Grieke en mense van alles tale) sal glo en die nuwe lewe sal begin ervaar.)  
  2. Jesus pas die beeld van die koringkorrel ook toe op navolging of dissipelskap. Waartoe daag hierdie toepassing ons vandag uit? (Dink eers bietjie op jou/ julle eie. Jesus se dood is soos ’n saadjie wat in ons almal geplant is. Wanneer ons in Hom glo begin die Heilige Gees ’n proses van groei en verandering (transformasie) in ons wat ’n vrug of oes sal oplewer. Christus se saadjie in ons (geloof in die boodskap van die kruis en die opstanding), maak dus nou weer van ons saad. Volgelinge van Jesus is nou weer op hulle beurt soos koringkorrels. Wanneer Jesus hierdie beeld op sy dissipels en volgelinge van toepassing maak, dan kontrasteer Hy dit met ’n selfsugtige houding wat net op hul eie verwagtings, -belange en -voordeel gerig is, soos wat gedemonstreer is tydens die intog in Jerusalem. Dit noem Hy selfvernietiging (die woord ‘verloor’ in vers 25). Die beeld van die koringkorrel daag ons dus uit om te sterf na ons eie belange, selfsugtige behoeftes en egosentriese lewens (dit dood te maak in ons lewens). Wanneer ons sterf sal die Heilige Gees ons lewens so verander, dat ’n nuwe mens in ons lewens sal opstaan wat vrug sal dra en ’n oes sal inbring: dan sal ons in ons lewens ander mense se nood, gebrokenheid, belange en behoeftes begin raaksien, daardeur geraak word en daarvoor opstaan; dan sal ons selfopofferend begin optree om ander mense ook te help om die volheid van die lewe te begin ervaar, soos wat Jesus ons gewys het; dan sal ons seuns en dogters van die lig wees, soos wat vers 36 letterlik sê.)
  3. Hoe kan ons as huismense prakties elke dag gestalte gee aan hierdie koringkorrel beginsel? (Dink eers self bietjie oor hierdie beginsel. Dit begin van kleins af. Alle kinders word met ’n stukkie selfsug gebore. Iets daarvan is heeltemal natuurlik en belangrik vir hulle ontwikkeling. Wanneer hulle kleuters is, kom selfsug soms natuurlik en kan hulle selfs geniepsig wees as hulle goed gevat word. In hierdie fase is ouers se voorbeeld van onselfsugtigheid – nie net in hulle optrede teenoor hul eie kinders nie, maar ook en veral mense buite hulle gesin – baie belangrik. Hierdie is nie ekstra werk vir ouers nie, dis deel van ons normale lewe. Voorbeeld van ouers sluit in:
  • bel iemand in die familie of gemeente wat siek is om te hoor hoe dit gaan en om hulle te bemoedig,
  • praat gereeld met vriende of kinders se maats by die skool se ouers en hoor net hoe dit met hulle gaan.
  • Bel mense wat naby aan julle is wanneer hulle verjaar en wens hulle geluk (nie net op face book wanneer jou kinders dit nie sien nie),
  • stap oor die straat en maak kennis met bure en bemoedig hulle,
  • stap na mede lidmate toe by die kerk en hoor hoe dit met hulle gaan, ens. ens.

 Ons moet weet dat ons individualistiese en tegnologiese wêreld die teelaarde is vir selfsugtige, egosentriese en gemaksugtige leefstyle. Die ou manier van kontak maak was nie maar net ’n tradisie nie, maar is gebore uit ‘n diepe oortuiging dat kontak met ander belangrik is en deel is van ons Christelike roeping. Uit hierdie kontak ontwikkel ’n stuk nederigheid en diensbaarheid.

  • Wanneer julle saans terugkyk op julle dag, is dit belangrik om te dink of daar in die afgelope dag momente was waar jy selfsugtig was, waar jy ander mense op jou pad se behoeftes raakgesien het.
  • Dit is ook belangrik om saam met jou kind of op jou eie jouself bietjie in mense se skoene in te dink. Ons is so geneig om net krities teenoor mense se optrede en gedrag te wees.
  • Dit is belangrik om sommer “randomly” wanneer jy iemand op jou lewenspad sien, jouself so bietjie in hulle storie in te dink. Dink dan ook veral aan watter houding dan toepaslik is vir enige interaksie en gaan dalk die volgende dag terug na daardie persoon met hierdie houding. Al praat jy net met die persoon en vra uit oor hulle lewens. Jy kan ook na die volgende skakel gaan om te sien hoe jy jou kind kan leer om as nederige mens groot te word: https://www.jw.org/af/publikasies/tydskrifte/ontwaak-nr6-2017-desember/leer-jou-kind-om-nederig-te-wees.

4. Sluit julle gesprek rondom die Bybel met gebed af. Deel elke dag met mekaar julle hoogte- en laagte punte en bid saam vir mekaar se hoogte- en laagte punte. Van vandag af kan julle ook bid vir dié mense wie julle kon help of die mense wie se behoefte julle raakgesien het by die skool, werk, studieplek of sommer net langs jou op die lewenspad. Bid ook dat die Here hierdie persone sal help.

 

Week 10: Sondag-18 Maart-se-3-Kruis-Huiskonneksie

3-Kruis Huiskonneksie’

(Sondag 18 Maart 2018)

Alhoewel ons nie afgelope Sondag by onderstaande teks stilgestaan het by die oggenddiens nie (daar is wel by die aanddiens en daar gaan komende Sondag by die Junior Kategese by onderstaande teks stilgestaan word) vra ek dat julle onderstaande teksgedeelte lees en die volgende vrae bespreek (julle kan elke dag een vraag bespreek of van die vrae kies wat julle as gesin/huismense met mekaar gaan bespreek).

Teksgedeelte: Lees Filippense 2 : 5 – 11

Ons is besig om dieper te kyk na wat ons glo wanneer ons die 12 artikels of geloofsbelydenis saam met gelowiges regoor die wêreld bely. Hierdie week staan ons stil by die derde artikel: “Ek glo in Jesus Christus…. (3) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is”. Ons dink juis elke jaar hierdie tyd (rondom Paasfees) aan Jesus se kruisiging en opstanding en die rede daarvoor is dat ons die kern van Jesus se koms na die aarde vier en opnuut omarm. Hierdie kruis en opstanding van Jesus is nie, maar net ’n belydenis waaraan ons vashou nie, maar ook ’n appèl op ons lewens. Ons fokus vandag vanuit ons teksgedeelte op Jesus se lyding. In Filippense is Paulus besig om die gemeente in Filippi op te roep tot drie dinge: om te volhard (1:27-2-18); om eensgesind te wees (2:1-11); en om as verloste mense te lewe (2:12-18). In ons teksgedeelte gee hy dan riglyne oor hoe om die eenheid in ’n diverse gemeente en gemeenskap, te bewerk. Selfgesentreerdheid en ‘n selfsugtig lewe om net op eie behoeftes ingestel te wees, is die hoofrede vir verdeeldheid. Wanneer hulle egter Christus se voorbeeld volg en selfopofferend en nederig ingestel is op die lewe, is die resultaat ’n gesindheid van toegeneentheid en eenheid. Dan haal Paulus ’n lied aan (vers 5-11) om te wys hoe Christus presies dít vir ons gedoen het. Hierdie self prysgawe ter wille van ander was die kern van Jesus se lyding. Wie bely dat Jesus gely het, dink nie net aan Jesus se emosionele pyn en swaarkry nie, maar veral aan sy self prysgawe en neem dan juis hierdie gesindheid as leefstyl op. Net nog een gedagtes: Die ‘beloning’ vir hiérdie self prysgawe is nie geleë in die reaksie van die mense nie, maar in God se reaksie: Hy verhef Hom tot die hoogste eer.  

1. Waarna verwys Paulus na jou mening wanneer hy die gemeente oproep om met Jesus se gesindheid te lewe? (Dink eers bietjie self hoe jy hierdie gesindheid sal omskryf. Vers 6 gee vir ons die sleutel tot Jesus se gesindheid: Jesus was nederig want Hy was gewillig om sy regte prys te gee om God te gehoorsaam en mense te dien. Ons mense probeer vandag dikwels ons selfsug verdoesel deur op ons ‘regte’ te staan. Jesus het nie net sy goddelikheid prysgegee nie, maar sy deelhê aan die heerlikheid en mag.  Dit is hierdie gesindheid van Jesus om sy regte prys te gee ter wille van ander (my en jou) waartoe God Hom geroep het. Dien – selfs al kry jy geen erkenning daarvoor nie. Dien, nie omdat jy skuldig voel of bang is nie, maar omdat jy God lief het. 

2. Kyk of julle die “trappe van vernedering” en die “trappe van verhoging” in hierdie teks kan raaksien. Wat wil die skrywer na jou oordeel met die aanhaling van hierdie lied bereik? ( Trappe van vernedering: God word mens; Jesus word nie net mens nie, maar slaaf [dien almal]; Jesus moet doodgaan. Trappe van verhoging: Jesus kry ’n Naam bo ander name; Jesus word Koning van alle konings voor wie elke knie sal buig; Jesus kry sy ere posisie as God terug. Hierdie lied is nie maar net ’n beskrywing van iets daar vêr nie, maar ‘n poging om elke leser in beweging te bring en saam te neem op Jesus se pad van diensbaarheid. 

3. Hoe kan ons as huismense prakties elke dag gestalte gee aan hierdie gesindheid van diensbaarheid van Jesus? (Deel eers julle eie gedagtes. Ouers – julle moet hier die leiding neem. Jou kind gaan nie net een oggend wakker word met hierdie gesindheid nie. Dit is iets wat julle vir julle kinders moet voor leef. As jy nie so ’n voorbeeld gehad het nie gaan dit ook nie maklik kom nie en sal jy ’n daadwerklike besluit moet neem om dit deel van jou eie lewe te maak. Gebruik sommer hierdie geleentheid om hierdie gesindheid saam  met jou kinders aan te kweek. Gebruik onderstaande om saam te groei.

 

  • Ek dink hier moet ons dalk begin deur mekaar gereeld te herinner wat die gesindheid van Jesus beteken en dan selfs ’n herinnerings tekentjie in die huis neersit op ’n prominente plek of teen die yskas wat ons help om nie selfsugtig/ selfgesentreerd/ net op eie behoeftes of regte ingestel te wees nie, maar ander te dien met ’n selfopofferende gesindheid.
  • Dan kan ons gereeld saans terugkyk op ons dag en vir mekaar vertel waar ons gedurende die dag moes kies tussen selfsugtig-wees en diensbaar-wees.
  • Die volgende stap is om mekaar aan te moedig om hierdie gesindheid in dade om te sit deur dinge vir ander mense te doen. Om dit te doen, moet ons eers ander se behoeftes raaksien en dit registreer. Begin deur net te oefen en raak te sien waar ons ander mense kan help deur klein dade van omgee deur die lewe vir ander makliker te maak sonder dat hulle daarna vra. Kyk elke dag ook terug waar ons behoeftes raakgesien het en hoe ons ander toe gehelp het. Help ook mekaar om dinge te doen nie net ter wille van ‘n belonging of erkenning nie. Hierdie teks het mos gesê dat God Jesus “beloon” het deur Hom te verhoog.
  • Wanneer hierdie manier van kyk in die lewe ‘n gesindheid in ons lewens word, sal die Here ons oog oopmaak vir groter dinge op ons lewenspad.

4. Sluit julle gesprek rondom die Bybel elke dag saam met gebed af. Deel elke dag met mekaar julle hoogte- en laagte punte en bid saam vir mekaar se hoogte- en laagte punte. Van vandag af kan julle ook bid vir dié mense wie julle kon help of die mense wie se behoefte julle raakgesien het by die skool, werk, studieplek of sommer net langs jou op die lewenspad. Bid ook dat die Here hierdie persone sal help.

 

Week 9: Sondag-11 Maart-se-3-Kruis-Huiskonneksie

3-Kruis Huiskonneksie’

(Sondag 11 Maart 2018)

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae (julle kan elke dag een vraag bespreek of van die vrae kies wat julle as gesin/huismense met mekaar gaan bespreek.

Teksgedeelte: Lees Johannes 1:14 & 3:16

Twee weke gelede het ons met die eerste artikel van die 12 artikels of geloofsbelydenis begin: “Ek glo in God, die Vader, die Almagtige, Skepper van die Hemel en die aarde.” Hierdie week fokus ons op die tweede artikel of deel: “Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, wat gebore is uit die maagd Maria.” Johannes 3:16 is seker een van die heel bekendste tekste in die hele Bybel. Dit kan so maklik gebeur dat ons die betekenis hiervan heeltemal miskyk. Jesus het by ons kom woon volgens Joh. 1:14 (letterlik staan daar tent opslaan). Die tabernakel-tent en later die tempel was die plekke waar mense die naaste aan God kon kom. Johannes sê in hierdie tekste vir ons dat Jesus God naby ons geword het. Hy het God se hart vir ons kom wys. Hy het God se visie kom uitleef en daardeur ons kom oproep om hierdie visie uit sy hand te ontvang en ook self uit te leef. As ek dus sê: “Ek glo in Jesus Christus…”  sê ek daarmee dat ek nie net glo dat daar iemand soos Jesus Christus was nie, maar ook dat ek glo dat Hy van sy Vader af kom, dat Hy self ook God is, dat Hy sy Vader se hart vir ons kom wys het en dat ek sy visie vir die wêreld omarm en uitleef elke dag.  

  1. Wat was die doel van Jesus se koms na die aarde gewees? (Mens kan hier ‘n baie lang antwoord gee, maar Joh. 3:16 help ons om hierop te antwoord. Miskien is die probleem dat ons die Ewige Lewe iets gaan maak het wat dit nie wil wees nie. Ons kan dus sêdat Jesus na die aarde toe gekom het sodat elkeen wat in Hom glo die Ewige lewe kan hê. Hy het gekom om vir ons die nuwe lewe te gee. Die woord lewe in Johannes is gevul met ‘n baie ryk betekenis. ‘n Nuwe manier of uitkyk op die lewe, ‘n vervullende lewe, ‘n lewe wat gevul is met sin en betekenis, ‘n lewe wat gevul is met God se liefde. Jesus het dus gekom sodat elkeen wat van-bo-gebore word (God se hart en God se uitkyk op die lewe deur sy Gees ontvang), dus in Hom glo die ewige (goddelike) lewe kan hê. Natuurlik begin hierdie lewe wanneer ons glo en hou aan tot na ons dood.
  2. Jesus was volledig mens, maar Hy was ook volledig God. Noem bietjie die redes hoekom ons kan sê dat Jesus volledig mens is, Noem ook die redes hoekom ons kan sê dat Hy volledig God is. (Die Bybel sê dat Jesus mens en God is. Hy het ‘n klomp menselike eienskappe gehad. Dink bietjie na watter eienskappe jy van weet. Dink ook na oor die Goddelike eienskappe waarvan jy weet. Menslike eienskappe: Hy is gebore uit ‘n vrou, Hy het moeg en honger geword, Hy het seergekry en gesterf ens. Goddelike eienskappe: Hy het wondertekens gedoen, Hy het mense hulle sondes vergewe, Hy het uit die dood opgestaan, Hy het geweet wat mense dink ens.)
  3. Wat is die implikasie vir my lewe en my optrede teenoor ander wanneer ek bely dat ek glo in Jesus Christus….? (Natuurlik kan hier ongelooflik baie dinge gesê word. Ek kan lewe met dié wete dat hierdie Jesus in wie ek glo, deur sy Gees teenwoordig is in my lewe. Verder beteken dit ook dat God se visie deel moet word van my lewe; God se hart deel moet word van my hart; God se liefde meer en meer deel moet word van my lewe; Hy verstaan my menslikheid en het volledig deernis en meelewing omdat Hy self ook volledig mens was. Tog kan ek sy teenwoordiheid opsoek, my hart met Hom deel en my seerkry en nood in sy hande sit, want Hy is ook volledig God. Natuurlik het my belydenis implikasies oor hoe ek optree teenoor ander mense en teenoor die skepping. In my gesprekke met ander, in my houding teenoor ander, in my optrede teenoor ander gaan ek iets reflekteer van God se hart en visie wat Jesus kom wys het. Ek sal dus meer “mindful” bewustelik moet begin lewe.
  4. Sluit julle gesprek rondom die Bybel elke dag saam met gebed af. Deel elke dag met mekaar julle hoogte- en laagte punte en bid saam vir mekaar se hoogte- en laagte punte.

Week 8: Sondag-4 Maart-se-3-Kruis-Huiskonneksie

3-Kruis Huiskonneksie’

(Sondag 4 Maart 2018)

Lees die onderstaande teksgedeelte en bespreek die vrae (julle kan elke dag een vraag bespreek of van die vrae kies wat julle as gesin/huismense met mekaar gaan bespreek.

Teksgedeelte: Lees Matteus 13:31–33

Hierdie is een van ‘n hele paar gelykenisse wat Jesus vertel het om vir sy dissipels en ons te help verstaan hoe ‘n lewe lyk van iemand (en ‘n groep) wat in ‘n verhouding met Jesus lewe. Elke gelykenis wil vanuit ‘n ander hoek iets duideliker maak van hoe die lewe lyk van mense wat in God glo. Wanneer Jesus hieroor praat gebruik Hy telkens die begrip ‘koninkryk’. Jesus probeer vir sy dissipels verduidelik dat mense wat in God glo se lewe anders is – God het en is steeds besig om dit anders te maak (herskep). Dit is asof so iemand verhuis het uit hul eie land na ‘n ander land (God se land). Hierdie land het nie geografiese grense nie, maar sluit alle mense van alle lande en tale in wat in Jesus glo. Hulle leef nie meer onder die heerskappy van hulle koning (president) nie, maar onder God se koninskap. In hierdie land is en gebeur dinge anders.  Die mense van die koninkryk is uitkenbaar aan die eienskappe wat in hulle lewens sigbaar is. Om te beskryf wat anders is, gebruik Jesus in die stories (gelykenisse wat Hy vertel) telkens voorbeelde uit hulle alledaagse lewe om iets te verduidelik van hoe dit in die koninkryk is. In die gelykenisse van die mosterdsaadjie en die suurdeeg wil Jesus spesifiek praat oor die groeipotensiaal en die transformerende krag wat in die koninkryk aan die werk is.  Hoe luister mens na hierdie en ander gelykenisse? Jy volg die storielyn, probeer die intrige te snap, die ontknoping te begryp en raak te sien hoe dit jouself raak, jou lewe verander, jou waardes, drome, vrese, ideale, oortuigings, alles, in ‘n nuwe lig stel, jou anders laat dink oor sake, jou ‘n nuwe wêreld laat sien, God se wêreld en God se werklikheid.

  1. Hoe help die gelykenis van die mosterdsaad gelowiges vandag….
  • as ons dink aan tye en plekke waar gelowiges in die minderheid is by die skool of ons werk of tussen vriende?  
  • as ons oorweldig word deur die uitdagings wat voor ons staan as ons ‘n koninkryksdroom najaag?

(Al lyk dit of die koninkryk bestaan uit ‘n klein groepie mense (dink aan die 12 dissipels wat ná Jesus se kruis-dood uit vrees vir die Jode en die Romeinse owerheid hulleself in die bovertrek toegesluit het) en al lyk dit of die klein groepie nie regtig enige verskil kan maak in die samelewing nie, vergelyk Jesus die koninkryk (hierdie groepie mense) met ‘n mosterdsaadjie wat baie klein is, maar ‘n groot struik-boom word. Die koninkryk van die Here begin klein, maar niemand weet waar dit gaan eindig nie. Wanneer ons in gehoorsaamheid aan God anders lewe, mag ons dikwels oorweldig word wanneer ons in die minderheid is en mag ons selfs in die versoeking kom om op te hou om te glo. Dit is dan wat hierdie gelykenis wil sê: net soos die klein saadjie wat in die grond val nie dadelik in ‘n groot boom verander nie, is my en jou geloof ook maar ‘n saadjie wat aanvanklik lyk of daar niks gebeur nie, maar God laat dit groei. Wat ons egter moet motiveer is die uitkoms van God se koninkryksdroom: wanneer die koninkryksdroom waar word, word die koninkryk ‘n ruimte waar mense, soos die voëls in die boom van die gelykenis, kan ‘kos’, skuiling en heeling kry.

In hierdie gelykenis sê Jesus dus vir sy dissipels en vir my en jou:

  • Dat God in elke gelowige ‘n klein saadjie van geloof plant om te groei;
  • Dat elkeen van ons God se mosterdsaadjies is waarmee Hy die wêreld wil verander!
  • Dat elkeen van ons in gehoorsaamheid aan God anders moet leef, ander mense dien en getuig waar ons ook al kom;
  • Daar mag niks wees wat jou moed breek om God se droom in jou vir hierdie wêreld waar te maak nie.)
  1. Die koninkryk het ‘n transformerende krag, wat alles verander, soos suurdeeg die broodmengsel verander. Sonder suurdeeg is die brood plat en hard. Met suurdeeg is die hele brood mooi gevorm en sag. Hoe werk hierdie transformerende krag van die koninkryk in gelowiges se lewens prakties?

(Verandering in die lewe begin in die lewe van ‘n enkele persoon. Die suurdeeg van geloof het ‘n veranderende uitwerking in elke fasset van ‘n gelowige se lewe. Wanneer ‘n individu dan begin leef met ‘n koninkryksdroom, dan werk dit ook soos suurdeeg: dit het ‘n transformerende uitwerking in ander se lewens ook. Gelowiges word, soos die suurdeeg in die meel, in die wêreld “ingemeng”. God gebruik gelowiges se lewens om sy koninkryksdroom te laat groei in mense se lewens.

  1. Ons het in die erediens daaroor gepraat dat geloofsgesprekke (enige gesprek, formeel of spontaan informeel, wat oor God, wat Hy vir ons beteken, waar ons Hom gesien werk het en oor geloof handel) in ons huise ook soos ‘n mosterdsaadjie en suurdeeg werk. Dit is iets kleins en begin klein, maar dit het ‘n enorme en trasformerende invloed in ons almal se lewens.Tog sê statistieke dat in Suid Afrika, slegs 43% van ons huise gereelde geloofsgesprekke voer. Hoe kan julle in julle huis seker maak dat sulke gesprekke wel gereeld plaasvind? (Sulke gesprekke voel soms vir mense geforseerd veral as ouers nie in hulle huise grootgeword het waar sulke gesprekke natuurlik gevloei het uit alledaagse gesprekke nie. As dit nie reeds deel van julle daaglikse lewe is nie, begin dit dan dalk meer formeel bv. elke Sondag middag praat ons saam oor dit wat ons in die erediens gehoor het of elke aand nadat ons gelees het praat ons oor wat die teks vir ons lewe te sê het. Wanneer ons hoogte en laagtepunte van ons dag met mekaar deel, kan ons bv. vra hoe was God teenwoordig in dit wat gebeur het? Dit is soms ook belangrik om in ons gewone gesprekke net ons dank, geraaktheid of ons belewenis van die Here se teenwoordigheid of selfs afwesigheid met mekaar te deel. Om die alledaagse deel te maak van ons gebed, help ons ook om ons geloof deel te maak van ons hele lewe. Geloofsgesprekke help ons dikwels om saam ‘n groter waarheid te ontdek wat nooit na vore sou kom as ons dit nie met mekaar bespreek of gedeel het nie.)
  2. Sluit julle gesprek rondom die Bybel elke dag saam met gebed af. Deel elke dag met mekaar julle hoogte- en laagte punte en bid saam vir mekaar se hoogte- en laagte punte.

Week 7: Sondag 25 Februarie se 3-Kruis-Huiskonneksie

Week 6: Sondag 18 Februarie se 3-Kruis Huiskonneksie

Week 5: Sondag 11 Februarie se 3-Kruis Huiskonneksie

Week 4: Sondag 4 Februarie se 3-Kruis Huiskonneksie

Week 3: Sondag 28 Januarie se 3-Kruis Huiskonneksie

Week 2: Sondag 21 Januarie se 3-Kruis Huiskonneksie

Week 1: Sondag 14 Januarie se 3-Kruis Huiskonneksie