TIENDEMAAND GELOOFSOFFER
Klik op die volgende skakel om die brief af te laai: Tiendemaand brief 2025
Tiendemaand Geloofsofferprojek 2025 –
’n Uitnodiging tot Hoop en Deelname
Liewe broer en suster in die Here,
Met dankbare harte kyk ons terug op ’n jaar waarin die Here ons gemeente met genade en trou gedra het. Op 6 September het ons ons 38ste bestaansjaar gevier – ’n getuienis van God se hand oor ons, deurdrenk met sy genade, voorsiening en versorging te midde van ongelooflike veranderinge wat in ons land en ons gemeenskap plaasgevind het en steeds plaasvind. Nie net was ons gemeente ‘n baken van hoop in hierdie tyd nie, maar ook ‘n ruimte waar mense kon tuiskom, kon behoort, geloofsgemeenskap kon ervaar en bemagtig kon word. Die Here is steeds besig om ons verder op hierdie pad te begelei om so sy koninkryk in, met en deur die NG Gemeente The Reeds uit te brei. Dankie dat julle steeds lojaal deel is van hierdie geloofsgemeenskap wat ’n veilige hawe van nuwe hoop wil wees – vir mekaar en vir ons breër gemeenskap.
Ons Geloofsofferprojek – Tiendemaand 2025. Ons nooi jou uit om deel te neem aan ons spesiale geloofsofferprojek met die doel om R175 000 in te samel teen einde Februarie 2026. Hierdie bedrag is addisioneel tot jou maandelikse bydrae, en sal ons help om ons roeping as gemeente voluit te leef – om ’n plek van genesing, groei en diens te wees.
Finansiële Oorsig – ’n Realistiese Prentjie. Ons oorskot vir die finansiële jaar wat in Februarie 2025 geëindig het, was R 176 677 – ’n merkwaardige verbetering teenoor die tekort van R 27 539 die vorige jaar (2024). Ons mot ook eerlik en deursigtig wees:
- R 80 000 hiervan is rentevrye lenings van lidmate, wat tegnies van die oorskot moet afgetrek word.
- R 43 125 is ’n afskrywing van die helfte van ‘n sinodale lening (R90 000), wat tegnies as inkomste gereken is.
- R18 723 is doelspesifieke fondse (word hanteer soos trustfondse) wat nie vir gemeentegebruik beskikbaar is nie.
Na hierdie aanpassings bly ’n werklike oorskot van R 34 829 vir die 2025 fiansiële boekjaar oor. Ons verband het aan die begin van hierdie finansiële jaar (1 Maart 2025) op R 245 248 (tans R 239 838), en ons uitstaande bedrag by SARS (die voortslepende despuut is nog nie afgehandel nie ) op R 65 219 (tans R 49 342) gestaan. Dit is ook belangrik om die jaar-tot-op-datum syfers ook in hierdie prentjie in te bring. Einde Julie 2025 was ons tekort R 44 801. Ons is dankbaar om te sê dat Augustus ‘n beter maand was, maar ons het ongelukkig nog nie finale syfers nie. In al hierdie syfers is dit duidelik dat die Here vir ons in sy hand vashou.
Waarom hierdie Geloofsoffer saak maak. Ons wil nie net skuld verminder nie – ons wil toekoms bou. Hierdie geloofsoffer is ’n manier om saam te sê: “Ons glo in die roeping van ons gemeente. Ons wil ’n verskil maak.” Jou bydrae sal ons help met:
- Sinodale verantwoordelikheid o.a. ten opsigte van kinderhuise en ouetehuis;
- Ringsverantwoordelikheid o,a. ten opsigte van CMR Valhalla en bejaardesorg;
- Fondse en middele om ’n plek van hoop te wees vir mense in fisiese nood;
- Ons lening paaiement tot Februarie 2026;
- Opgradering van die luidsprekers in die 3-Kruis Vaderhuis;
- Digitale klawerbord vir die sang;
- Ons fasiliteite te onderhou en te verbeter soos bv. die badkamers in Augustus (bv. die facia-borde van die 3-Kruis Vaderhuis moet herstel word).
Hoe jy kan deelneem. Ons vra dat jy in gebed sal oorweeg wat jy bo en behalwe jou gewone bydrae kan gee. Elke bydrae – groot of klein – is ’n saadjie van geloof. Jy kan jou geloofsoffer op die gewone maniere in ons rekening inbetaal (NG Gemeente The Reeds, ABSA 2890 590 406, takkode 630 445)
of in ‘n koevertjie in die erediensdankoffersakkie gooi, met die verwysing “Geloofsoffer 2025”.
Mag die Here ons lei in hierdie seisoen van gee, en mag ons saam bou aan ’n toekoms gevul met hoop, genesing en genade.
Groete in Christus,
Ds. Johan Avenant
Namens die kerkraad van NG The Reeds

